Gedagte vir die dag: Wanneer jy hulp nodig kry

see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Foto: Christo Brits

Here, net U kan die swakke teen ’n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat ’n méns teen U seëvier nie. (2 Kron 14:11)

Gaan lees gerus ’n slag die opwindende oorlogsverhaal in 2 Kronieke 14. Koning Asa van Juda kom teen ’n groot oormag te staan. Die veldslag teen die Kussiete lyk of dit nie anders kan as om in ’n ramp te ontaard nie. Asa het 500 000 manskappe wat net skilde, spiese en pyle en boë as wapens het, terwyl die Kussiet Serag se leër uit ’n miljoen man en 300 strydwaens bestaan. Vir koning Asa is dit glashelder dat net die Here hulle nou kan help, en hy bid dan ook dat dit sal gebeur soos soveel keer tevore in die geskiedenis van Israel.

Soos altyd luister God wanneer sy kinders by Hom om hulp kom aanklop. Hy verhoor koning Asa se smeek gebed, en ons lees in vers 12 dat die Here die Kussiete die onderspit laat delf teen Juda. Daar het soveel Kussiete gesneuwel dat koning Serag se leër nie weer kon herstel nie.

Die Here veg vanjaar aan jou kant. Wanneer jy voor krisisse te staan kom wat jy nie self kan hanteer nie, steun op Hom. Hy kan steeds swakkes teen ’n oormag help. Met Hom aan jou kant kan jy seker wees dat jy elke dag aan die wenkant sal wees.

Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat ek maar net by U om hulp kan kom aanklop as daar vanjaar krisisse in my lewe opduik. Ek weet dat ek altyd ’n wenner is omdat U aan my kant is. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.