Gedagte vir die dag: Bly weg van versoekings

seepunt-promenade.jpg

Seepunt-promenade

Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. (Matt 6:13)

Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. (Mark 14:38)

Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Kor 10:13)

Dit is veelseggend dat Jesus in die modelgebed versoekings en die Bose in dieselfde asem noem. Die twee is onafskeidbaar. Versoekings is die besigheid van die Bose. Dit het in die paradys begin en sal tot by die wederkoms voortduur. Versoekings maak aanspraak op ons sondige, menslike natuur. En die Bose weet hoe om die versoekings só aan te bied dat ’n mens voel jy kan darem nie die kans laat verbygaan nie.

Ons vlees bly maar ons swakpunt. En wanneer die swak vlees en die gewillige gees met mekaar begin armdruk, moet jy hulp kry! Jesus se raad is dat ons moet waak en bid. Roep God se hulp in en wees van jou kant bedag op die versoekings. Vermy plekke en situasies wat jy vooraf weet jou aan versoekings gaan blootstel. En dit geld vir alle vorme van versoekings. Jy weet presies wat jou persoonlike Achilleshiel is.

En dan is daar die belofte dat geen versoeking ooit te groot is om te oorwin nie. God gee vir jou die krag om deur sy Gees weer stand te bied en oorwinning te behaal. En moenie met daardie ou verskoninkie vorendag kom dat jy “ook maar net mens van vlees en bloed” is nie. Onthou liewer dat jy ’n weergebore mens is wat oor die krag van die Gees van God beskik.

God sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.