Ariel Sharon oorlede

Ariel Sharon

Ariel Sharon

Ariel Sharon, voormalige premier van Israel, is Saterdag in ʼn hospitaal naby Tel Aviv oorlede nadat hy agt jaar lank in ʼn koma was.

Hy was 85 jaar oud.

“Hy’s weg,” het sy seun Gilad aan verslaggewers by die Sheba-mediese sentrum in Tel HaShomer gesê. “Hy het gegaan toe hy besluit het om te gaan.”

Sharon is al sedert 4 Januarie 2006 in ʼn koma ná ʼn groot beroerte. Prof. Shlomo Noy van Sheba-hospitaal het gesê Sharon se hart “het verswak” en hy is omstreeks 00:00 oorlede.

Sy liggaam sal Sondag tussen 10:00 en 16:00 by die parlement in Jerusalem in staatsie lê om burgers die geleentheid te bied om hom te groet. Hy sal Maandagmiddag tydens ʼn militêre seremonie op sy plaas in die Negev-woestyn in die suide van Israel begrawe word.

Sharon was een van Israel se mees bekwame, maar mees omstrede politieke en militêre leiers. Sy genadelose metodes het tot sy bynaam “Die Stootskraper” gelei.

Eerste minister Benjamin Netanyahu het sy “diepe berou” uitgespreek en gesê Israel sal “vir altyd” Sharon in hul gedagtes hou.

Jibril Rajub, ʼn senior Fatah-amptenaar, was egter een van die persone in Ramallah wat Sharon se afsterwe verwelkom het. Sharon word deur talle beskuldig vir die afsterwe van Yasser Arafat in 2004. Arafat, voormalige leier van Palestina, se dood bly onverklaard. “Sharon was ʼn krimineel, verantwoordelik vir die sluipmoord op Arafat, en ons het gehoop dat hy in die internasionale misdaadhof sou verskyn as ʼn oorlogsmisdadiger,” het Rajub gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Nie Ariel Sharon maar Moshe Dayan was die man.Die Israeliese premiere is almal goed die een is net bietjie beter as die ander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.