Lees 2 Korintiërs 5:13-19
Geen mens kan hom- of haarself verander nie. Dit is ook nie nodig nie. Die waarheid wat Paulus hier beklemtoon, is dat Christus jou reeds nuut gemaak het. Jy het ‘n nuwe identiteit ontvang. Waar jy vroeër ver van God was, is jy nou een met Christus Jesus (Ef 2:12-13). Dit is die groot verandering wat reeds plaasgevind het.
Dit beteken egter nie jou gedrag en waardes gaan onmiddellik verander nie. Jy het oor baie jare sekere emosionele gedragspatrone aangeleer en dit kan nie in ‘n oogwink uitgevee word soos ‘n rekenaarprogram en met ‘n nuwe program vervang word nie. Daarom neem dit tyd voordat jy regtig ook van binne af verander, en jy moet leer om geduldig met jouself te wees. Daar is egter hoop en ‘n pad wat jy kan volg. Ons praat later die week verder daaroor.