Bestaan van kultuurgroepe kan nie weggewens word nie

Foto: Reuters

Die grondwetlike kenner, prof. Pierre de Vos, skryf in Beeld van 23 Mei 2012 ter verdediging van die grondwet en vryheid van uitdrukking en veroordeel heel tereg oor die optrede van die Cosatu-leierskorps in die onlangse optog van die Demokratiese Alliansie.

Hy skryf in die artikel “Demokrasie so gekrimp” soos volg: “Dit is een van die voordele daarvan om in ’n grondwetlike demokrasie te woon. Solank jy nie die grondwetlik geldige wette van die land oortree nie, is jy vry om te doen en te sê wat jy wil. As ʼn mens dermate onverdraagsaam jeens ander se oortuigings is dat jy sal optree om hulle te probeer verhinder om hierdie oortuigings uit te druk deur optogte te hou of petisies te oorhandig, is jy onverdraagsaam jeens die demokrasie.”

Bogenoemde is ʼn korrekte ontleding van die grondwet en is Cosatu se optrede onvanpas en behoort wyd veroordeel te word. Wat egter verbasend opvallend is, is dat prof. de Vos, die grondwet baie selektief toepas in die inkleding van sy eie vooroordele en onverdraagsaamheid. Sy eie persoonlike onverdraagsaamheid jeens ander se oortuigings het neerslag gevind in sy blog op Constitutionally Speaking in sy artikel “A Note on Afrikaners and tribalism” wat op 9 Mei 2012 gepubliseer is, na aanleiding van die Afrikaanssprekende groepering se gesprek met die ANC.

In die Engelse artikel skryf hy:

Dit is waarom ek nie ʼn groot aanhanger van “Afrikaners” (of Zoeloes) is nie, aangesien hulle hulself rondom hulle kulturele identiteit organiseer, asof die argitekte van apartheid korrek was en as daar slegs minderheidsgroepe in Suid-Afrika is – almal van verskillende stamme (groepe) – wat dus moet organiseer rondom hul stam of identiteit, ten einde hul finansiële en politieke belange te beskerm of te bevorder.”

“Ek is ‘n wit, Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Maar ek is ook gay; MIV-positief; professor in grondwetlike regte; ‘n burger van die wêreld wat wyd berese is en wat die poësie van Wislawa Szymborska en Wally Serote lees; ‘n rugby-ondersteuner wat luister na Zahara en Ntando in my vrye tyd; ‘n liefdevolle broer van vier susters; ‘n ateïs wat nooit sou droom van lidmaatskap tot die ATKV nie; en hardop sal lag as ek ooit deur die bisarre vermanings van die plaaslike NG Kerk-dominee gekonfronteer word.”

“Ek is beslis nie ‘n “Afrikaner” nie. In my oë is “Afrikaner” ‘n hoogs politieke konsep en ‘n ​​problematiese een daarby, dit is ‘n identiteit wat uitsluit, aangesien dit verwys na ‘n groep wit Afrikaanssprekende mense wat in meerdere of mindere mate politieke, kulturele gewoontes en aannames, godsdienstige oortuigings en ‘n ​​vervolgingswaan deel.”

Klik hier om die oorspronklike artikel te lees.

Met hierdie karikatuuragtige opmerkings jeens die Afrikaners en sommige van sy instellings sluit die selfverklaarde grondwetlike kenner, prof. Pierre de Vos, aan by dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg en fasiliteerder van die onlangse ANC-gesprek, wat ook nie kon nalaat om sy weersin en afsku in Afrikaners te kenne te gee nie. Prof. de Vos maak die verstommende afleiding dat ʼn moderne Afrikaanssprekende wat berese en belese is, nie ook ʼn Afrikaner kan wees nie. Dit het skynbaar die mode en polities korrekte neiging geword om alles wat net effens neig na Afrikanerskap, verdag te maak en te kritiseer. In die leefwêreld van prof. de Vos en andere, is ʼn Afrikaner verstok in idees en lewenswyse, agterlik en onaanpasbaar en is die uitdrukking van Afrikanerskap net maar ʼn voortsetting van apartheid. Watter naïwiteit word nie hiermee gedemonstreer nie?

As iemand wat hom gereeld uitlaat oor grondwetlike kwessies val dit vreemd op dat prof. de Vos nie besef dat ʼn Afrikaner tegelyk ʼn lid van die Afrikaanse taalgemeenskap en lid van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing kan wees nie, en dit geld net so vir ʼn Zoeloe, Xhosa, Khoi-San ensovoorts. As grondwetkenner sou ons verwag het dat prof. de Vos gevolglik Afrikaners se regte sou respekteer, want die grondwet verleen aan elkeen die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem. Meer nog, niemand wat aan ‘n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie. Die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika gun Afrikaners dus die volle ruimte om ʼn Afrikaner te wees en staan dit individue soos prof. de Vos vry om hom nie met ʼn spesifieke kultuurgemeenskap te vereenselwig nie.

Prof. Marinus Wiechers skryf onlangs in ʼn grondwetlike ontleding van Taal en Kultuur: “Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur ʼn groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ʼn besondere kultuurgemeenskap beleef word. So ʼn kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur ʼn gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis.” In ʼn ontleding van verskillende kultuurgemeenskappe en die individu se belewenis van sy/haar kultuur, skryf prof. Wilhelm Jordaan in sy rubriek in Beeld: “Om met die krag van jou versamelde Afrikaner-erfenis vreesloos die toekoms in te gaan – deel van die “neswarmte” se geborgenheid én deel van die “mengelmoes” se verrykende moontlikhede en uitdagings.” Prof. de Vos is dus eweneens welkom om homself in die openbaar te assosieer met wie hy wil en kan hy sodoende aansluiting vind by ʼn identiteit waarbinne hy gemaklik en tuis voel. Dit is egter ook Afrikaners se grondwetlike reg om ons kultuurbelewenis te bevorder en behoort iemand soos prof. de Vos dit te respekteer.

Prof. Pierre de Vos se uitbeelding van die Afrikaners is onvanpas en nie in pas met internasionale neigings waar minderhede wel erken en gerespekteer word nie. Meer nog, iemand wat ontken dat Suid-Afrika ʼn land van minderhede is, ontken die werklikheid. Dit is juis omdat Afrikaners ook wêreldburgers is dat hulle by herhaling die standpunt stel dat hulle wil meewerk aan ʼn suksesvolle Suid-Afrika en tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Dit maak hulle beslis nie agterlike Suid-Afrikaners nie, maar deel van ʼn moderne demokrasie, iets wat prof. de Vos seer sekerlik sal begryp. Veel eerder moet hy sy kundigheid oor die grondwet aanwend tot verbreding van die demokrasie, waarbinne alle minderhede tot hulle volle potensiaal kan kom, as om beledigend en kwetsend op te tree teen diegene wat hulself wel as Afrikaners beleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.