Gedagte vir die dag: “Wees stil … ”

Clarens_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. (1 Timoteus 1:17)

Van die mooiste reeks-prentjies sien ’n mens vroeg soggens, soos die helder oranje-rooi-palette op die horison. ’n Sonstraal wat deur die wolke breek … Stukkies skilderye wat net ’n paar sekondes duur. Of die lang wakkerword-strale op die doudruppel-gras. Sag maar tog helder laat die blink water op die grasspriete ’n mens maklik aan die hemel dink. En hierdie reeks vertonings speel homself elke dag af: of ons daarna kyk of nie; of ons dit werklik raaksien of oor dit tuur; of ons dit indrink of by ons laat verbybeweeg.

God se seën is dikwels ook so: Hy gee aan ons asemwegslaanoomblikke wat dalk ’n paar sekondes duur, Hy bied ons stukkies skoonheid wat ons lewens kan verryk en Hy skenk aan ons helderlig-genade-momente. Ons kan dit inneem … of by ons laat verbybegaan. Hoe anders sal ons dag lyk as ons tyd maak vir die gewone wonderwerke. As ons onsself instel om die mooi te sien, die goed in mense raak te vat, die bederf om ons te waardeer, die genade oor ons te besef.

Hoe anders sal die mense om ons se lewens lyk as ons stukkies seën-skilderye in hul harte verf, doudruppel lekkertes aan hulle uitdeel en lig-gee-hoop vir hulle aangee. Hoe anders sal óns dag lyk.

Vandag gaan ek tyd maak om by u genadestrome stil te staan. Meer nog, ek gaan iets daarvan probeer aangee, Here.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.