Web van wanbestuur, korrupsie bedreig ANC

ANC-verkiesingsplakkaat

Argieffoto.

Vraag: Wat doen ’n beweging – veral een wat homself verabsoluteer – as dinge skeefloop?

Antwoord: Hy skep ’n krisis waarin hy allerlei duister, sinister kragte die skuld kan gee. Dit gee hom die geleentheid om (a) die aandag van sy eie foute af te lei, en (b) om lastige andersdenkendes te neutraliseer.

Die nuus oor “Projek Spinnerak” sou lagwekkend gewees het as dit nie so gevaarlik was nie, want dié skepping van elemente in die ANC het duidelike historiese parallelle uit die laat-70’s en vroeë-80’s van die vorige eeu, toe die struggle ’n kritieke fase binnegegaan het.

Luidens berigte stel David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, tans ondersoek in na ’n sogenaamde intelligensieverslag waarin taamlik drastiese bewerings gemaak word. Luidens berigte beweer die verslag – wat talle taal- en spelfoute bevat – dat die “wit gevestigde orde” vroeg in die 1990’s besluit het om ’n projek (kodenaam “Spinnerak”) van stapel te stuur om die wit establishment se beheer oor die land se fiskale en monetêre beleid voort te sit.

Die projek is glo deur die families Rupert, Oppenheimer en Rothschild gefinansier. En oudmin. Trevor Manuel en sy vrou, die bankier Maria Ramos, was na bewering sleutelfigure in dié duister komplot. Daarby was Andrew Donaldson, adjunk-direkteur-generaal van finansies, ’n “apartheidspioen”.

Die verslag is só belaglik dat ’n mens amper oor die grond wil rol van die lag. Die gebrekkige taalgebruik dui ook op ’n slegte vervalsing.

Dis nie heeltemal duidelik presies waarom Mahlobo ondersoek hierna instel nie. Is die doel om die opstellers aan die kaak te stel? Of om hul bewerings juis geloofwaardigheid te gee?

Baie sal afhang van wie ágter die verslag sit. Maar wat ook al die geval is, dis wel duidelik dat dit deel van ’n klipharde magspel is waarin baie figuurlike bloed kan vloei en heelparty mense se koppe kan waai.

Dis ook toevallig – of ís dit? – dat die departement van finansies, wat in den brede nog as een van die min eerlike en doeltreffende staatsdepartemente bekend staan, in die sentrum sal wees van reuse-kontrakte. Onder hulle is die aankoop van kernkragreaktors, waarskynlik van Rusland, asook kontrakte rakende Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Miljarde der miljarde is hierby betrokke. As ’n mens die geskiedenis van die ANC se korrupsie bekyk, beginnende by die wapenskandaal in die laat-1990’s, verg dit geen besondere intelligensie om in te sien dat groot bedrae “smeerolie” hier betrokke kan wees nie. En dié “verslag” kan help om die departement van finansies as potensiële struikelblok te neutraliseer.

Terug by die ANC-geskiedenis in die struggle-tyd: Dit is naamlik nie die eerste keer dat smeertaktiek soos dié toegepas word nie.

In die laat 1970’s is die ANC verskrik deur “onthullings” dat die beweging deur apartheidspioene gerysmier is. Ondersoek is ingestel, en op grond van die getuienis van ontmaskerde spioene (let wel, nadat hulle gemartel is) is in ’n omvattende dokument, bekend as die Shishita-verslag, alarm geslaan oor dié dodelike bedreiging.

In die verslag staan onder meer die volgende paragraaf: “In the area of our investigation, it is clear that there was, in fact, a campaign promoted by enemy agents, within and outside our ranks, for discrediting the leadership of the African National Congress on ‘grounds’ of ‘corruption’, ‘in-efficiency’ [sic], ‘money making’, ‘too old to lead’, etc. All NEC members, particularly those based at headquarters in Lusaka, excluding the president, had been given different kinds of labels to ‘prove their dishonesty and inefficiency’.”

In sy boek oor die ANC in ballingskap, External Mission, noem die Brits-Nederlandse historikus Stephen Ellis, wat onlangs dood is, dit “the language of Stalinism”.

Dis belangrik om die historiese agtergrond te ken. Twee punte is hier relevant.

Ten eerste is die ANC in die jare ná die Soweto-opstand van 1976 oorstroom deur gefrustreerde, veglustige jong swartes wat met alle mag militêre opleiding wou kry sodat hulle huis toe kon gaan en wittes doodskiet. Hulle het ook meer deursigtigheid en verantwoordbaarheid van die ANC-leiding geëis en beswaar gemaak teen die gerieflike lewe van die leiers, hul korrupsie, seksuele misbruik van vroue, ensovoorts.

Dit het ʼn bedreiging vir die posisie van die leiers begin word.

In die tweede plek het kaders wat in die Sowjet-unie en Oos-Duitsland opgelei is ʼn intelligensie-afdeling in MK opgerig, bekend as NAT. Die “oopvlek” van ʼn omvattende spioenasienetwerk in die ANC was NAT se kans om sy eie magsposisie te verstewig.

Die gevolg was dat honderde ANC-lede opgesluit, aangerand, gemartel en selfs doodgeslaan is. ʼn Kultuur van vrees het in die ANC posgevat en mense het bang geword om iets te sê wat hulle in NAT se hande kon laat beland. Selfs die latere minister Pallo Jordan is ses weke lank aangehou omdat hy krities oor NAT se optrede was.

Nou moet ʼn mens sekerlik nie naïef hieroor wees nie. Natúúrlik was daar apartheidspioene in die ANC, en natúúrlik was daar ANC-spioene in die weermag en ander establishment-instellings werksaam.

Maar dit was nie die primêre rede vir die Shishita-suiwering nie. Die primêre rede was dat die ANC-leiding homself onder toenemende kritiek van die nuwelinge uit Suid-Afrika bevind het. Die doel van die suiwering was eenvoudig om die leiers se greep op die beweging – en hul magsmisbruik en korrupsie – voort te sit.

Vir NAT was dit ʼn kwessie van die verstewiging van sy eie magsposisie in MK. En uiteindelik was die laggende derde die SA Kommunistiese Party (SAKP) wat sy oorheersing van die alliansie daarmee verder versterk het.

Kan enigiemand jou kwalik neem as jy vermoed dat iets soortgelyks weer tans aan die gang is? Uiteraard is die sake nie identies nie: Die ANC is nou die regering en baie magtiger as destyds.

Maar in die algemeen is die ANC in die moeilikheid, veral by sy eie mense. By die stembus gaan die party die kreeftegang, daar is steeds meer opstande teen sy wanbestuur, en sy korrupsie en magsmisbruik word steeds meer aan die kaak gestel.

Teen dié agtergrond is dit logies om ʼn parallel tussen die Shishita-verslag van 1981 en die huidige “verslag” oor “Projek Spinnerak” te sien.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Winston ·

Die ANC moet na elke grashalm gryp wat hulle in die hande kan kry. Hulle buitelandse steun teen apartheid het vervaag. Die leiers se bestuurstyl is ontbloot. Hulle het hulle self bewys in 20 jaar. En die land is ekonomies op sy knieë. Soek n swartskaap om weereens te blameer, behalwe hulle self.

anet ·

Dankie Leopold vir hierdie interessante berig, ek het dit baie leersaam gevind. Ek dink ons blankes weet te min van al hierdie onbekende geskiedenis. Ek sien uit na ‘n volgende skrywe van jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.