Gedagte vir die dag: Jesus verstaan

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Lees: Hebreërs 4:14-5:10

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. (Hebreërs 4:15; 5:8)

Die Bybel verseker ons op talle plekke dat ons nie angstig of bekommerd hoef te wees nie omdat God vir ons sal sorg. In Letters to Malcolm opper CS Lewis ’n interessante standpunt hieroor: Sommige mense voel skuldig wanneer hulle so bekommerd is en ervaar dit as ’n gebrek aan geloof. Lewis stem nie hiermee saam nie. Dit is nie kleingeloof nie, maar wel die gevolg van beproewing meen Lewis. En, soos dit met alle beproewings die geval is, laat hulle ons deel in Christus se lyding.

Ná Jesus se gebed in Getsemane, wanneer Hy besef dat God nie die lydensbeker van Hom gaan wegneem nie, lees ons dat ’n engel gekom en Hom versterk het (Lukas 22:43). Hierna ontvang Hy die krag om sy lyding vreesloos tegemoet te gaan. Volgens Lewis het hierdie “versterking” dalk bestaan uit die hernude ver sekering dat sy lyding verduur móés word en dat God Hom die krag sou gee om dit te doen.

In swaarkrytye neem God nie altyd jou lyding weg nie, maar Hy versterk jou wel sodat jy dit kan verdra. Jou menslike angs en bekommernis is nie sonde in God se oë nie. Hy verstaan dit omdat Jesus dit self deurgemaak het.

Here Jesus, U het juis deur u lyding geleer wat gehoorsaamheid is. Maak dit van my ook waar. Dankie dat U my angs en bekommernis begryp omdat U dit self ervaar het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.