Finansiële stremming kan lei tot egskeiding

finansies-en-die-huwelik

As jy en jou maat finansiële stremming in jul huwelik ervaar, kry ’n finansiële adviseur om julle in ’n raadgewende posisie by te staan wat jul begroting en geldsake betref. Foto: Crosswalk.com

Met SA Huweliksweek (1 tot 7 September) wat pas begin het, is dit ’n goeie idee dat egpare so gou moontlik hul gesamentlike finansies hersien.

“Soveel huwelike verkeer onder druk en ’n eksterne faktor soos geldprobleme word gou ’n interne verhoudingsprobleem. Met SA Huweliksweek wil ons pare toerus met soveel moontlik inligting om goeie huwelike op koers te hou en huwelike in nood by te staan,” sê Liezel van der Merwe, besturende redakteur van Intiem en stigter van SA Huweliksweek.

Finansiële versoenbaarheid verg dat jou en jou maat se houding jeens geldverwante sake en jul huidige finansiële posisie ondersoek moet word om toekomstige konflik te vermy. Mense tree in ’n huwelik met verskillende perspektiewe omtrent geldsake en bestedingstyle, maar as ’n huwelikseenheid met gedeelde toekomsdoelwitte moet hulle hierdie perspektiewe laat ooreenstem. So nie moet ’n egpaar mekaar ten minste respekteer of moet ’n kompromie bereik word sodat die twee mekaar in die middel tegemoet kan kom.

Geldgeheime is ’n groot bedreiging vir enige huwelik. Kenners is dit eens dat voornemende huwelikspare eerlik moet wees oor hul finansiële situasie en ook vooraf moet besluit watter een van die partye die huwelik se beursie gaan bestuur. Hoewel sommige pare verkies om hul finansies apart te hou, moet daar wel voorsiening gemaak word vir gesamentlike uitgawes soos díé vir ’n huisverband, die kinders se opvoeding en vakansies. Terwyl slegte skuld stremming op ’n jong huwelik kan plaas, kan ’n onvoorsiene finansiële stressituasie ’n reeds gevestigde huwelik bedreig.

Soms is geldkwessies net ’n simptoom van ’n dieperliggende verhoudingsprobleem. Die bekende huweliksberader en outeur Dr. Phil sê ’n mens moet versigtig wees om geld as ’n wapen teen jou lewensmaat te gebruik. Hy meen sodra ’n finansiële probleem na die oppervlak tree, ’n mens jouself moet afvra of dit ’n geldelike probleem of ’n verhoudingsprobleem is.

As jy en jou maat finansiële stremming in jul huwelik ervaar, kry ’n finansiële adviseur om julle in ’n raadgewende posisie by te staan wat jul begroting en geldsake betref. As julle agterkom dat finansiële stremming sy tol op jul huwelik eis, roep die hulp van ’n gekwalifiseerde huweliks-en-verhoudingsterapeut in.

Registreer nou op www.sahuweliksweek.co.za en ontvang per e-pos ‘n gratis huwelikskursus en verskeie ander voordele wat hierdie veldtog vir huwelike jou bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.