De Doorns-staking: Boere versper pad na Ceres

Boere het Woensdag die enigste ingang na Ceres van Kaapstad met stukke rommel, klippe en sand versper.

Hennie du Preez, ʼn boer van Kanonkop, is een van sowat 10 boere wat die R46, sowat 25km buite Ceres blokkeer het. Hy sê hulle wil die Breedevallei van betogers beskerm. “Ons wil nie probleme naby ons plase hê nie, ons wil ons families beskerm,” het du Preez gesê. “Ons het saam met die polisie gewerk. Die polisie het gesê ons mag dit maar doen, omdat hulle reeds te veel probleme in Ceres ondervind het. Nou het ons die R46 versper om alles onder beheer te hou.”

Motors en vragmotors is langs die pad parkeer.

Die boere sê nie een van hul werknemers is by die betogings betrokke nie, en hulle blameer die protes op ʼn politieke agenda.

Die polisie was nie op die toneel nie, maar korrektiewe beamptes van Dwarsrivier-gevangenis verseker dat die betogers nie by die tronk, wat sowat 3km verder geleë is, kan uitkom nie.

Druiweplukkers in die Hexriviervallei betoog nou al langer as ʼn week oor hul lone en dring aan op ʼn dagloon van R150. Die hoogste bedrag wat deur die boere aangebied is, is R80. Die arbeiders verdien tans tussen R69 en R75.

Inwoners het Woensdagoggend motorbande by die informele nedersetting in De Doorns aan die brand gesteek en die pad na Stofland is met brandende motorbande versper.

Die polisie het rubberkoeëls na ʼn groep van sowat 70 beweerde plaaswerkers by Prince Alfred Hamlet in die Overberg gevuur nadat die groep die polisie met klippe begin gooi het.

Die polisie in die Wes-Kaap sê daar is talle berigte van padversperrings in die provinsie weens die staking, maar hulle kon nie bevestig watter paaie gesluit is nie.

Lees ook:
De Doorns: Motorbande aan die brand gesteek, paaie versper
De Doorns: Matrieks verhoed om eksamen te skryf
De Doorns: ANC vra boikot van SA wyne
De Doorns-staking brei nou uit na ander dorpe
De Doorns: Polisie ontken hulle het betogers aangeval
De Doorns: Marikana het na die plase toe gekom
11 plaaswerkers van De Doorns in hegtenis geneem
De Doorns-boere vlug van plase

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.