Hemelvaartdag – 14 Mei

Foto: En.wikipedia.org

Foto: En.wikipedia.org

In die 40 dae ná sy opstanding uit die dood het Jesus by verskillende geleenthede aan sy dissipels verskyn en met hulle oor die koninkryk van God gepraat. So het Hy die doel en betekenis van sy lewe, werk en sterwe vir hulle saamgevat en weer duidelik gemaak.

Maar dan breek tog die oomblik van skeiding aan. Johannes vertel: Terwyl die dissipels staan en kyk het, is Jesus in die hemel opgeneem en ’n wolk het Hom uit hul gesigsveld weggeneem. Hy wat die ewige Seun van God is en onder die mense kom woon het, het hierdie wêreld verlaat.

Hy het ons egter agtergelaat met die evangelie van die mens se verlossing uit die sonde en die boodskap van sy oorwinning oor die dood én die opdrag om hierdie boodskap uit te dra. Maar daar is óók ’n belofte: die toesegging dat ons in die koninkryk van God hoort, dat ons bestemming as mens anderkant hierdie wêreld en hierdie lewe lê.

Ons toekoms as mense is dáár waarheen Jesus vertrek het!

Sy belofte is dan dat Hy weer sal terugkom om almal wat aan Hom behoort bymekaar te maak in sy koninkryk wat geen einde ken nie.

Dit is die boodskap van Hemelvaartdag skryf Radio Pretoria in hulle radiostasie se nuuskommentaar vandag.

Dit is ’n boodskap van hoop en troos, want dit dra die belofte dat Hy sal terugkom na ons toe. Daardie belofte is die band wat ons bind aan ons Here, Jesus Christus, en daardie belofte gee die sekerheid dat Hy ons nie alleen agtergelaat het nie.

Saam met die belofte van sy terugkeer was daar ook die belofte dat God, die Heilige Gees, na ons sal kom en by ons sal bly. So volg Pinksterdag dan op Hemelvaartdag.

Ons gedenk vandag God se belofte en sy groot dade en ons skep weer moed deur die geloof en wete dat God ons nooit vergeet nie. Dit laat mens dink aan die stelling van die groot hervormer, Martin Luther, wat die evangelie in ’n neutedop saamgevat het as: “die vrolike boodskap van God se genade”.

So ’n woord het ons nodig, want ons wat van hierdie wêreld is, word dikwels mismoedig en onseker as die magte van die sonde en die dood en die chaos teen ons opstaan. Dáárom moet ons die belofte van hierdie dag sorgvuldig onthou: Christus Jesus, ons Heer, sal weer terugkeer na hierdie wêreld. Daardie belofte wek hoop en is ʼn inspirasie vir ons om staande te bly en die lig van die geloof brandend te hou om so die beproewings van hierdie wêreld te trotseer.

Hemelvaart is ’n dag wat die deur na die toekoms oopmaak, want ons word verseker dat ons nie soos weeskinders in hierdie wêreld agtergelaat is nie. Ons staan in hierdie wêreld soos mense met ’n roeping en ’n opdrag. Daarom kry hierdie gedenkdag so ’n besondere betekenis, want ons Here Jesus Christus gee ons sy woord: “Dit alles het Ek vir julle gesê sodat julle in My vrede kan vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry, maar hou moed: Ek het die wêreld oorwin!” (Joh. 16:33).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cor uit Holland ·

Dank jullie wel voor deze mooie boodschap.
Jezus heeft de Heilige Geest gegeven zoals Hij heeft beloofd, en Hij komt in ons hart als we Hem uitnodigen in ons hart! Ik hoop dat jullie Nederlands kunnen lezen, ik kan Suidafrikaans wel goed volgen. Gods zegen en goede Pinksterdagen toegewenst!
Verwacht de krachten wonderen van de Heilige Geest, Hij is bij ons tot Jezus terugkomt – Halleluja!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.