Kloof tussen Kerskous en Kerskoors

Kersgeskenke

Koop jy jou Kerstyd? Foto: Families.com

Statistieke dui daarop dat die gaping tussen arm en ryk al groter word. Die arm mense word nog armer en die ryk mense nog ryker. Die sogenaamde middelklas is stadig maar seker aan’t verdwyn.

Hou jy hierdie tyd van die jaar jou oor op die grond en beskou die wêreld ongesiens deur jou wimpers, kom jy tot dieselfde gevolgtrekking – net op ’n ander gebied.

Die feestyd word min of meer deur twee groepe mense oorheers.

Aan die een kant is daar die mense wat maande voor die tyd vir Kersfees beplan en lysies begin saamstel. Daar word aan alles gedink – waarheen word gegaan, wanneer word gery, wie kom kuier, vir wie word daar gekuier, watter presente word gegee, wat is op die spyskaart … Alles word benader met ’n ongekende opgewondenheid. In sommige gevalle tower hulle verbeeldingsvlugte die volmaakte Kerstyd op. Kredietkaarte word gewoonlik ingespan om hierdie volmaaktheid na te jaag.

Die ander groep is minder opvallend. Hulle het ’n hekel aan winkels wat lyk en voel asof die Kersversierings hulle as gyselaars gaan aanhou. Afgesien van die Kersversierings, die Kersliedjies, die massas wat op een-maal-in-’n-leeftyd-winskopies toesak en ’n skraps begroting is daar ander redes waarom hierdie groep mense daarvan wil wegskram: slegte herinneringe. Of goeie herinneringe aan mense wat gedurende die feestyd nie meer daar is nie; goeie herinneringe wat in slegte herinneringe ontaard het.

Net soos die middelklas in die ekonomiese spektrum word die tussenin-groep, wat Kerstyd betref, al kleiner. Die mense wat liries raak oor hierdie tyd van die jaar raak net nog meer opgewonde en bestee net nog meer geld. Die mense wat wens dat hulle vir ’n paar weke onder die bed kan wegkruip en eers ná die geroesemoes weer te voorskyn kom, word ook meer. Die tussenin-groep van die feestyd? Hulle is waarskynlik aan die wegkwyn.

Meer oor die skrywer: Karin Muller

Karin Muller is getroud en het twee tieners. Sy skryf ʼn weeklikse rubriek en artikels vir die Noordkaap, en nou en dan rubrieke vir Volksblad en Bloemnuus. Die hoogtepunt van haar skryfloopbaan was toe haar pad in 2012 met dié van Koos Kombuis in ʼn gedigtekompetisie gekruis het.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SkarrelKind ·

Ek dink ek stem saam met jou. Ek behoort aan die groep wat wil gaan wegkruip en eers uitkom as alles oor is.

naam ·

Ek dink nie almal wat wegskram doen dit oor ingewikkelde intriges soos emosionele herinneringe nie. As jy met jou voete op die aarde staan hoef jy nie die dawerende vakuum binnejant jou te blus met kooplus nie, maar hoef mens ook nie weg te skarrel van alles af nie. Asem die hede diep in, want net soos alles anders, gaan dit ook verby. Binnekort is dit Januarie, elke tyd het sy eie gees. Nie net goed of net sleg nie; dit is wat dit is.

SkarrelKind ·

Ek dink daar is waarde in die stelling “dit is wat dit is”. Ek hou daarvan en sal dit onthou. Dis nie nodig om te oorontleed nie.

Ben ☺☺☺ ·

Ek en my gesin herdenk nie kersfees nie. Dis sonde.

Magda ·

Ons gesin herdenk ook nie KERSFEES nie,maar wel die geboorte van Jesus Christus,ons Verlosser en Saligmaker!! Dit is nie sonde nie. Die sonde kom in wanneer mense groot en duur geskenke koop en uitdeel terwyl ons eintlik die grootste geskenk denkbaar ontvang het … en dit is die herdenking van Jesus se geboortedag

Winston ·

Ons gedenk net die geboorte van Christus. Op n ligter trant. Vandag iewers gelees “Koop net n pakkie batterye en skryf “speelgoed nie ingesluit nie”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.