Oom Herrie se kerrie: Martha se ‘maghwenjas’ uit die Oos-Vrystaat

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Die afgelope twee weke, terwyl die Herries se kerk se skoustalletjie sake by die Bloemfonteinse skou gedoen het, het die gesin se aandete gewoonlik uit vetkoek en slaptjips bestaan. Oom Apie, wat ook hard in die stalletjie gewerk het, se twee worshonde tuis het elke aand elk ’n worsbroodjie gekry.

Daar is hard gewerk, en hard gelag, en daar is behoorlik gemeente gebou.

Maar die vetkoeke laat oom Herrie se gedagtes ver teruggaan – ’n tyd toe oom Herrie nog ’n jong staatsamptenaar was en dikwels op die platteland gekom het.

Eendag, so in die inry in Hobhouse in, sê ’n kollega hy is nou behoorlik lus vir maghwenjas. Dit, verseker hy, is die lekkerste vetkoeke, omtrent so groot soos ’n man se vuis.

So al op die padbeduie langs beland ons voor ’n armoedige stroois. Agter, in die sonnetjie, plat op die grond, sit ’n verrimpelde byna blinde swart vrou by ’n primussie, met ’n groot kastrol daarop. Sy, het almal by wie pad gevra is beduie, is Martha wat die lekkerste maghwenjas in die hele Vrystaat maak.

Goudgeel kom hulle uit die warm kookolie.

Sy lag tandeloos hardop toe sy hoor hoeveel maghwenjas ons soek. Dis vir padkos en sommer om ’n klomp huis te neem. Sulke koningskos moet met die gesin gedeel word.

Van toe af het menige staatsdiensmotor nie by Hobhouse verbygery sonder om by Martha se stroois aan te doen nie.

Sommige dae het dit egter nie te goed met Martha gegaan nie, en was sy uit voorraad uit, en die pensioen nog ver. Dan is koppe en beursies bymekaar gesit, en kort voor lank laat spaander kinders in verskillende rigtings om die paraffien, kookolie en ander bestanddele by verskillende spazas te gaan aanskaf. Byna blind mag Martha gewees het, maar sy het presies geweet waar wat teen die beste prys verhandel het.

’n Uur of wat later kon die bestellings afgehaal word, steeds stomend warm.

Maar so het ook ’n era verbygegaan, soos die era van ouma Joey van die plaas Pieringkop by Slabberts, mev. Herrie se ouma. Haar oor was deurlopend op die grond vir geleenthede waarmee haar pakkies met kweper- en perskerolle, vyerolle en gedroogte vrugte na familie, vriende en kennisse oor die hele Vrystaat gestuur kon word. Selfs verder. Ouma Joey se bekende pakkies liede.

As Martha nog leef, sal sy seker ʼn hele ent oor die honderd wees.

Wat oom Herrie weer aan die gemeente se skoustalletjie laat dink. Oom Pat met sy groot wit baard is nie net een van die grootste en sterkste gemeentelede nie, maar ook waarskynlik al van die oudstes. ’n Hele paar agter-kleinkinders is al ten doop gebring. Van agter-agterkleinkinders is oom Herrie nie heeltemal seker nie.

Maar van lyf wegsteek weet oom Pat nie. Dan braai hy vleis en die murgsagste sosaties, dan help hy waar die slaptjips gemaak word. Dan maak hy sulke groot vetkoeke en dink oom Herrie weer aan Martha se maghwenja’s.

Toe een van die vroue na ’n sterk man kom soek om ’n groot pot kerrievleis aan te dra, moes oom Herrie flink spring, anders was oom Pat nog voor. Maar dalk het oom Herrie net gewen omdat oom Pat geweet het die draer sal die pot ook moet skoonskuur en was. As die son begin lêplek soek, moet oom Pat egter huis se kant toe staan want tuis is die tante in pyn en wag vir ’n operasie.

Ja, die fases van verganklikheid kry nie almal ewe gou ewe hard beet nie. Die wewenaars en weduwees wat so flink in die stalletjie werk, se ander helftes is reeds vir hoër diens opgeroep. Wie weet, volgende jaar is daar dalk ander. Maar intussen, dié gemeente kén van pakkies liefde oor die toonbank aangee, van die ouditeur tot die prokureur en professor draf flink met bestellings. Ook Maria die kerk karwag het ’n voorslag soos min agter die potte geblyk te wees. Kort-kort word daar iewers in die stalletjie geskaterlag.

Almal met ’n groot dankbaarheid oor die note wat kasregister toe gaan.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.