Gedagte vir die dag: Sterf om te kan lewe

Argieffoto

Argieffoto

Dit verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. (Joh 12:24)

In hierdie Skrifgedeelte verduidelik Jesus vir sy dissipels hoe belangrik sy dood vir die wêreld is. “’n Koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit dood gaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels,” lui Die Boodskap- vertaling van dié teksvers.

’n Koringkorrel moet eers sterf voordat dit kan lewe, sê Jesus. Ook Hy moes sterf sodat óns kan lewe. As jy Hom wil volg, moet jy onderneem om sy voorbeeld te volg. As jy bereid is om ander mense eerste te stel, gaan jy dalk ook soos Hy jou lewe verloor, maar uiteindelik sal jy alles wen omdat God vir jou die ewige lewe waarborg.

Miskien meen jy dalk dat jy nie gaan baat vind daarby om Hom te volg nie. As Jesus vir die Grieke en ander heidene ruimte maak in sy verlossingsplan, breek Hy bestaande grense af, gooi Hy mense saam wat nie werklik saamhoort nie. Maar deur dit te doen maak Hy seker dat daar eendag vir God se koninkryk ’n groot oes gaan wees.

Is jy al seker dat jy deel van daardie oes gaan uitmaak?

Here Jesus, help my om in u voetspore te loop, om bereid te wees om aan myself te sterf sodat ek eendag vir altyd sal kan lewe. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilma Janse van Rensburg ·

AMEN!! In Jesus se voetspore te volg beteken ‘n absolute persoonlke verhouding met Hom, ook moet jy Sy Woord ken sodat jy Hom kan ken. Dit is die beste besluit wat jy ooit kan maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.