Gedagte vir die dag: Leef in vrede met alle mense

Perde-Boekevat-.jpg

Foto: yulika.tumblr.com

As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. (Rom 12:18)

Om in vrede met ander mense te lewe beteken dat jy jou bes sal doen om ’n goeie ver houding met ander mense te handhaaf. En asof Paulus nou nie hier óók sy lastige “alle” gaan bysit het nie! Jy sal dus jou bes moet doen om in eensgesindheid met álle ander mense te lewe en as vredemaker vir ander op te tree.

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word,” sê Jesus in sy bergrede (Matt 5:9). Dit is nie maar net genoeg om in vrede met ander te lewe nie, jy behoort ook bereid te wees om ’n vredemaker te wees. Om deur jou optrede ander mense se geskille by te lê en op te los. Die vrede waarvan die Bybel praat, beteken meer as wêreldse vrede wat eintlik maar net ’n wapenstilstand vereis. Waar wêreldse vrede beteken dat jy ’n ooreenkoms met iemand sluit, beteken Bybelse vrede versoening, om in liefde na mekaar uit te reik, om ’n einde te maak aan konflik, om kans te sien om die ander persoon van harte te vergewe.

Om vrede te maak beteken egter nie dat jy bereid sal wees om jou Christelike beginsels prys te gee nie. Soms gaan die ander party weier om jou hand van welwillendheid wat jy na hom uitsteek te neem, juis omdat julle standpunte so radikaal verskil.

Here Jesus, ek kom bid dat U vir my u vrede in my lewe sal gee, dat ek gewillig sal wees om daardie vrede ook aan ander mense deur te gee en dat ek ’n vredemaker vir U in hierdie wêreld sal wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.