Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie. (Mark 6:31)
Is dit nie insiggewend dat Jesus sy dissipels na ’n stil plek neem om ʼn bietjie te rus nie? Dit is moontlik om vreeslik hard te werk en niks reg te kry nie. God het ons nie gemaak om net te werk en besig te wees nie. Hy het ons ook gemaak om te rus. Daar lê geen prestasie daarin om vir jare te werk sonder rus nie. Sommige mense spog wel daarmee. Dis nie méér geestelik nie. Selfs Jesus, met net drie jaar om op aarde te bedien, het gerus en sy dissipels so geleer.
Is ons beter as ons Meester? Nee. Leer gerus by Jesus om rustig te wees en te rus. Dit maak jou nie minder produktief nie. “Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie” (Spr. 10:22).
Mense wat hul afhanklikheid van God verstaan, is mense wat ook kan rus.