Gedagte vir die dag: Lewe in liefde

harte_vorm_klippies_strand_stilltetyd.jpg

Foto: fineartamerica.com

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. (Ef 5:1-2)

Lees Efesiërs 5:1-5

Paulus vra dat die gemeente van Efese sy voorbeeld sal navolg deur dat hulle met hulle lewens op God se liefde sal antwoord. Die motief vir gehoorsaamheid behoort nooit vrees vir straf te wees nie; ons behoort gewillig te wees om God se voorskrifte te volg uit liefde vir Hom.

As jy liefhet soos Jesus, sal jy jou bes probeer om ander mense net so lief te hê soos Jesus vir jou het, met dieselfde onvoorwaardelike liefde wat Hy vir jou aan die kruis gedemonstreer het. Dan sal jy vir ander mense dié soort liefde koester waarmee God jou liefhet en wat Hom beweeg het om sy Seun se lewe in jou plek te gee. ’n Lewe in sy liefde beteken dat jy van nou af ’n bepaalde lewenstyl sal volg, dat jy gehoorsaam aan die Koning sal wees om dat jy Hom liefhet.

Paulus noem in Efesiërs 4 ’n aantal dinge waarvan God se kinders moet wegbly, soos onsedelikheid, gierigheid en vuil taal. Mense wat hierdie dinge doen, kan nie op God se liefde antwoord nie omdat hulle lewenstyl nie aansluit by hulle roeping nie. Sulke mense het nie deel aan God se koninkryk nie. Probeer om soos Paulus te leef, deur vir ander gelowiges ’n navolgenswaardige voor beeld te stel.

Here, maak dit vir my moontlik om in liefde te leef en u voorskrif te uit liefde te gehoorsaam. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.