Nuuskommentaar: Wie is die Grinch wat die verkiesing steel?

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Daar is glo by die OVK se omstrede nuwe hoofkantoor ingebreek. Daar is groot ontsteltenis omdat die komende verkiesing se uitslae gesteel is…

‘n Twakstorie, maar met meer erns as wat ‘n mens graag sou wou glo.

Min mense sal glo dat daar reeds iewers agter die skerms besluit is oor hoeveel stemme, en dus setels elke party sal kry. Suid-Afrika is immers nie Azerbeidjan waar die verkiesingsuitslae “per ongeluk” bekend gemaak is voor die stembusse nog gesluit het nie.

Maar daar is meer as een manier waarop ‘n verkiesing gesteel kan word. Die leier van die DA, Helen Zille, verwys na die proses waar die ANC staats- en veronderstelde onafhanklike instellings en hul fondse as verkiesingswerktuie inspan as Zumafikasie.

Die inspan van onder meer kospakkies kom egter uit ‘n era voor Jacob Zuma nog president geword het.

Die jongste skermutseling is die SABC se besluit om ‘n omstrede DA-advertensie nie uit te saai nie, en toe Okosa boonop aankondig dat dit gaan voete sleep om die DA se klag hieroor aan te hoor, is met hofsake gedreig. Volgens die jongste aanduidings sal uitspraak nou Donderdag gelewer word.

Intussen het staatsdepartemente asem gekry met advertensies wat so saamgestel is dat dit moeilik onderskei kan word van ANC-verkiesingsadvertensies. Of die inhoud heeltemal strook met die ouditeur-generaal se beoordeling van hul bekwaamheid is ‘n ander vraag.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het selfs die amptelike oorhandiging van ‘n brandweerstasie in die Oos-Kaap behartig, en die SABC het daaroor nuusdekking verleen.

Die aanduidings is dat daar redaksielede binne die SABC is wat integriteit het, en in verset kom teen die wanaanwending van die openbare uitsaaier. ‘n Mens sou bietjie meer deelname van die minister oor die kwessie wou sien.

Ja, dit kon erger gegaan het. Sirië stuur op ‘n presidentsverkiesing af wat skynbaar in Junie of Julie gehou gaan word, en vir die eerste keer sedert die huidige president, Bashar al-Assad se pa die diktator van die land geword het, gaan dit moontlik wees dat meer as een presidentskandidaat se naam op die stembrief sal wees. Maar… die presidentskandidaat moet die goedkeuring van die bestaande lakei-parlement wegdra, en mag onder meer nie kriminele rekords hê nie, wat die deelname van enige rebelleleier onmoontlik maak. Boonop word Assad se verkiesingsveldtog reeds op reuse skaal op staatskoste gevoer, selfs al het hy tegnies nog nie “besluit” of hy hoegenaamd gaan deelneem nie.

En hierdie verkiesing is ligjare beter as die bewind van Idi Amin Dada, waar die media (daar was nie iets soos onafhanklike media nie) opdrag gehad het om elke paragraaf wat oor Amin handel, met ‘n ander van sy string titels te begin. In die eerste paragraaf sou hy bv “pres. Idi Amin Dada, VC, OBE” ens wees, in die tweede paragraaf, “His excellency”, in die derde “Field Marshall”, die vierde “Doctor” en so meer. ‘n Berig van korter as vier paragrawe wat Amin se titels volledig kon beskryf was byna ondenkbaar.

In Sentraal Afrika, het die destydse despoot, Bokassa, homself tot keiser verklaar en die land tot die Sentraal Afrikaanse Keiserryk herdoop. Die internasionale media het deurgaans “keiserryk” tussen aanhalingstekens geskryf.

Die naaste wat Suid-Afrika hieraan gekom het, was in die beëdigde verklaring van Zuma oor die omstrede skildery wat hom so aanstoot gegee het. Daarin het Zuma onder meer respek geëis omdat hy president van die ANC en van die land was, en dit toe al ‘n ruk lank was.

Respek is egter nie iets wat deur ‘n amp of titel, of die lengte of snelheid van ‘n blouligbrigade, of die hoeveelheid geld wat aan die president se privaat woning spandeer is gemeet word nie, maar iets wat deur optrede en houding verdien word. Die mees welvarende persoon kan immers so kômmin soos geroeste draad wees.

Zuma se regspan het ook by geleentheid aangevoer dat Zuma, so lank hy president is, nie regtens vervolg kan word nie “soos in die VSA en Frankryk die geval is”. Daardie reël geld wel Frankryk, maar nie die VSA nie, en ook allermins Suid-Afrika.

Tog, so lyk dit, word die presidentskap ingespan om regsprosesse te fnuik om Zuma sy dag in die hof te ontneem. “Keiserrykies” word gebou deur ‘n netwerk van aanstellings van vertrouelinge, strategiese begunstiging, strategiese keldering, Zoeloefikasie, en, ja, Zumafikasie.

Elke nou en dan moet iemand as sondebok gebrandmerk word en gesink word.

‘n Mens sidder oor waarheen die Zumafikasieproses die land reeds sou gevoer het as dit nie vir burgerlike instellings was nie, wat die staat kort-kort voor die hof sleep en al verskeie oorwinnings behaal het.

Trouens, so oorheersend word die burgerlike instellings se rol, dat juis hulle die kiesers begin vermaan om hulle nie net hierop te beroep nie, maar steeds hul verantwoordelikheid by die stembus te gaan nakom.

Elke greintjie energie, waaksaamheid en hulpbron is nodig om te verseker dat die verkiesing nie gesteel word nie. Dit sluit egter nie daardie soort verset wat op brandstigting, plundering en selfs moord uitloop nie – terwyl die betrokkenes in ieder geval weer hul kruisies agter die ANC gaan trek.

Omgord met ‘n goeie gordel, en net om seker te maak, gebruik ‘n stywe rek om die middel en haal sommer die kruisbande ook uit die kas, want die aanslag om die opposisie se broeke af te pluk is intensief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.