Nuuskommentaar: Die graad is nie vals nie, ek het hom sélf gekoop

Argieffoto (Wikimedia)

Argieffoto (Wikimedia)

Die nuus dat daar in Suid-Afrika op groot skaal met kwalifikasies gekonkel word, kom waarskynlik vir min Suid-Afrikaners as ʼn verrassing. Die nuus het immers gevolg kort na dit aan die lig gekom het dat “dr.” Pallo Jordan nooit ‘n doktorsgraad behaal het nie, en daar vrae is oor die egtheid van die kwalifikasies van die voorsitter van die SAUK-raad – wat ironies weer betrokke was by die vaste aanstelling van die korporasie se bestuurshoof, oor wie se “matriek” ‘n storm losgebars het.

Nie al die universiteite was bereid om syfers te verskaf oor hoeveel studente vir oortredings soos die onwettige gebruik van notas, afkykery, plagiaat en die aankoop van vervalste kwalifikasies aangekla is nie. Na berig word meen kenners dié wat gevang word is net die oortjies van die seekoei.

‘n Interessante opmerking is dat baie van diegene wat gevang is, vir kwalifikasies gestudeer het waarin hulle nie belangstel nie.

Soos sake nou staan, is daar reeds groot kommer oor die kwaliteit van Suid-Afrika se matriek. Universiteite bied reeds oorbruggingskursusse aan om studente met universiteitstoelating op universiteitsvlak te kry. Nogtans is die akademiese mortaliteit hoog.

En hoe ‘n groot persentasie van hierdie gegradueerdes wat wel oor die podium stap het hul grade werklik eerlik verwerf?

Suid-Afrika het ‘n vaardigheidstekort, wat onder meer daartoe lei dat mense, waaronder babas, sterf. Geboue kan instort as die ingenieurs se kwalifikasies nie werklike kennis en insig reflekteer nie. Arbeidswetgewing gaan min help om die land se arbeidsprobleme op te klaar as bestuurders nie oor behoorlike bestuursvaardighede beskik nie. Trouens, dit lyk of rugbyspanne op die speelveld kan noustrop trek as dit op bestuursvlak nie te waffers gaan nie.

In ‘n land wat sterk op die korrupsiepersepsieindeks agteruit boer, en op die omkoopindeks deur van Afrika se mees korrupte lande uitgestof word, is akademiese oneerlikheid ‘n slegte teken.

Trouens, kommer word oor algemene wetteloosheid uitgespreek soos die minagting van verkeersreëls wat ons alledaags om ons sien, sodat die uitdrukking “om soos ‘n stopstraat geïgnoreer te word” al vastrapplek in Afrikaans gekry het.

En niks word skynbaar hiermee verkeerd gesien nie. Kerkgangers is Sondae verstom hoe ander kerkgangers ver oor die spoedgrens by hulle verbyjaag kerk toe. Onderwysers vleg dikwels ten aanskoue van skoolkinders op pad skool toe deur die verkeer, en pleeg in die proses verskeie verkeersoortredings.

Blouligbendes van die politici – wat veronderstel is om die land se leiers te wees – stel dikwels ‘n bitter swak voorbeeld van wetteloosheid.

Heelwat van hierdie leiers se CV’s word so goed soos staatsgeheime bewaar, en vrae oor of van die kwalifikasies nie dalk “struggle-kwalifikasies” is nie word as rassisme afgemaak.

Die sprong na akademiese verneukery is dan maar klein.

Na bewering neem plagiaat ook toe onder akademici. Dit word daaraan toegeskryf dat knip en plak op die internet dit so maklik maak om teks eenvoudig oor te neem. Universiteite en uitgewers word dus genoop om spesiale programmatuur aan te skaf om plagiaat so ver as moontlik op te spoor, en die skuldiges uit te vang.

Uiteindelik kan slegs iemand wat hard gewerk het om sy of haar kwalifikasie eerlik te verwerf, met trots oor die podium stap. En slegs dan kan die ouers en ander wat gekom het om daarin te deel, ook trots wees.

‘n Graad, diploma of sertifikaat durf nie soveel werd wees as ‘n rubbertjek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.