“Ek wou haar net klein bietjie seermaak,” sê “Modimolle-monster”

Johan Kotze, die "Modimolle-monster". Foto verskaf deur die SAPD

Johan Kotze, die sogenaamde “Modimolle-monster”, wat daarvan aangekla word dat hy ʼn aanval op sy vrou beplan en sy stiefseun vermoor het, verskyn Vrydag in die landdroshof in Modimolle.

Kotze, 50, is Woensdag omstreeks 12:00 in Modimolle in hegtenis geneem. Hy was sedert die misdade op 4 Januarie in sy huis in Modimolle gepleeg is voortvlugtend. ʼn Landswye mensejag is van stapel gestuur nadat Kotze in ʼn wit Toyota Fortuner gevlug het, en die ander drie mans wat hy glo met ʼn geweer gedwing het om sy vervreemde vrou om die beurt te verkrag, het te voet gevlug. The Star het Dinsdagaand berig dat ʼn plaaslike vrou hom by ʼn winkel, waar hy besig was om kos te koop, herken het en toe die polisie in kennis gestel het. Die polisie het die hele aand na hom gesoek. Kotze is later Woensdagmiddag in hegtenis geneem. Hy het geen weerstand gebied nie en het glo begin huil. EWN berig dat Kotze glo gesê het hy wil sy eksvrou “net so klein bietjie seermaak”. Hy het na bewering sowat 2 km buite Modimolle in ʼn bos in sy voertuig gebly.

Die 19-jarige wat in die aanval vermoor is, se begrafnisdiens vind vandag in Bela-Bela, Limpopo, plaas. EWN berig die pa van die seun het gesê die begrafnis lê soos ʼn berg voor die familie wat die emosionele trauma van die voorval probeer verwerk. “Ek het al ʼn paar keer gebid en vir hulp gevra dat ons hierdie voorval kan verwerk. Dit is iets wat jy nie verwag ooit met jou kan gebeur nie en dit is ʼn groot las om te dra,” het die pa glo gesê. Enigiemand kan die begrafnis bywoon.

Een van die drie werkers wat hy glo gedwing het om aan die aanval deel te neem, ʼn 42-jarige man, is Woensdag in Makapanstad naby Hammanskraal, noord van Pretoria, in hegtenis geneem. Hy sal ook na verwagting Vrydag in die landdroshof in Modimolle verskyn. Brigadier Hangwani Mulaudzi, woordvoerder vir die polisie in Limpopo, sê dat meer aanklagte by Kotze se dossier gevoeg kan word soos wat die ondersoek vorder. Die twee ander verdagtes is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tonnie ·

Gee hom vir ‘n paar vrouens , dan kan ons hom “‘n klein bietjie” seer maak!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.