Gedagte vir die dag: Immanuel, God by ons

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons. (Matt 1:23)

Lees Matteus 1:18-25

In Jesaja 7:14 beloof God vir sy volk dat hulle Messias eendag uit ’n maagd gebore sal word: “Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” Immanuel beteken God met ons.

Heel waarskynlik praat die profeet Jesaja hier van ’n kind wat in sy eie tyd geleef het, maar met Jesus se geboorte gaan Jesaja se profesie in vervulling. Die jong Maria word swanger deur die krag van God wat die lewe in haar wek, en die Kind wat gebore word, is inderdaad Immanuel, God bý ons. Jesus kom wys vir ons hoe God lyk, Hy vertoon die eienskappe van sy Vader. Deur sy kruisdood maak Hy dit vir ons moontlik om God se kinders te wees; aan die kruis betaal Hy die volle losprys vir elkeen van ons se sondes sodat God dit kan vergeef. Hy staan op uit die dood om ons te verseker dat sy kinders die ewige dood nie sal smaak nie, maar dat óns ook eendag in ’n nuwe lewe sal opstaan. Selfs ná sy hemelvaart is Hy deur sy Heilige Gees steeds met ons, woon Hy in ons, leer en lei Hy ons daagliks, bid Hy self vir ons. Jy kan dus seker wees dat jy Hom altyd by jou sal hê.

Here Jesus, dankie vir die versekering dat ek nooit sonder U hoef klaar te kom nie, maar dat U by my sal wees tot op dié dag wanneer U weer sal kom om my te kom haal. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hanno Visagie ·

14 Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem.(1953-vertaling)
Hierbo kan ‘n mens sien is die 53-vertaling se korrekte “die maagd sal swanger word” foutiewelik in die 83-vertaling vervang met “n jong vrou sal swanger word’, en dit het gelei tot die foutiewe afleiding hierbo van “Heel waarskynlik praat die profeet Jesaja hier van ’n kind wat in sy eie tyd geleef het.” Dit illustreer die belang van ‘n betroubare direkte Afrikaanse Bybelvertaling.

Thys Human ·

Aitsa, Hanno, jy wil nou vir die kundige skrifgeleerdes en vertalers vertel dat hulle die kat skoon aan die stert beet het oor die 53 en 83 vertalings van die Hebreeuse woord Almah. En dit net om die geykte konsep dat Jesus uit ‘n “maagd” gebore is, te probeer bevestig.

Maar bybelkenners die wereld oor – en natuurlik veral die Joodse skrifgeleerdes wat hulle geboortetaal sekerlik beter ken as selfs die Afrikaanse vertalers (laat staan nog jy) is feitlik eensgesind dat die vertaling van “almah” in Matteus as “parthenikos” (maagd) ‘n tipiese vroee Christendom verwringing is om die konsep van ‘n maagdelike geboorte te vestig – want Jesus kan mos nie afsteek teen Zarathustra of Mithras of Osiris nie!

Ek is bevrees die 83 vertaling van Jesaja is korrek – en natuurlik ook die vertaling van Mat 1:23 want dit is hoe dit in die Grieks van die NT staan. Jou argument is nie alleen foutief nie – maar misleidend so en met ‘n skewe agenda.

snel ·

Lees net n Bybel, maak nie saak watter vertaling nie en belangrikste, ken die Outeur.

Thys Human ·

Snel, dis nie so eenvoudig nie. Daar is heeltemal te veel belangrike verskille tussen die drie huidige Afrikaanse vertalings. Die ’83 moet as die beste tot dusver beskou word. Neem bv. Gen 2:7. Volgens die eerste twee vertalings het God asem in die mens geblaas en van hom ‘n “lewende siel” gemaak. Maar die jongste vertaling stel dit tereg (nader aan die bronteks) dat asem in die mens geblaas en hom ‘n “lewende wese” gemaak. Die KJV hou nog by siel, maar moderne Engelse vertalings gebruik “wese” of “entiteit”.

En dan is daar meer as een outeur. Net die eerste vyf boeke van die OT het volgens die kenners minstens sewe of agt outeurs en redakteurs. Hulle staan bekend as E, J, P, R, D1, D2 en Ander (onbekendes).

Thys Human ·

O Henno, ek wou nog vir jou se^ dat ek met jou saamstem oor die nodigheid vir ‘n betroubare direkte of bronteks vertaling. Maar dan moet die verskillende name van “God” soos dit in die Hebreeuse OT aangegee word, ook duidelik aangedui word – al is dit net in hakies. Dan sal bybellesers uitvind dat die God van die OT minstens drie name gehad het, te wete El, Elohim en YHWH – en dan is hy soms ook ander name gegee, soos Hashem wat vandag nog eintlik deur Jode in die gewone gang van sake gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.