Rigtingbedonnerd* – die eerste keer wat ek die term goed leer ken het en tot ’n mate aan die lyf gevoel het, was toe ek in die laat 1980’s my militêre opleiding by ’n Infanterie-eenheid in die Oos-Kaap gedoen het.
Ek was deel van ’n tipiese infanterie-seksie van 10 man. So ’n seksie het bestaan uit ’n korporaal, ’n onder-korporaal, ’n LMG “gunner” en sewe troepe. Ek was daardie tyd ’n onder-korporaal en tweede-in-bevel van die seksie en my werk was om langs die LMG “gunner” te beweeg as ons tydens eindelose oefeninge in die heuwels rondom Grahamstad peloton-aanvalle, seksie-aanvalle en vuur-in-beweging geoefen het.
Die LMG “gunner” was gewoonlik die ou wat effe groter en sterker as die res van ons was – want hy moes in staat wees om die 11,5kg masjiengeweer saam met stringe 7.62 rondtes om die nek dra en net so vlugvoetig soos die 9 skietpiete langs hom in ’n reguit lyn vorentoe te beweeg.
Ons gunner se van was Griffin. Griffin het van Carletonville af gekom en sy pa het ’n Boere-orkes gehad en hy was toe omtrent so groot en swaar soos ek nou is. Ek was destyds omtrent ’n ses duim korter en 30kg ligter.
Een dag met so seksie-aanval – terwyl ek en die ander skietpiete vorentoe beweeg, bly Griffin agter, maar hy bly nie net agter nie – die LMG hou aan met skiet en die skote slaan hier vlak voor my in die grond vas. Ek en al die ander skietpiete moes inderhaas terugval en so byna het ek die slagoffer van my eie seksie-aanval geword.
Griffin het later vir my vertel dat hy nie ’n seksie-aanval begin het as hy nie eers vooraf ’n paar trekke van ’n daggapyp gevat het nie. Toe eers het ek – wat maar ’n onskuldige jong seun van 18 pas uit matriek uit was – agtergekom dat daardie vriendelike kyk met die wilde trek in Griffin se oë nie van nature daar was nie…
Die term Rigtingbedonnerd het toe vir my betekenis gekry.
In Fred de Vries se boek lees ek hoe Rian Malan vertel dat hy as jong seun die daggahandelaar met straattaal moes mesmeraais om by hom dagga te koop. Ek lees toe verder van Dagga Dirk Uys en van Koos Kombuis wat in ’n stadium net besluit het tot hier toe en nie vêrder nie met die gerokery, die buttons, LSD en wat nog neer.
En so gaan dit aan – om nie eens te praat van die politici – wat wel nie uitgesproke gebruikers van allerhande substanse was nie maar wie se bepalende besluite in krisistye mens ook laat wonder: “wat het hulle gerook?”
Maar die vraag onder bespreking is of die Afrikaner dan inderdaad rigtingloos is soos die Afrikaanse titel van Fred se boek aandui.
Ek het die afgelope paar jaar vier interessante dinge van Afrikaners geleer:
1. ’n Konserwatiewe en gelowige volk
Met uitsondering van ’n 10% op die linkervleuel en ’n 10% op die vêrregse vleuel is Afrikaners ’n konserwatiewe en redelik homogene groep wat betref waardes. Volgens die Suid-Afrikaanse been van die World Value Survey wat elke vyf jaar wêreldwyd onderneem word, was die volgende waardekwessies in 2006 by wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners teenwoordig:
- 85,6% beskou kerke as die instellings waarin hulle die meeste vertroue het;
- Slegs 45,2% vertrou die polisie en 12,2% vertrou politieke partye;
- Meer as 60% vertrou groot maatskappye en burgerlike organisasies;
- 85,8% glo dat ’n demokratiese stelsel die beste vir SA is;
- 86,6% glo prostitusie is nie regverdigbaar nie;
- 80,1% is gekant teen aborsie; en
- 78% is teen genadedood;
- 93,7% slaan verdraagsaamheid teenoor ander rasse baie hoog aan;
- Interessant genoeg vertrou 64% van Afrikaners mense van alle rasse terwyl slegs 44% van swart Suid-Afrikaners mense van ander rasse vertrou;
- slegs 9,4% is verdraagsaam teenoor dwelmverslaafdes.
Volgens sosioloë is die waarde-profiel van Afrikaners in die besonder en Suid-Afrikaners in die algemeen totaal anders as as die van byvoorbeeld mense in Europa. Suid-Afrikaners is nog besonder konserwatief en godsdienstig ten spyte van ’n sekulêre grondwetlike bestel.
2. ’n Polities verenigde volk
Ten spyte van ’n besonder konserwatiewe waardestelsel stem Afrikaners twee maal elke vyf jaar vir ’n liberale party. Met die eerste oogopslag laat dit mens dink aan ’n mate van rigtingloosheid.
In verlede jaar se munisipale verkiesing het 94% van Afrikaners DA gestem. Die Afrikaner was party-polities dus nog nooit so verenig as vandag nie. Miskien kan ons sê dat hy vir die eerste keer sedert 1933 polities verenig is. In 1933 het die Nasionale Party en die SAP ’n koalisie gevorm en so te sê alle Afrikaners het vir die koalisie-kandidaat (hetsy Nat of SAP) in hulle kiesafdelings gestem.
Ek is oortuig dat konserwatiewe Afrikaners, byna soos sakelui, die bedryf van politiek binne ’n sekulêre grondwetlike bestel (wat nog relatief vreemd is aan hulle) aan ’n liberale politieke party – in die geval die DA – uitgekontrakteer het. Soos wat ’n mens werk wat nie deel van jou kernbesigheid is nie, uitkontrakteer.
Gegewe die feit dat slegs 12% van Afrikaners politieke partye enigsins vertrou, moet daar nie te veel gelees word in hulle uitkontraktering van die partypolitiek nie.
3. Veelheid van “leiers” sonder volgelinge
Langenhoven het die Afrikaner ’n volk van beterweters genoem. Ek glo daar is baie meer samehang van oortuiginge en denke onder gewone Afrikaners as onder die veelheid van leiers sonder volgelinge wat opgee om namens en ten behoewe van Afrikaners te praat.
Dr. Dan Roodt het byvoorbeeld in verlede jaar se munisipale verkiesing in 9 weke in Johannesburg as kandidaat gestaan. Ek het stilweg gewonder wat gaan hy maak as hy in al 9 wyke verkies word. Dit was egter nie ’n probleem nie. Sy stemme het gewissel van 1 stem in wyk 95 tot 29 stemme in wyk 94 ’n soortgelyke patroon het in die ander sewe wyke gegeld.
Die veelheid van leiers en woordvoerders laat die indruk dat daar grootskaalse verdeeldheid of onderlinge verskille bestaan. Maar hulle praat dikwels net namens hulleself of dan ten minste namens ’n hand vol kiesers in ’n kieswyk van 10 000 mense.
4. ’n Toenemend betrokke volk
Ek het drie jaar gelede begin om regswerk vir AfriForum te doen. Op daardie stadium was ek beïndruk om te hoor dat die organisasie 8 000 debietorder-betalende lede gehad het. Toe Kallie Kriel vir my noem dat hulle beplan om in die volgende drie jaar tot 20 000 lede te groei, het ek gedink hy is te optimisties.
Die afgelope maand het AfriForum se ledetal die 48 000 merk verby gesteek.
AfriForum, Solidariteit en Helpende Hand se totale ledetal is reeds meer as 200 000. Indien in ag geneem word dat dit dikwels slegs een lid van ’n gesin is wat aansluit kan aanvaar word dat nagenoeg 600 000 tot 800 000 Afrikaners reeds by een van die filiale van die Solidariteit-beweging betrokke is.
AfriForum se tak op Louis Trichardt het pas ’n ooreenkoms met die Vhembe Munisipaliteit bereik om watertoevoer na die die dorp te herstel. Die ooreenkoms is gekoppel aan spesifieke aksiestappe met doelwitdatums en die ooreenkoms is ’n bevel van die hof gemaak.
Dit sou vyf jaar gelede nie moontlik gewees het nie.
Ten slotte
Is Afrikaners rigtingloos? Ek dink hulle was beslis onkant gevang deur die skielike oorgang van 1994.
Die magsverlies van 1994 was ’n reuse-slag vir meeste.
Maar so ook was die moorde op 600 mense van ’n Afrikaner-trekgeselskap in Natal 175 jaar gelede ’n reuse-slag.
Die dood van 34 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe 110 jaar gelede was eweneens ’n reuse-slag.
Elke keer het die slag hulle katswink geslaan – maar dan het een of ander merkwaardige herstelpoging gekom en die wêreld verstom.
Ek sluit af met die woorde van Dick Enthoven op p 311 van die Fred de Vries se boek:
Natuurlik het hulle na 1994 swaar gekry. Hulle was in ’n skoktoestand. Maar hulle het hulle daaruit gewurm. Die Afrikaners sal nog ’n belangrike rol in hierdie land speel. En nie net in die land nie maar in die wêreld. Die bloeityd van die Afrikaners moet nog kom.
*Bostaande is ‘n afskrif van die inleidende opmerkings tydens Aardklop-diskoers gesprek oor die boek Rigtingbedonnerd deur Fred de Vries.

Ek dink nie ek stem saam met …’ Ek dink hulle was beslis onkant gevang deur die skielike oorgang van 1994′ – nie onkant nie. Eerder: Die Afrikaners het meer ‘verdraagsaamheid’ getoon. Watter ‘opname’ het getoon dat ons ‘onkant’ gevang is? Hoe bewys jy die stelling? Indien ons nie verdraagsaam was nie, sou daar baie verseker ‘n klein oorloggie uitgebreek het. Het daar? Nee. Ek stem saam met ‘rigtingloos’, want beslis het ons geen sterk leier nie. Waar word leiers ‘gekweek’? Voorheen – in die goeie ‘ou’ dae, het leiers sterk na vore gekom in ons Hoërskole. My vraag nou is, wat gebeur op die oomblik in ons skole? Is daar Onderwyser-leiers [rolmodelle] wat leiding neem en ons leiers van die toekoms ‘oplei’? Word daar die korrekte ‘leiding’ gegee? Ek glo nie. Dalk ‘n enkele Onderwyser hier en daar wat as individue hul bes probeer om orde in ‘n chaotiese stelsel te skep – onmoontlik vir ‘n individu om dit te doen. Leierskampe het ons leiers van die toekoms ook [probeer] voorberei. Hoe lyk ons Onderwysstelsel nou? – ek verkies om nie dit te beantwoord nie. Ons weet dit almal. Dus, kom terug na die vraag van rigting-bedonnerd? Ons weet waarom. Leiers in ander sektore… van hulle is ‘n leier op hul eie gebied. Jy het ‘n leier nodig wat ‘n leier is – op alle vlakke. Kommunikasie – op alle vlakke is nodig om jou doelwit te bereik. Sommige van die genoemdes [in die artikel] mag dalk leierseienskappe he, maar kan hy ‘deurdring’ met wat hy wil bereik vir die Afrikaner – …jy moet weet hoe om deur te dring na sommige mense, sonder om ‘aanvallend’ te wees/klink. Jy moet die ander party aan jou ‘kant’ kry om jou doelwit te bereik. – is dit nie waar ons soms tekort skiet nie? Kommunikasie-lyne/kanale is geblok.
Ek sal graag wil weet wat die rigting dan is as jy wil beweer die Afrikaner het rigting: want die name wat jy noem wissel van ‘selfbeskikking’ tot Enthoven se Spier eksperiment. As jy al die leiers wat jy noem om n tafel kry sal jy na twee dae 5 verskillende ‘rigtings’ he net soos die Voortrekkers van ouds.
Ek is geneig om saam met Mark te stem, dat die Leiers en veral die partye en organisasies na hulself moet begin kyk na die verlies aan ondersteuning. Daar is wat my betref geen werklike verskil tussen die partye weg van die regering nie. Almal hanteer issues van die dag!!
Ek sou eerder wou sien dat die VF terugkeer na die grondeis vir die Afrikeaner, n ideologie wat hy heeltemal agterweë gelaat het. Waarom? Is en was dit te absurd?
Mark, ek vind dit vreemd dat jy partypolitieke leiers as die enigste leiers identifiseer. Ek was self vir 27 jaar in die partypolitiek betrokke en het daar gesien dat partyleiers (veral van minderheidspartye) bitter selde die werklike leiers van hulle gemeenskappe is. Die Afrikaner het geweldig baie leiers buite die partypolitiek – Flip Buys in die arbeids- en kultuurwereld, Steve Hofmeyr in die vermaaklikheidswereld, Jean de Villiers in die nasionale rugbyspan, Jannie Mouton, Laurie Dippenaar, Roedolf Gouws, Johann Rupert, GT Ferreira, Dick Enthoven en vele meer in die sakewereld. Dan het ek nog nie eens begin met die skrywers, digters en beroepslui in byna elke denkbare professie nie.
LMGA. Steve Hofmeyr as leier van ‘n “gelowige en konserwatiewe volk” , Willie ??
Al die leiers wat jy noem het een ding in gemeen : hulle is net so selfbehep, rigtingloos besig soos die ‘leiers’ in die politiek.
OK, so Solidariteit het 200,000 lede : dis die arbeiders wat aansluit as Solidariteit begin blaf oor Tshwane naamsveranderings, BEE, of Malema haatspraak. Goeie besigheidsresep vir Flip Buys maar gaan dit die Afrikaner red of selfs net rigting gee ?
Komaan Willie, waar’s die rigting wat hierdie groot geeste wat jy noem, aandui ? Of is af-en-toe blaf al wat vir ons oor is ?
Goed gestel Mark. Ja-nee ek wonder hoekom al hierdie “leiers” waarvan Willie praat nie die moorde op die blanke kan verhoed nie, ook nie die werkloosheid onder die afrikaner kan help oplos nie, en ook nie die afrikaner kan oortuig om eerder in SA te bly en hier te werk nie.
Flip Buys is net so min ‘n afrikaner kultuur en arbeids leier as wat ek een is, daar sit immers ‘n paar honderd duisend afrikaners sonder werk en heenkome in SA vandag agv hierdie “geweldig baie leiers” Die probleem is nie een van hulle gee om vir die politieke vryheid van die afrikaner nie, vir die meeste is hulle ledegeld of toegangsgeld die belangrikste. Politieke vryheid bring sy “burgerregte” wat hy verkoop in gedrang en so ook sy inkomste daaruit.
Die afrikaner is rigting bedonnerd en dit is niemand anders as sy “geweldig baie leiers” se eie skuld nie. Alles gaan om geld en mag en dit sal nou nog sterker na vore kom soos wat elkeen baklei om te oorleef in die ANC staat wat ons politieke leiers aan ons afgesmeer het.
Stadig met die daggazolle Willie. Jy vra die vraag of ons rigtingbedonnerd is maar beantwoord dit met niks meer as wensdenkery nie. “Die bloeityd moet nog kom” ja-nee ons gaan bloei maat : ons is leierloos oorgelewer aan ‘n korrupte regering wat alles in sy vermoe doen om ons te onderdruk.
Hoekom ons DA stem : omdat ons geen ander opsies meer het nie, dis die enigste party wat nog (af-en-toe) sin maak. Dit maak ons nie minder rigtingbedonnerd nie.