Tegnologie, leer en ons kinders

kind-en-ipad.jpg

[promosie-artikel]

Die wêreld waarin ons kinders leef, lyk heeltemal anders as dié van vorige generasies. Een van die grootste verskille is dat hulle meer toegang tot tegnologie het. Dié tendens het sedert 1999 drasties toegeneem en ʼn groot persentasie kinders word vandag reeds op voorskoolse ouderdom blootgestel aan rekenaars en tablette, tuis of by die skool. Daarom is dit noodsaaklik dat die tradisionele manier van onderrig en leer hierby aanpas.

Die tradisionele skoolkurrikulum gee voorkeur aan kennis bo die toepassing daarvan. Die gevolg is dat onderwysverskaffers dikwels nie daarin slaag om kinders voldoende in digitale geletterdheid op te lei nie. Die gebruik van tegnologie kan egter ’n baie belangrike rol in opvoedkundige verandering en vernuwing speel.

Met die gebruik van tegnologie kan leerders meer aktief betrokke wees in die verpersoonliking van onderrig en neem hulle tot ’n groot mate self die verantwoordelikheid daarvoor. Wanneer dít gebeur, kom die term fasiliteerder tot reg en is die tutor, ouer of onderwyser nie bloot net ’n “kennisoordraer” nie.

Tegnologie ontsluit ook die moontlikheid om ’n leerruimte buite die vier mure van die klaskamer of huis te skep. Hoewel tradisionele skole en tuisonderrig oor die volgende dekades steeds ’n leidende rol in onderrig sal speel, kan tegnologie verskeie nuwe deure tot die leerervanring van die kind oopmaak. Die ongelooflike groei in mobiele kommunikasietoestelle dra veral by tot die skep van aanpasbare, oop leeromgewings wat kontekstuele, interaktiewe en persoonlike leer bevorder. Dit is egter belangrik om kinders onder toesig aan tegnologie bloot te stel.

Dan het tegnologie ook ’n wesenlike invloed op die arbeidsmark, wat gevolglik eise stel aan skoolonderrig om hoëvlakdenke en vaardigheidsontwikkeling te stimuleer. Die gebruik van tegnologie in die leeromgewing dra by tot die motivering van leerders en bevorder ook hul betrokkenheid by leeraktiwiteite wat terselfdertyd die geleentheid bied om probleemoplossings-vaardighede te ontwikkel omdat toepassing in die werklike lewe vergestalting vind.

Waar die regte gebruik van tegnologie leerders help om dit wat hulle leer in die alledaagse lewe toe te pas, loop die tradisionele leerder die gevaar om net te leer wat in hulle handboeke staan sonder om dit te kan toepas. Praktiese toepassing van kennis deur byvoorbeeld self navorsing te doen, take uit te voer en in interaksie met ander te staan, kan alles deur middel van tegnologie gedoen word.

Uiteindelik bied die gebruik van tegnologie aan die ouer die geleentheid om saam met die kind te leer en te sien hoe hulle die werklikhede van die wêreld ervaar binne ’n omgewing waar die ouer steeds beheer kan uitoefen.

Outeur: Lientjie Young
Artikel verskaf deur: Impak Onderwys

Bronne geraadpleeg:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.