Gedagte vir die dag: Vergifnis

sonsondergang_Nathan_Steyn_NZealand.jpg

Foto: Nathan Steyn

Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. (Ef 1:7-8)

Lees Efesiërs 1:3-11

Wanneer Jesus se bloed aan die kruis vloei, maak Hy dit vir God moontlik om my en jou sondes te vergewe – nie net die sondes wat ons in die verlede begaan het nie, maar ook dié wat ons nou besig is om te doen en dié wat ons nog in die toekoms gáán doen. God is altyd bereid om ons te vergewe op grond van die soenverdienste van sy Seun. En God vergewe ons omdat Hy genadig is – ons hoef niks te doen behalwe om ons sonde te bely om hierdie vergifnis in ontvangs te neem nie.

Tog lê God se vergifnis ’n groot verantwoordelikheid op ons. Paulus skryf aan die Efesiërs: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef 4:32). Gaan lees ook gerus wat Jesus in sy Bergpreek oor vergifnis te sê het: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie” (Matt 6:14-15). Vra God om jou te help om alle ander mense van harte te vergewe soos Hy bereid is om met jóú te doen.

Here Jesus, ek loof U dat U bereid was om aan ’n kruis te sterf sodat my sonde vergewe kan word. Help my om ander mense wat my te na gekom het van harte te vergewe. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.