Gedagte vir die dag: Doen alles soos vir die Here

Vrou_arms_uitgestrek_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Kolossense 3:18-25

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. (Kolossense 3:23-24)

Paulus deel hier opdragte uit aan mans, vroue en slawe om aan die werk te spring, hulle werk so goed moontlik te doen en nie af te skeep nie. Wanneer ons ons werk op hierdie manier doen, sal ons eintlik nie anders kan as om dit entoesiasties (in God) te doen nie. Indien jy jou eie werk op hierdie manier doen, gaan dit vir jou sukses waarborg, want werksywer en entoesiasme word vir seker in die werkplek raakgesien en beloon.

Daar is nog ’n kriterium wat selfs beter as entoesiasme is, en dit is om jou werk te doen asof jy dit vir God doen. Ek het ’n pragtige 80-jarige vriendin wat baie mooi naaldwerk doen. Dit is vir haar só ’n plesier, sy is gedurig besig om verstellings vir ander mense te doen. Sy wys ook alle betalings van die hand, want, sê sy, dis vir haar lekker omdat sy dit vir die Here doen.

Soms doen ’n mens goeie dinge om deur ander mense raakgesien te word – dit tel hier geen punte nie! As jy ’n besluit neem om in die vervolg die dinge wat jy doen (veral daardie dinge waarteen jy opsien) só te doen asof jy hulle vir God doen, gaan jy ontdek dat God jou werk sal seën sodat take wat vir jou eers vervelig en sieldodend was, interessant en prikkelend sal word.

Here, ek wil graag in die vervolg alle dinge doen asof ek dit vir U doen. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.