Sou Jesus getwiet het?

selfoongebruiker-in-restaurant

Foto: Argief.

Hoe om jou Christenskap op sosiale media en netwerke uit te leef.

Die Allerston-gesin van Malelane, Mpumalanga, is in April vanjaar deur skoknuus op hul knieë gedwing. Akute limfoblastiese leukemie is by hul driejarige seuntjie, Jano, gediagnoseer – enige ouer se afgryslikste nagmerrie.

Sanél Allerston, Jano se ma, was platgeslaan en het die nuus op haar Facebook-blad bekend gemaak. Sy was aangenaam verras, want die reaksie was oorweldigend. Boodskappe van goeie wense, gebed en ondersteuning stroom nog in. Meer as 800 mense het boodskappe gelaat en meer as 1 600 het van die statusbywerkings gehou.

Sanél glo vas sy en haar gesin sou nie die genadelose verskrikking van ’n kind met leukemie sonder die enorme Facebook-ondersteuning kon baasraak nie. “Elke boodskap of ‘hou van’ beteken dat iemand omgee en ons ondersteun, al ken ons baie van die mense nie persoonlik nie,” sê sy. “Ek weet dat daar tot in Londen ’n gebedsgroep vir Jano gestig is. As dit nie vir Facebook was nie, sou Jano se verhaal nooit so baie mense bereik het nie.”

Sanél se ondervinding laat ’n mens wonder oor sosiale media en netwerke as instrumente om ’n positiewe boodskap te stuur. Maar gebruik ons sosiale media werklik ten volle om moed en hoop te bring waar dit maar yl gesaai is? Erken ons dié braak sendingveld en ondersteuningsplatform vir wat dit moontlik werd mag wees?

Leonard Sweet, ’n bekende Amerikaanse teoloog, se woorde bly draai: “Verbeel jou dat ’n evangelis die afgelope 500 jaar daarmee kon wegkom deur te weier om boeke te raadpleeg! Verbeel jou verder dat ’n moderne evangelis deesdae kan weier om Facebook te gebruik – en daarmee kan wegkom!”

Facebook is maar net een van 634 miljoen geregistreerde webwerwe en sosiale netwerke op die internet. Kuberreisigers kan ’n leeftyd lank digitaal rondrits sonder om twee keer op dieselfde platform te beland. Die kuber-era neem van sekonde tot sekonde in krag toe en die muis is deesdae dalk magtiger as die pen …

Wêreldwyd is daar reeds ’n geraamde 2,5 miljard internetgebruikers. Volgens ʼn e-kerkverslag, Selfone – ’n reuse digitale rewolusie van die kleinste aard, groei die Suid-Afrikaanse internetbevolking tans teen gemiddeld 25% per jaar. Dit is ook goeie nuus dat die regering volgens sy Breëbandbeleid vir Suid-Afrika beoog dat alle Suid-Afrikaners teen 2019 toegang tot breëband-internet sal hê.

Die e of marketing blog, met Japie Swanepoel, skrywer van The e of marketing, as stigter, noem dat meer as 1,1 miljoen Suid-Afrikaners reeds Twitter-profiele het, ongeveer 8 miljoen op Facebook is en sowat 6 miljoen YouTube-gebruikers is. In die South African Social Media Landscape 2012, ’n studie deur World Wide Worx, met Arthur Goldstuck as besturende direkteur, en Fuseware word onthul dat Suid-Afrikaners bo 60 tussen Augustus 2011 en Augustus 2012 die snel groeiendste groep op Facebook was met ’n groeikoers van 44%.

Maar waar presies staan Jesus Christus en Christene in hierdie warboel-wêreld van verstommende statistieke, digitale impulse en die reusagtige, chaotiese vloei van inligting?

Die genoemde e-kerkverslag stel voor dat elkeen ’n wyle stilsit en nadink oor hoe hierdie massiewe tegnologiese en kulturele skuiwe ons gemeenskap, kerk, land en die wêreld beïnvloed.

Neels Jackson, uitvoerende joernalis en redakteur van Die Kerkbode wonder: “As Jesus vandag nog as mens op aarde geleef het … sou Hy getwiet het?”

Heel moontlik. Volgens Neels was Hy nie een wat van “lang en swaarwigtige preke” gehou het nie. Sy boodskappe en leringe was kort en kragtig. Twitter het, net soos Facebook, ’n voortdurende gesprek oor God en geloofsake tot gevolg. Stephan Joubert, bekende skrywer en die brein agter e-kerk, stem saam: “Ons kan vandag meer as 270 van Jesus se eenreëlkwinkslae in die Bybel lees. Net reg vir Twitter se 140 toegelate karakters.” En soos hy verder tereg opmerk: “God is aktief aanwesig in die digitale wêreld.”

Volgens Stephan het Jesus nie agtergeraak as dit by tegnologiese ontwikkeling kom nie en neem Hy die voortou. “Christene moet Hom maar net inhardloop,” meen hy. “Heelwat Christene mis Jesus Christus se nuutste bewegings in die kuberruim omdat hulle vas glo die internet is net ’n passiewe bron van inligting of ʼn tegnologiese hulpmiddel.”

Verder is baie mense bang vir nuwe tegnologie en verandering. Die gevare wat daarmee saamgaan, maak dit ook nie makliker nie. Ons hoor almal gereeld van kuberbedrog en -teistering en identiteitsdiefstal. Gevreesde woorde soos uitvissing (waar internetgebruikers op ’n misleidende manier oortuig word om persoonlike inligting bekend te maak) is skielik deel van elke internetgebruiker se woordeskat.

Tog meen Stephan dat ons nie moet toelaat dat dít ons afsit nie. Martin Luther, byvoorbeeld, het die toe pas uitgevinde drukpers met groot sukses en ondanks geweldige Katolieke teenkanting gebruik om die protestantse ideologie oor die hele Europa te versprei.

Japie meen ook dat Christene nie langer van sosiale media kán wegskram nie. “Om dit te ignoreer, is soos om televisie of selfs enige ander media te vermy. Daar is miljoene Suid-Afrikaners nét op Facebook. Dís waar mense hul tyd verwyl. As die kerk die visse wil vang, moet hulle hengel waar die visse swem!”

Jean Oosthuizen, moderator en stigter van die webgeselsruimte Kletskerk, som die probleme wat Christene in die “wêreldse” kuberruim teëkom mooi op. “Maar eintlik was die kerk en die bar nog nooit so na aan mekaar soos juis nou in die kuberwêreld nie,” sê hy. “Klik jy hier met jou rekenaarmuis, sit jy in die kerk, en klik jy daar, is jy as’t ware in die bar. In die virtuele wêreld kan mens vandag inderdaad sê die kerk en die bar staan langs mekaar, ’n klik vir die kerk en ’n klik vir die bar.”

Japie meen ook dat die internet nie per se boos is nie, maar so gemaak is deur wat mense daarop aanvang.

Dit is juis met hierdie probleem in gedagte dat Stephan meen kuberwysheid is broodnodig. “Die internet het ’n lang geheue, dus moet gelowiges weet hoe om keurig rond te kuier en hul digitale woorde te tel. Hulle durf nie alles vir soetkoek opeet nie. Hulle moet weet wie se menings dra gewig en gesonde digitale netwerke help vorm.”

Dit is fisies onmoontlik vir elke Christen om iewers in die onbereikte wêreld sendingwerk te gaan doen. Tog is daar deesdae eindelose ander opsies. Oral op die internet word reeds na “kubersendelinge” verwys. Wat elkeen dus wel kán doen, is om op daardie plekke waar hy of sy in die kuberruim kuier, te evangeliseer en te getuig.

Www.internetevangelismday.com is ’n nuttige webwerf waar gelowiges talle hulpbronne kan vind wat raad gee oor hoe om internet-evangelisasie suksesvol te benader.

Daar hoef nie noodwendig gepreek te word nie.

Neels, byvoorbeeld, beskryf sy Facebook-blad as ’n fotogetuienis “om iets van die mooi van die lewe te deel en te geniet.” Hy dra daagliks ’n relevante boodskap oor deur ’n foto en kort kommentaar daarmee saam te plaas. Hierdie plasings lok dan dikwels geloofsgesprekke uit en kry mense betrokke.

Die NG Gemeente Krugerwildtuin is ’n voorbeeld van ’n klein gemeente wat ’n groot indruk op sosiale media maak. Ondanks ’n skrale 80 lidmate, wag daar ʼn groot verrassing op diegene wat dié kerk se Facebook-blad besoek. Meer as 260 mense hou reeds daarvan en by verdere navrae blyk dit slegs 19 van hulle is lidmate. ’n Klein, afgeleë gemeente kry dit dus reg om bykans drie maal sy lidmaattal te bereik deur ʼn gedugte teenwoordigheid op Facebook te handhaaf.

Facebook is egter vir seker nie die enigste opsie wat kuber-evangelisasie betref nie.

Gelowiges kan ook nog, onder meer, twiet, video’s op YouTube laai of ʼn webjoernaal (blog) begin waarop hulle gereeld gedagtes of menings in die vorm van kort artikels kan publiseer. Op platforms soos Pinterest en Instagram kan inspirerende foto’s geplaas word. Verder is daar talle gesprekforums waar geregistreerde gebruikers oor spesifieke onderwerpe ander se idees en menings kan lees, daarop kommentaar kan lewer en nuwe gesprekke begin.

Voorts kan Christene ook op verskeie webwerwe pitkos vind. E-kerk, byvoorbeeld, se doel is om mense wêreldwyd met die evangelie te bedien. Hier fokus ’n span toegewyde Christenleiers gereeld op verskillende fasette van kerk-wees. Hulle beskryf hulself as “ʼn aanlyngemeenskap van volgelinge van Jesus Christus wat daagliks poog om Hom meer en meer sigbaar, voelbaar en verstaanbaar te maak vir ’n desperate en honger wêreld”.

Stephan verduidelik dat te veel van ons teologiese opleiding en kerklike bedienings steeds gerig is op ’n wêreld wat reeds 30, 40 jaar gelede verby is. “Die waagmoed om Jesus die onbekende in te volg en met ’n daaglikse gevoel van dringendheid te leef, is noodsaaklik,” meen hy. “Dit vereis dat ons nuwe maniere moet vind om oral in die lewe sigbaar te wees. Solank die kerk nog aanhou om vergadering op vergadering te hou oor hoe om die wêreld te bereik, gaan ons kort voor lank nie meer relevant wees nie.”

Of Christene die internet en tegnologie voluit gebruik om Jesus Christus se koninkryk te vergroot, is ’n vraag wat elke gelowige vir homself moet beantwoord. Dit is wel raadsaam om die feit dat Jesus wel sóú getwiet het, in gedagte te hou.

“Help asseblief,” skryf Sanél onlangs op haar Facebook-blad. “Jano gaan ons bankrot eet aan driehoek-kasies. Hy weier om teater toe te gaan sonder sy gunsteling versnapering.” Twee dae later plaas sy ’n foto van stapels driehoek-kasies op haar blad.

Vriende het hul ondersteuning gewys deur hope bakkies kaas te skenk! Dink jou ʼn wêreld in waar Sanél ontsteld die verpletterende nuus van Jano se lewensgevaarlike diagnose op Facebook deel en nie ’n enkele boodskap van ondersteuning en bemoediging ontvang nie.

Die gedagte is skrikwekkend.

  • Hierdie rubriek het oorspronklik in die September 2014-uitgawe van LiG verskyn en is met die toestemming van LiG se redakteur gepubliseer. Besoek www.lig.co.za

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Goeie goed, Rubrieke, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sollie ·

Ek dink ook nogals dis bietjie verregaande om dit te dink Ja, dit kan van groot hulp wees in baie omstandighede, maar ek dink Jesus sou te besig wees om siekes gesond te maak en die Evangelie te versprei as om heeltyd te moet twitter en doen . Hy sou nie tyd hê vir rondkarring op sosiale media nie want dink hoe sou iemand soos Hy oorval word met versoeke en vrae vir Sy opinie ens. Dit sou handuit ruk en Hy sou nie Sy werk kon doen nie. As ek sien hoe lê mense aldag en heeldga op die goed – nee Jesus is vir samesyn en familiebande en sou na my mening nie veel hou van sommige moderne tegnologie wat maak dat gesinne mekaar nie meer “ken” nie. Net MY opinie.

Lize Bester ·

Welgedaan, Liezel! Ek stem 100% saam, dit sou nooit ontwikkel het as God ons nie die verstand en vermoë daartoe gegee het nie! Hy moes ‘n doel daarmee gehad het. Ek het self onlangs in ‘n paar groepe beland waar ons daagliks saam bid en deel. Ek sou 10 jaar gelede nie vir ‘n oomblik daaraan gedink dat ek net vandag saam met mense in Ierland, Londen, Texas, Johannesburg, Port Elizabeth, Randburg, Bloemfontein, Oekraïne, Kaapstad, Rustenburg, Despatch, Kentucky VSA, Temping,Durban, Sutton Coldfield UK, Londen UK, Duitsland, Jaipur Rajastathan, Atlanta Georgia, Namibië, Botswana, Ghana, Zimbabwe (daar is nog ‘n hele paar ander) sou bid oor iets nie. My geloof het so gegroei, my gebedsketting strek ver en wyd. Skielik is ek ‘n geseënde vrou met ‘n ondersteuningsnetwerk en gebedskring wat ek in my wildste drome nie kon indink nie! God het ons die vryheid gegee om te bid oor enige iets, Hy het opdrag gegee om vir mekaar te bid en Hy het dit moontlik gemaak om dit vandag te kan doen oor taalgrense, tydgrense, kleurgrense heen. God se doel en opdrag was om Sy boodskap te versprei tot aan die einde van die aarde en die volgende stap (as dit bereik is) is die wederkoms. Ons reken almal die eindtyd is naby, dis een van die tekens, God se boodskap bereik soms onmoontlike plekke en mense. Ek beweeg nie in kring van ateïste nie, maar my pad het so met ‘n paar gekruis. Ek kan nie die jubeling en dankbaarheid beskryf as jy die ateïs-vriendin se eerste “amen” kommentaar op’n Bybelstukkie raaklees nie – dis God se werk daai, met respek gesê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.