Wenner op pad vir Toyota

Die Etios Cross Foto: Toyota

Die Etios Cross Foto: Toyota

Die splinternuwe Toyota Etios Cross, wat die geharde voorkoms van ’n sportnuts met die soepel rit, doeltreffende brandstofgebruik en ratse beweegbaarheid van ’n luikrug kombineer, is oorgehaal om nog ’n hoofstuk in dié begrotingsbuks se suksesverhaal te skryf.

Sy voorkoms is duidelik meer aggressief, danksy addisionele donker kantpanele en ‘n mini-bosbreker voor, terwyl die oulike 15”allooiwiele ook ‘n goeie indruk maak. Die noodwiel, alhoewel van staal, is volgrootte, en die hele voertuig weeg slegs 1 430 kg.

Tydens die onlangse bekendstelling – wat ‘n rit in die orde van 140 kilometers behels het, het die Etios Cross (nie soos in kwaad of nukkerig nie), maar eerder as ‘n veeldoeler, verras met stabiele en padvaste hantering, ‘n veerlige koppelaaraksie, puik remme, maklike skakeling tussen die 5 handratte, en ‘n stadvriendelike klein draaisirkel.

Glenn Crompton, Toyota se Vise-President: Bemarking, het dit by die amptelike bekendstelling só gestel: “Die Etios bied presies wat klante wil hê – die doeltreffendheid van ’n motor en tipiese kruismotor-stilering teen ’n bekostigbare prys. Dié nuweling is ons toetrede tot nog ’n onderafdeling in die uiteenlopende en vinnig groeiende sub-B-segment van die motormark. Die betekenisvolle Etios-familie se begrotingsarsenaal behels nou ’n sedan, ’n luikrug, en die jeugdige en geharde Cross. Die nuweling pronk uit die aard van die saak ook met Toyota se wêreld-erkende belofte vir gehalte, duursaamheid en betroubaarheid.”

Die Etios het in minder as twee jaar verkope van oor die 45 000 eenhede aangeteken, en behoorlik deel van die Suid-Afrikaanse motorbevolking geword deur gereeld op die lys van die drie topverkopers te verskyn.

Die Etios kan op ’n string ‘bestes’ staatmaak, waaronder die titel as topverkoper-sedan in die sub-B-segment, sowel as Toyota Suid-Afrika se topverkoper-passasiersmotorreeks. Trouens, die Etios (dié model verteenwoordig op die oomblik sowat 30% van die passasiersmotormark in sy segment) is só suksesvol dat Toyota baie van die destydse Tazz se verkoopsvolume voor die einde van sy leeftyd in 2007, herwin het.

Baie van die Etios se sukses kan toegeskryf word aan enjinverrigting – en spesifiek die 66 kW dubbelnokas 4-silinder van 1.5-liter. Selfs teen 1 620 meter by seespieël het hierdie 16-klepper nie gesukkel om redelik vinning te versnel en ‘n goeie togsnelheid te handhaaf nie. Die 0-100 km/h stormlopie word in 11.3 sekondes afgehandel, terwyl brandstofverbruik – aldus die vervaardigers – in die omgewing van 6 liter/100 km lê.
Die maksimum snelheid word aangegee as 165 km/h en CO2-uitlaat gasse word gemeet teen 138 gm/km wat aan die Zuma-regime ‘n onverdiende R1 539 aan addisionele belasting besorg.
Wat ruimte betref bied die agtersitplek redelike gemak vir drie mense van gemiddelde grootte. Daarbenewens pronk die Etios met talle praktiese binneruim-bergplekke, waaronder sewe bekerhouers wat eenliterbottels kan huisves, sowel as ’n verkoelbare paneelkissie met ’n inhoud van 13 liter. Die sedan het die grootste bagasieruim (562 liter) in sy klas.
’n Volledige veiligheidspakket, waaronder ABS, EBD, dubbele lugsakke voor en ’n immobiliseerder verskaf addisionele gemoedsrus.

Maar dis veral die bekostigbare prys – R159 800 – wat voornemende kopers sal laat saamdrom. Teen hierdie uitstekende prys kry die nuwe eienaar onder meer ‘n nuwe sierrooster, ‘n nuwe lugdinamiese ontwerp vir die buitespieëls met stabiliseringsvinne, en nuwe agterligte. Maar ‘n mens kan tereg vra waarom die buitespieëls nog met die hand deur middel van hefboompies gestel moet word. Tog moet genoem word dat die buitespieëls met rigtingwyserliggies toegerus is – iets wat gewoonlik net in duurder voertuie aangetref word.

Die prys van R159 800 sluit ‘n diensplan van 2 jaar/30 000 km in, terwyl die waarborg gemoedsrus verskaf vir 3 jaar/100 000 kilometers. Eienaardig, egter, dat hierdie volledig ingevoerde motor (uit Indië) elke 10 000 kilometers gediens moet word, maar gelukkig is ons land oortrek van Toyota-handelaars.

Die laaste woord:
Toyota verwag om in die orde van 150 eenhede van die nuwe Cross maandeliks te verkoop. Die indrukke wat hierdie nuweling by my gelaat het is dat hulle te konserwatief is – dink eerder aan 300 eenhede per maand.

Hierdie is nog ‘n toekomstige wenner uit die Toyota-stal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.