Gedagte vir die dag: Jesus versoen mense met mekaar

mense-op-strand-sonsondergang.jpgDeur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. (Ef 2:16, 18)

Lees Efesiërs 2:13-22

Met die koms van Jesus na die aarde word verhoudings herstel. Die verhouding tussen mense en God en ook die verhoudings tussen mense onderling is verbeter en mense het vrede met mekaar gemaak. Selfs Jode en nie-Jode wat in Jesus se tyd in vyandskap met mekaar geleef het, is deur hulle gemeenskaplike geloof in Hom saamgesnoer tot een geloofsgemeenskap. Kersfees is juis dié tyd wanneer ons aan ons eie verhoudings bou: Familie wat mekaar lank nie gesien het nie kom saam om Kersfees te vier, om die geboortedag te herdenk van Jesus, die Hersteller van verhoudings.

’n Mens kan met jou eie versoeningspoging begin en werklik probeer om die verskillende bevolkingsgroepe van ons land met mekaar te versoen. Dit kan begin met ’n glimlag en ’n Kerswens, of meer konkreet met ’n kospakkie of ’n geldelike bydrae sodat mense wat minder het as jy Kersfees vanjaar sonder ’n gebrek aan kos of geld kan vier. Jy kan ook ’n kinderhuis of sopkombuis in jou omgewing identifiseer en geskenkies daar gaan aflewer. Kyk gerus om jou rond en besluit hoe jý vanjaar ’n positiewe verskil gaan maak met Kersfees.

Here Jesus, U het juis na die wêreld gekom om versoening te bewerk. Ek wil graag vanjaar ’n positiewe poging tot versoening aanwend op Versoeningsdag. Wys my waar ek kan begin. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert Schwab ·

Alles goed en wel, die storie dat Jesus mense versoen bedoel ek nou. Maar sou dit dan nou die geval wees kan ek nie anders as om te wonder oor Suid Afrika en al die swart teen WIT rasisme wat daar seëvier nie weet julle. Hoekom word die swartes dan nie met die WITTES versoen nie? Jammer oor my pessiemisme “okay”, maar ek glo nie so nie. (Die Jesus versoenings storie nou).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.