Centurion-vrou in huis vir selfoon doodgeskiet

Fiona Finniss

Fiona Finniss (58) van Centurion is Woensdagoggend in haar huis tydens ʼn rooftog doodgeskiet.

ʼn Onbekende aantal mans het Finniss en haar man, Bob (73), omstreeks 04:00 in hul huis op ʼn kleinhoewe in Maraisstraat in Monavoni oorval terwyl hulle geslaap het. Finniss het wakker geword en begin skree toe sy die mans gewaar het. Hulle het haar in die maag geskiet en slegs met ʼn selfoon van die toneel gevlug. Finnis is glo weens inwendige beserings en bloeding op die toneel dood.

Lynda Stanton, Finniss se skoondogter, het aan Maroela Media gesê die voorval het die hele gesin geruk. “My ma was ʼn baie liefdevolle persoon. Ons is ʼn groot familie en sy het almal bymekaar gehou. Sy was baie spesiaal en almal was lief vir haar,” het ʼn bewoë Stanton gesê. Stanton sê haar ouers bly al ʼn geruime tyd op die kleinhoewe en dat misdaad in die gebied toegeneem het sedert daar met ʼn ontwikkeling van ʼn winkelsentrum in die omgewing begin is.

Kapt. Bonginkosi Msimango, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek die voorval.

Finniss laat haar man en twee seuns, Robert en Richard, agter.

Fiona saam haar man en seun Robert. Saam met hulle is Anna Otero Hita. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rina Roberts ·

‘n Mens se lewe is ‘n selfoon werd. Dit is skreiend dat die witmense so afgemaai word en die regering van die dag doen net mooi niks daaraan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.