Nuuskommentaar: Zuma, tyd om te gaan

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie 2014. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie 2014. Foto: SA Government News, Facebook

Dat pres. Jacob Zuma al lankal die trekpas moes kry, weet baie mense al baie lank. Trouens, in daardie geledere is konsensus dat Zuma nooit president moes geword het nie.

Maar die knyptang wat nou om hom gepers word, werp tog ‘n ander lig naamlik Zuma se eie formele standpunt dat hy nie aan vervolgingsprosesse onderhewig gestel behoort te word nie, omdat dit sal verhinder dat hy behoorlike aandag aan sy verantwoordelikhede as president kan skenk.

Trouens, sy regspan het selfs aangevoer dat hy, as sittende president “soos in die VSA” gevrywaar is van vervolging. Dit was ‘n verleentheidwekkende blaps, want daardie “voorreg” geld vir die Franse president, maar nie dié van die VSA of Suid-Afrika nie.

Selfs met die jongste verwikkelinge, waaronder die verpligte beskikbaarstelling van die sogenaamde “spioenasiebande” en die Openbare Beskermer wat nie onder enorme ANC-druk swig nie, is dit te betwyfel of Zuma “voldoende aandag” aan sy presidentskap kan skenk. Die laaste bastion van sy argumente om nie die leisels te oorhandig nie, is onsagkens uit sy hande geruk.

Nie dat te veel gelees moet word in vorige standpunte van die president nie. Ons onthou almal hoe hy in ‘n stadium op sy dag in die hof aangedring het en daarna selfs die ondenkbare gedoen het om daardie dag in die hof vry te spring. Een daarvan ironies, was dat Zuma die grondwet oortree het met die aanstelling van ‘n direkteur van nasionale vervolging, deur nié, soos die grondwet, behoorlik sy aandag te skenk aan die grondwetlike oorwegings wat geld by daardie aanstelling nie.

In die korrupsieverhoor van Schabir Shaik het die regter bevind dat daar ‘n “algemene korrupte verhouding” tussen Shaik en Zuma was. Die aanklagte teen Zuma – sowat 700 – is egter deur die destydse waarnemende direkteur van openbare vervolging, adv. Mokotedi Mpshe, teruggetrek. Die omstrede bande wat nou in die howe ‘n vreemde regsverloop gevolg het wat grens aan minagting van die hof, is as rede aangevoer. Nou sal onafhanklike mense kan oordeel of die bande inderdaad iets bevat wat die terugtrekking van die aanklagte kon regverdig. Maar dit is net die helfte van die verhaal.

Mpshe het ‘n Hong Kongse uitspraak as regsgesag gebruik om sy optrede te regverdig. Daardie saak is egter kort daarna onder appèl ter syde gestel.
Die prosesse wat nou volg – sou die inhoud van die bande inderdaad toon dat daar geen behoorlike regsgronde was om die aanklagte teen Zuma terug te trek nie – is lank en Zuma sal waarskynlik genoeg middele tot sy beskikking hê om dit genoegsaam te vertraag dat sy tweede termyn eers afloop. Maar, weereens volgens sy eie argumente, sal dit hom dan verhinder om behoorlike aandag aan sy verantwoordelikhede as president te skenk.

Dié hele kwessie val saam met die debakel waarin die Nkandla-sage beland het. Die verguising van die Openbare Beskermer het nou vir Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en sy adjudant, kriminele aanklagte op die lyf laat loop. Bykans elke meningsvormer in die land het standpunt téén die ANC ingeneem, wat skynbaar bereid is om alles op te offer om Zuma se bas te red. Dit, ter wille van iemand wat volgens baie aanduidings in elk geval “uitgefaseer” word.

Nog ‘n belangrike aspek is die onttrekking van drie belangrike rolspelers aan die werksaamhede van die Seriti-kommissie wat veronderstel is om agter die kap van die byl van die wapenskandaal te kom. Die kommissie se geloofwaardigheid was reeds voor die jongste verwikkelinge erg geërodeer, en die jongste verwikkelinge sal die donker wolke net nog erger oor die kommissie – en in die proses ook Zuma – laat saampak.

Voor die algemene verkiesing het die ANC groot gewaag om Zuma die ANC se “gesig” vir die verkiesing te maak. Veral in Gauteng het hierdie hardkoppigheid geboemerang.

Daar kan kwalik van die ANC verwag word om openlik te erken dat dit ‘n strategiese flater was. Selfs al is dit volkome waar dat Zuma prakties op die ys geplaas is, en bloot seremonieel nog optree waar hy net sê wat vir hom gesê word om te sê, sal die ANC ter wille van sy eie beeld Zuma nie sommer oornag pos nie.

Dat Zuma dalk as “lame duck”-president sy termyn sal voltooi, met ander wat agter die skerms as poppemeester optree, troos maar min. Niemand, selfs nie adjunk-president Cyril Ramaphosa, staan duidelik as mag agter die troon na vore nie. Trouens, in hierdie stadium lyk dit onwaarskynlik dat Ramaphosa vir Zuma sal opvolg, met hardnekkige aanduidings dat dit ‘n vrou sal wees. Maar tot dan – wie sal Zuma se marionette-toutjies beheer? Selfs al is dit die werk van ‘n kollektief, boesem dit maar min vertroue in.

Maar selfs net ‘n seremoniële Zuma is problematies. As ‘n redakteur van ‘n groot Nederlandse koerant na Zuma se herverkiesing ‘n spesiale redaksionele kommentaar skryf en ‘n lang rits redes aanvoer oor hoekom dit ‘n fout was, is dit maar een aanduiding van watter skadelike aansien Zuma buite die landsgrense geniet. En dit beteken noodwendig skade vir die land.

Voeg hierby dat Suid-Afrika onder Zuma se bewind op omtrent al wat saakmakende indeks teruggesak het, en veral dramaties op die korrupsiepersepsie-indeks. Op die omkoop-indeks is Suid-Afrika se posisie beroerd en steek van Afrika se mees berugte korrupte lande Suid-Afrika na die kroon. Suid-Afrika se power posisie op die vredesindeks kan byna daagliks gesien word aan die hoë vlakke van geweldsmisdaad en die geweld waarmee stakings en diensleweringsbetogings gepaard gaan.

Suid-Afrika se tuimelgang op die persvryheidsindeks is bloot weens ‘n misverstand gestuit. Verslaggewers Sonder Grense het aanvaar dat toe Zuma die omstrede “snoerwet” vir ‘n paar tegniese regstellings na die parlement terugverwys het, Zuma “geweier” het om die wetsontwerp te teken.

As alles teen mekaar opgeweeg word, bly daar vir Zuma self net een eerbare opsie oor – om in sy politieke swaard te val. Daar is nou reeds geruime tyd sprake van Zuma se swak gesondheid, en sy besoek aan Rusland was juis deels om te gaan rus. Hy het dus nou die kapstok om met min bykomende skade sy goedjies te vat en na Nkandla terug te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charles ·

Suma was verseker die grootste fout wat ANC nog kon maak om hom as Pres aan te stel. Hy weet so min van land regeer as sy kop van sy gat!!! Hy try al sy politieke speelballe rond slaan om nie sy eie kop af te kap met sy swak leierskap nie. Hy is meer in die buiteland as in SA, terwyl die vure plek-plek smeul en elders al hoof brand.

Hy het net mooi niks vir die land beteken nie en het meer die land deur sy gat getrek en net probeer score met Nkandla ens. Sy so called maatjies wil ook seker nie meer aan hom vat met n geroeste braaitang nie. Hy is met korrupsie aan mekaar gesit en geen woord wat hy se is geloofwaardig nie. Hy is useless en iets so useless soos hy moes lankal op die ashope gesit het!! Raak onslae van daai suurstofdief sodat SA weer vorentoe kan beweeg en al die damages herstel kan word. Iemand moet ingryp en hom dwing met wetgewing on elke sent terug te bataal wat hy gesteel het met Nkandla.

Hy is net so n krimineel soos sy korrupte kommunisties maters. Al daai spioenasie bande sal bewys dat sy verlede hom ingehaal het en dat hy strafregtelik vervolg moet word. Hy hoort in die tronk! JZ tree tipies op soos Periandros van Korinte!! Gaan lees gerus daai storie. Hy wil altyd wette instel wat vir ander geld,maar hys die grootste boef van wette oortree en dan smeer hy alles toe.

Thys Human ·

Herman! Herman! Jy weet ek stem dikwels saam met jou, maar ek moet darem rerig nou maan dat jy hier ‘n kwaai saak teen Zuma inbring, maar helaas sonder behoorlike bewyse.

Ek stem saam dat daar yslike onweerswolke rondom die man opgesteek het (dalk opgesteek IS), maar oor al die sake is daar helaas nog nie behoorlike uitsluitsel nie.

Neem bv. die ding met die bande. Ja, die hof het gese die bande moet vir openbare beskouinbg vrygestel word. Maar wat is presies op daardie bande? Het Zuma homself in daardie gesprekke geinkrimineer? Ek twyfel sterk, maar indien wel, dan sal die bekendmaking daarvan binnekort (hopelik) hom mos totaal vernietig. Maar ons weet nog nie! Baie mense – lyk my jy ook – HOOP net!

Vat Nkandla. Al wat ons het is Madonsela se verslag waarin sy Zuma duidelik vryspreek van enige korrupsie. Maar sy bevind wel dat hy R20 miljoen moet terugbetaal omdat die kraal en die swembad en nog ‘n ding of twee nie streng volgens wetlike voorskrifte oor sekuritietsaspekte gehanteer is nie. Hy het nie die geld gesteel of die goed wederregtelik verkry nie. Hy, en/of sy ministers, het nie die papierwerk reg gedoen nie. Duidelik betwis hy dit en daarom sy antwoord/opdrag dat die minister van polisie die wetlike aspekte behoorlik laat ondersoek. Dis seker sy reg, is dit nie?

Vat die Guptas en Waterkloof-lughawe: Groot opskrifte en sterk bewerings dat hy wat Zuma is PERSOONLIK opdrag gegee het dat die Guptas daar kan land. Maar tot hede nie ‘n enkele, klinkklare bewys nie. Al wat wel duidelik is is dat ‘n vorige hoof van protokol wel toegelaat het dat die Guptas daar land omdat daar ‘n Indiese minister aan boord was. En toe kry die man eers afgradering en toe sommer groot bevordering! Maar laat ons nou maar erken: As hoof van protokol was dit binne sy magte om daardie besluit te neem – of hy nou deur Zuma stilletjies voorgese is of nie!

Die DA praat van 700 ander aanklagte, maar hulle kan mos tot in die grondwetlike hof gaan eis dat die dinge ondersoek word. Hoekom doen hulle dit nie?

Soos ek elders op die webblad gese het: As Zuma bo enige twyfel aan enige aanklag van korrupsie of wat ook al skuldig bevind kan word, moet hy tronk toe! Maar jy kan nie eis dat sy kop moet waai net omdat jy (soos ek) nie van hom en sy party hou nie. Dan eis ek sommer ook Zille se kop en al die koppe van die Malemas!

Dink weer, my vriend.

Herman Toerien ·

Dankie Thys
Ek dink nie ons verskil oor die regsbeginsels nie. Ek dink net as ‘n mens na enigiets kyk wat vaagweg van demokratiese konvensie ruik, dan is ons nou al by die vervaltyd verby. Ek besef ook dat hoewel daar steeds gevalle is waar ministers van Wewsterse lande hul goed vat en loop om ‘n soort morele verantwoordelikheid te aanvaar, soos met ‘n byna geslaagde terreuraanval op ‘n lughawe weens gebrekkige veiligheid of intelligensie, is daar in dieselfde soort geledere ook ‘n vasbbyt by daardie konvensie verby. Dink maar hoe het Nixon lank vasgebyt, en het Clinton die Levinski-sage oorleef. Nou het Hollende sy hoeveelste skandaal oorleef, om nie van die vorige Italiaanse eerste minister te praat nie. Maar ek dink nie daar is skade in om die soort konvensie te beskerm waar die land skade voorkom word wanneer sake begin deurskemer nie. Ons dink maar aan SP Botha, en selfs John Vorster. Dit sal tragies wees as die demokrasie juis ‘n skuiling bied aan hulle wat behoorlik onder die vvergrootglas geplaas moes word.
Groetnis van huis tot huis. Herman

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.