Sesessie-visie nou nodig as tydelike magshefboom

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid

In reaksie op Flip Buys se eerste aflewering in ʼn nuwe gespreksreeks, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou”, beantwoord Charl-Pierre Naudé Die Groot Debat se drie vrae:

Vraag 1. Wat was jou verwagtinge van ʼn nuwe Suid-Afrika in 1990?

Ek het vir die ANC gestem in die 1994-verkiesing.

Ek het ’n oop gemoed gehad oor my verwagtinge. Dit beteken ek het met die aanvaarding gewerk dat as voormalige antagoniste oor beginsels saamstem en saamstem dat hulle nooit van daardie beginsels sal afwyk nie, konsensus op lewensbelangrike sake haalbaar sal wees. Hoe verkeerd was ek nie!

Feit is: Beginsels is oop vir interpretasie, en interpretasie van ’n “beginsel” kan dermate geswaai word dat daardie beginsel spoedig totaal oneienbaar is in terme van die aanvanklike ooreenkoms. Neem byvoorbeeld die taalkwessie. In ’n belangrike artikel gee die akademikus Koos Malan ’n uiteensetting op Litnet van hoe interpretatief ons grondwet is, en hy doen dit aan die hand van die taalkwessie.

Vraag 2. Hoe oordeel jy oor wat toe in der waarheid plaasgevind het in die 22 jaar sedert 1990 en 2012?

My siening is dat die ANC die waarheid oor ooreenkomste (soos ek hierbo uiteensit) in 1994 geweet het, en dat die Nasionale Party en die wit regime uitgeput was. Laasgenoemde was bereid om in naïwiteit en goedgelowigheid te versink.
Apartheid was verkeerd! Maar die drywers daarvan het nietemin ’n hoë premie op integriteit geplaas. Die muishondstatus wat hulle weens apartheid in die wêreld verkry het, het hulle erg kwesbaar gelaat.

My siening is dat die ANC reeds in 1994 en nou steeds die nasionale demokratiese rewolusie-idee vir Suid-Afrika gekoester het. Hulle sou deur middel van die ongebreidelde mag van die meerderheidsbeginsel ’n aftakelingsbenadering omhels om sodoende hul droom te verwesenlik – soos wat ons by die dag sien gebeur. Die enigste beginsel wat hulle ingeruil het was “rewolusie” vir “ewolusie”. In die NDR-visie is daar in der waarheid geen plek vir kulturele (of enige ander soort) diversiteit nie. Binne die vier mure van die woonhuis, ja. In die privaatheid, ja, maar nié in die burgerlike terrein nie. Daarvoor sal die brute meerderheidsbeginsel gewoon sorg.

Die ANC-verhaal is een van die suksesvolste – en slinkste – verhale van oorname in die geskiedenis van rewolusie. Dit was ’n magspel, en politieke intelligensie het – en is besig – om die dag gewen.

Overgesetsynde: Roelf Wie?

3. Wat is vandag jou vooruitsigte vir Suid-Afrika?

Die stryd is tussen ’n sentralisties-beheerde swart nasionalistiese vorm van “demokrasie”, en die strewe na ’n afgewentelde, gedesentraliseerde demokrasie waarin kulturele diversiteit ook staanplek het. Die probleem is dat ’n gewone liberale model nie laasgenoemde sal verseker nie. Die aanvaarde beginsels van minderheidsoorlewing wat reeds in VN-beleid beliggaming geniet, sal ook betrek moet word.

Die verdere probleem is dat ons minderhede nie solied is nie. Dis pluralisties van aard, naamlik minderhede-binne-minderhede. Dit maak die spel en die strewe na ’n oplossing uiters interessant en boeiend, maar uiters bedreiglik. Die brute meerderheidsbeginsel sal gewoon probeer om diversiteit en afwenteling koud te sit deur te wys op die realiteit van “minderhede-binne-minderhede”.

Dáárom sal dit nodig wees dat ’n visie vir kulturele diversiteit wat wil meeding om ’n oplossing, ’n mengsel van pluralisme, liberalisme én minderheidsregte (of alternatiewelik “weighted” bedingingspotensiaal vir minderhede) bevat. As ek die glas half vol sien, is daar hoop.

Die desperaatste van oplossings sal moet probeer teruggryp na ’n vorm van sesessie, wat dan as tydelike magshefboom gebruik word om ’n diverse nasionale staat na te streef. Die ANC, wat nie dommer is as in 1994 nie, het reeds gebeurlikheidsplanne begin nastreef om hierdie opsie vroegtydig uit te skakel (die afskaffing van die provinsies, byvoorbeeld). Hý weet hoe warm die konflik nog gaan word en wil enige moontlike platvorms vir alternatiewe opposisie uitskakel. Dis dus noodsaaklik dat alternatiewe maatskaplike argitekte óók daadwerklik aandag sal skenk aan ’n visie van sesessie (geografies of andersins) – as magshefboom – al is dit net in bloudrukvorm – teen die ongebreidelde meerderheidsbeginsel. Dis ’n hefboom wat myns insiens baie suksesvol kan wees, hoewel nie sonder ongevalle nie.
Soos dinge tans aankap, is ongevalle in elk geval nie ver van die prentjie nie.

Bogenoemde reaksie van my is polities van aard. Dit spreek lank nie die ekonomiese realiteite aan nie, en die reg op bevryding van die armes van Suid-Afrika nie. Naas die brute meerderheidsbeginsel is die ekonomiese realiteit van armoede die ander slaanstok wat toenemend teen diversiteit ingespan sal word. Diversiteit is nie ’n durende prioriteit vir honger mense nie.

Dis moeilik om teen die ekonomies verdruktes se reg op ekonomiese bevryding te praat. Dus is dit belangrik dat enige alternatiewe visie vir diversiteit nie die indruk skep dat dit koud staan jeens hierdie realiteit nie.

Lees ook Christo van der Rheede se bydrae in dié reeks.

Charl-Pierre Naudé Geskryf deur Charl-Pierre Naudé

7 Kommentare

  1. Theresa Papenfus
    Theresa Papenfus
    7 Februarie 2012 om 17:33 | | Antwoord

    Charl-Pierre Naudé se standpunt is intelligent, eerlik en eerbaar. Ek het groot waardering. Hy is een van min (ware) liberale wat dapper genoeg is om hulle ontnugtering met die ANC-bewind bekend te maak. Die groot meerderheid destydse linkses was toe nie inherent liberaal genoeg om nou teen onreg op te staan nie.

  2. Louis Marais
    7 Februarie 2012 om 13:42 | | Antwoord

    Met alles wat gese is, moet daar ook gese word dat “Apartheid” nie die oplossing was nie, maar ek wil klem daarop le dat die ‘Ja’ stem ‘n erger keuse sou gewees het en is.

  3. Louis Marais
    7 Februarie 2012 om 11:36 | | Antwoord

    “Ek het vir die ANC gestem in die 1994-verkiesing”. So ek hou jou verantwoordelik vir die k@k waarin elke jong mens hom vandag bevind. Jy het indirek veroorsaak dat daar duisende jong Afrikaners nie werk kry nie, vermoor word, kultuur en taal vernietig word.

    Ek ag jou opinies net so nutteloos soos die rede vir die moorde op ons mense en “Apartheid” beleide wat op ons Afrikaners vandag toegepas word. Jy maak my siek tot my binneste en ek wens dat alle jong mense jou verag vir die gemors wat jy is, om ons oor te handig aan tiranne soos die kommunistiese ANC.

    Skaam JOU!

    1. Piet le Roux
      7 Februarie 2012 om 12:38 | | Antwoord

      Louis, hierdie is nie aanvaarbare kommentaar nie, om drie redes.

      1. Dit help nie jy gebruik ‘n “@” vir ‘n “a” nie – jou woorkeuse en algemene trant bly ewe kru.
      2. Die kommentaar trek die aandag af van die onderwerp en doel van die gesprek, naamlik om met nuwe oplossings vorendag te kom.
      3. Waarskynlik meer as die helfte van Afrikaners het “ja” gestem in die referendum in 1992 en ‘n hele klomp het in 1994 vir die ANC gestem. Nie hierdie mense of diegene wat anders gestem het is daarom minder Afrikaners en nie meer geregtig op ‘n mening nie. As ons jou maatstaf konsekwent deurvoer, bly daar geen waardige Afrikaners oor nie.

      Charl-Pierre se mening staan gereed om gekritiseer te word – wat dink jy van sy idees rondom afstigting/sesessie? Is dit nutteloos, of wat sal jy daaraan verander?

      1. Louis Marais
        7 Februarie 2012 om 13:37 | | Antwoord

        Piet le Roux – “Die kommentaar trek die aandag af van die onderwerp en doel van die gesprek, naamlik om met nuwe oplossings vorendag te kom.”

        Dit is presies my punt, want die ou manne wat ja gestem het, het hulle keuse gemaak, en nou wil hulle weer voorgee asof hulle die antwoorde het, so voordat hulle weer opneuk met hulle vrot keuses moet hulle idees en riglyne verafsku word.

        As die waarheid seermaak, moet dan nie verskonings by die persoon soek nie, soos bv. om na my kru taal te verwys nie.

        Piet le Roux – “Waarskynlik meer as die helfte van Afrikaners het “ja” gestem in die referendum in 1992″

        Ek is bly jy gebruik die woord “Waarskynlik” want dit is tien teen een “Waarskynlik”.

        Piet le Roux – “Nie hierdie mense of diegene wat anders gestem het is daarom minder Afrikaners en nie meer geregtig op ‘n mening nie”

        100% korrek, maar as ons konsekwent na die ‘Ja’ stemmers gaan luister en hulle menings ophef, dan sal ons sekerlik weer ons kop stamp? of nie?

        1. Piet le Roux
          7 Februarie 2012 om 13:43 | | Antwoord

          Die vraag bly staan: stem jy saam of nie met Naudé se mening en wat sal jy daaraan verander of toevoeg?

      2. Louis Marais
        7 Februarie 2012 om 13:56 | | Antwoord

        Afstigting is definitief al alternatief, maar daar moet vooraf goed besin word voordat ons onsself weer oorlewer aan nog ‘n kamma reenboog nasie.

        Daar sal eerste ‘n studie moet gedoen word oor Multi-kulturisme reg oor die wereld en of dit haalbaar is of nie, want huidiglik lyk dit nie of diversiteit in Europa slaag nie, en as dit daar nie slaag nie sal dit ook nie hier slaag nie.

        Sesessie moet dus gebaseer word op die studie en wat prakties is, en nie wat goed klink op papier nie, soos die Liberale dit graag wil he nie. Daar sal dalk ook meer as een sesessie nodig wees, elke kultuur sy eie.

        Voorbeelde hiervan kan wees:
        Xhosas – Oos Kaap
        Khoisan – Dele van Noord Kaap
        Bruin & Wit – Wes Kaap (Rolle moet streng gedefinieer word om te keer dat daar weer ‘n party staat geskep word.)
        ect.

        Daar kan nouer saamgewerk word met die verskillende kultuur groepe om die idee as saaitjie te saai. Die media kan ook baie doen om die saaitjie te saai.

Lewer Kommentaar