Nuuskommentaar: Groot oorwinning vir Transnet-pensioenarisse

Die Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om 'n beswaarskrif aan pres. Jacob Zuma te oorhandig oor die skandalige lewensomstandighede van die pensioenarisse Foto: VF Plus

Die Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif aan pres. Jacob Zuma te oorhandig oor die skandalige lewensomstandighede van die pensioenarisse Foto: VF Plus

Soms is daar tog fantastiese nuus. Die nuus gister dat die Noord-Gautengse hooggeregshof beslis het dat ‘n klasaksie teen Transnet en twee van sy pensioenfondse ingestel kan word, is so ‘n geval.

Die bevel is met koste teen Transnet en ander verweerders, wat die aansoek verbete geopponeer het, toegestaan. Die klasaksie word ingestel teen Transnet en twee van sy pensioenfondse, die Transnet Pensioenfonds en die Tweede Transnet Vaste Voordeelfonds, oor die erbarmlike toestand waarin ‘n groot deel van sy pensioenarisse gedompel is deur jaarlikse verhogings van 2%.

Ongelukkig is heelwat van die pensioenarisse wat aan hierdie verskriklike lot onderwerp was, nie meer daar nie. Nog heelwat gaan nie meer daar wees as die saak eendag finaal bereg is nie. Na raming raak dit sowat 66 000 pensioenarisse van alle bevolkingsgroepe, waarvan duisende se “pensioen” na berig word net een rand per maand bedra.

Nou kan voortgegaan word met ‘n eis van R80 miljard. Transnet word daarvan beskuldig dat dit die bates van die pensioenfonds gestroop het, onder meer deur skuldbriewe te verkoop om MTN-aandele te koop. In ‘n brief aan Rapport waarin die koerant van foutiewe beriggewing beskuldig word, het Transnet in breë trekke die bewering teen hom ontken, en veral erg kapsie gemaak omdat die “goeie naam” van sy hoof deur die modder gesleep sou gewees het.

‘n Hofsaak is eers deur verskeie maniere probeer voorkom, soos om dit deur die parlement te voer. Verskeie kere was daar belowende verwikkelinge, maar telkemale het daar dadels van gekom. By geleentheid moes Transnet in opdrag van die parlement vir R1,6 miljard skik, maar het dit sonder verduideliking geïgnoreer. Die Vryheidsfront Plus se groot rol tot dusver verdien krediet. Dié party se volledige verklaring kan hier gelees word.

Dit is, en bly in niemand se belang dat die saak uiteindelik deur die hof bereg moet word nie. Sou Transnet ‘n eis van hierdie omvang verloor, is dit bykans ‘n uitgemaakte saak dat Transnet se kredietgradering geknou gaan word, en moontlik selfs die land s’n, wat onder meer sal beteken die leen van uitbreidingskapitaal sal duurder word omdat voorskiet aan Transnet en Suid-Afrika ‘n risiko inhou.

Die pensioenarisse se regspan het dan ook dadelik ‘n uitnodiging aan Transnet gerig om na die onderhandelingstafel te kom, dat oor ‘n skikking onderhandel kan word. Die regspan tree almal gratis op en sal net betaal word as hulle die saak wen.

Transnet kan nog teen die uitspraak appelleer, maar regter Ephraim Makgoba het, soos aangehaal in Media 24, reeds sterk taal gebruik wat ‘n appèl deur Transnet ‘n groot risiko en onnodige bykomende koste sou maak: “Wat hulle [die pensioenarisse] gemeen het, is dat hulle die slagoffers is van amptelike buitensporigheid, misplaaste burokrasie en wat hulle beskou as onwettige administratiewe metodes.”

Hierdie sage het reeds in 2006 begin, en teen 2% verhoging per jaar het daar intussen reeds weer ‘n enorme agterstand opgebou. Dit sal onmenslik wees om die lydendes nog langer aan ‘n taktiek van voeteslepery te onderwerp. Baie het reeds hul huise verloor, en baie staan op die punt om hul huise kwyt te wees.

‘n Groot onus rus nou op die minister van openbare ondernemings wat nou die uitspraak bestudeer. Intussen kan die regeringsdienspensioenfonds, wat in “regeringsvriendelike” projekte soos die e-tol en die aanskaf van die Independent-koerantgroep, ook maar kennis neem dat die land en sy howe die beste belange van die pensioenarisse op die hart dra – hulle, wat in die woorde van die regter, uit die armstes in ons gemeenskap kom – bejaarde pensioentrekkers wat maatskaplike hulp nodig het… Hulle het ook min kans om hul regte met normale regsprosesse te beskerm. As individue is hulle nie in staat om regsaksie met hul karige inkomste te finansier nie.

In hul goue jare wanneer hulle gekoester hul kleinkinders moes kon geniet, en medies versorg behoort te wees, is dit juis hulle wat nie meer kan staak vir beter lone, optogte kan hou en verniel so ver soos hulle gaan nie, maar hul loopbane lank hard gewerk het, wat deur hul owerheid in die steek gelaat word.

*Pensioentrekkers van Transnet wat met die regspan in aanraking wil kom, kan die firma Geyser & Coetzee bel by 012 663 5247, of ’n e-pos stuur aan [email protected]. Hulle kan ook SMS’e stuur na 083 281 2039.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Het gehuil van dankbaarheid toe ek dit hoor! Het familie wat LY onder hierdie ongeregtigheid – my bede is dat die saak spoedig opgelos sal word. Is ook self ‘n staatsdiens pensioenaris en WEET hoe mens sente om en om en OM moet draai , met om deur te skraap

annie Kruger ·

Ek probeer om op R1900 pm te oorleef. Toe my man nog geleef het, het hy enige iets gedoen om n ekstra geldjie in te bring. Sal so dankbaar wees om n leefbare inkomste te he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.