[Video] “Jesus Christus woon in die Soedan”

Jesus-Christus-woon-in-Soedan

‘n Skermskoot uit die video.

’n Ruk gelede was ek saam met die res van die wêreld (weer eens) woedend vir die Suid-Afrikaanse regering. Tydens die beraad van die Afrika-unie in Junie is pres. Omar al-Basjir van die Soedan in Suid-Afrika toegelaat en gulhartig ontvang. Dít ten spyte van die feit dat Al-Basjir wêreldwyd verafsku word as gevolg van die volgehoue en afgryslike skendings van menseregte en volksmoord wat in sy land plaasvind.

Maar ek wil nie oor die regering, Al-Basjir en die tandelose Internasionale kriminele hof skryf nie.

Ek wil skryf oor ’n aangrypende videogreep wat ek onlangs tydens ’n rondritsery op die internet raakgesien het. Die video gaan oor gebeure in die Soedan, en vir die eerste maal begryp ek wat werklik daar aangaan: Soedanese rebellegroepe skuil in die Soedanese Noeba-gebergtes. Die regering het besluit om die totale gebied te vernietig en te ontvolk en volg ’n verskroeide aarde-beleid. In die proses word gewone landsburgers reeds vir vier jaar lank afgemaai in wat beskryf word as een van die ergste voorvalle van etniese suiwering nog. Dorpies, skole, kerke en hospitale word gebombardeer en die gebied is afgesny van die voorsiening van medisyne, water, voedsel en hulpverleningsorganisasies.

Adam Ellick en Nicholas Kristof, joernaliste van die bekende New York Times, het die gebied reeds verskeie male onwettig deur die oorlogsfront binnegesluip om verslag te doen oor presies wat in die Noeba-gebergtes aangaan.

Die video-resultaat is skokkend.

Dit wys verbrande kinders en familielede in rou. Dit wys armoede en swaarkry in die ergste graad. Dit wys die hopeloosheid van ’n situasie waar daar bykans geen hulpbronne beskikbaar is nie.

Maar in God se woordeboek het die woord “hopeloosheid” mos geen plek nie. Hy stuur maar gedurig hoop na die menslik mees hopelose situasies en plekke. Sy werk staan nooit stil nie.

Dr. Tom Catena, ’n Amerikaner, is die enigste mediese dokter in hierdie oorloggeteisterde gebied met ’n bevolking van ’n halfmiljoen. Hy werk vanuit ’n hospitaal met slegs 435 beddens en geen lopende water nie. Catena is absoluut getrou aan sy missie en het die hospitaalgrond in 2013 laas vir ’n kort tydjie verlaat. Oor die feit dat die hospitaal reeds 11 keer gebombardeer is sê hy: “Dié soort goed maak my net des te meer vasberade.”

Hy vertel wel dat een van die grootste uitbrake van masels nog in 2014 amper sy moed gebreek het – 1 400 kinders het masels opgedoen en die hospitaal oorstroom. As gevolg van die feit dat mediese voorrade weerhou word van die gebied, word slegs 5% van die kinders ingeënt teen dié gevreesde kindersiekte. Tog is hy steeds besig om as dokter in die Noeba-streek te werk.

In die middel van die video sê ’n ouerige man oor dr. Catena: “Hy is Jesus Christus. Net soos Jesus wek hy mense uit die dood op, maak hy siekes gesond en laat hy blindes sien. Al die Noebiërs hier rond stem met my saam.”

Die volgende skoot wys ’n Johannes 3:30-armband aan Catena se arm: “Hy moet meer word en ek minder.”

En skielik bars die presiese betekenis van hierdie bekende teksvers soos ’n ryp granaat voor my oop.

Wees gewaarsku die video bevat grafiese tonele wat sommige kykers kan ontstel:

Bykomende bron:

NY Times

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Dis werklik tragies wat in Soedan, asook baie ander Afrika-lande, aan die gebeur is. Dis duidelik dat sommige Afrika-regerings nie ‘n greintjie menslikheid toon wanneer dit by andersdenkendes kom nie. Die lyding is onbeskryflik en word nou Europa se probleem gemaak met al die vlugtelinge daarheen.

Die nuwe SA het my egter hard en taamlik sinies gemaak. Ek spaar my simpatie, meelewing, hartseer, afgryse ens. ens. ens. hoofsaaklik vir my eie mense wat met meedoënlose reëlmaat aangeval, gemartel en vermoor word; dikwels in hul eie huise deur bendes barbare. Keanu Badenhorst, net 17 jaar jonk, is die mees onlangse moordslagoffer waarvan ek weet. My hart wil breek vir hom en sy gesin, en die ander wat nog gaan volg.

Niemand anders in die wêreld gee vir die paar miljoen blankes in SA om nie, daarom sal ons dit self moet doen. “Etniese suiwering” is nie altyd op groot skaal soos in Soedan nie…….

Henry ·

Skitterende en broodnodige perspektief Therese!
Hierdie droewe land se moordstatistiek is so skrikwekkend dat ons laaaankal nie meer tyd en ruimte het om oor die moord en doodslag in ander state te teem nie. Afgesien van die feit dat ons niks aan die onheilighede wat buite ons grense plaasvind kan verander nie, verseker die groeiende geweld wat ons huis en haard daagliks bedreig, dat daar veel eerder op ons eie probleme en gevare gekonsentreer moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.