Gedagte vir die dag: Kom, almal wat dors het!

GoldenGate_Reint_Dykema_Dam_Water_Berg.jpg

Foto: Reint Dykema

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. (Jes 55:1-2)

Dié verse laat my dink aan kinders wat weier om hulle bord gesonde kos te eet, maar bly kerm vir roomys en lekkergoed. God se kinders maak ook so. Ons soek gedurig na die soetgoed wat die wêreld so aanloklik aanbied en ons wys God se aanbod van die heel beste van die hand.

Water en kos is die twee noodsaaklike lewensmiddele. Daarsonder kan ons nie lewe nie. God gebruik dan water, brood, wyn en melk as metafoor om die rykdom van sy genade te beskryf. Sonder God se genade kan ons nie lewe nie. En die wonder van genade is dat dit kosteloos is. Ons kan dit nie verdien nie. Ons kry dit geheel en al gratis.

Maar nee, soos Israel van ouds, haal ons ons beursies uit om by die wêreld winkel toe te gaan. Ons soek die genot van die wêreld. Dit kan ’n magdom dinge wees. Dalk glad nie sulke slegte dinge nie. Maar sodra enigiets anders ons geloof in God en sy genade in die gedrang bring, is dit nikswerd afgode.

God bied vandag vir my en jou die heel beste aan. Vrede en gemoedsrus en blydskap en ’n vervulde lewe. Ons het ’n keuse: óf die goed wat nie versadig nie óf die volheidslewe wat God aanbied.

Dit sal dom wees om van popcorn te probeer lewe as jy ’n bord heerlike, gesonde kos kan kry …

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.