Nóg ‘n brand by St Francisbaai

Foto: Richard Arderne, AlgoaFM

Noodreddingswerkers is Dinsdagmiddag in St Francisbaai waar ‘n huis in ligte laaie staan.

Daar word gevrees dat die brand weens die sterk wind na ander grasdakhuise in die gebied kan versprei, berig EWN. Bewerings dat die brand reeds na ander huise versprei het, kon egter nog nie bevestig word nie.

Nigel Aitken, ondervoorsitter van die plaaslike inwonersvereniging, het gesê daar is ‘n aantal voorkomende ontruimings, maar volgens hom is die brand reeds onder beheer gebring, berig AlgoaFM. Volgens AlgoaFM is daar nie enige beserings aangemeld nie.

Volgens St Francis Chronicle is die huis in Canalweg 5 wat aan ‘n Johannesburgse paartjie verhuur word. Dié paartjie het saam met hul Kanadese vriende gekuier. Een van dié persone het glo gesê hulle wou net aansit vir Kersete toe die brand uitgebreek het. Die ses mense in die huis kon die huis verlaat en van die toeriste kon hul paspoorte gryp. Die brand het glo op die boonste verdieping van die huis ontstaan. Die vakansiegangers het al hul besittings verloor, berig St Francis Chronicle. Klik ook hier om na foto’s op hul webwerf te kyk. 

St Francis Chronicle berig verder dat die brandbestryders, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die plaaslike rampbestuureenheid binne minute reageer het.

Meer as 70 grasdakhuise het op 11 November in die gebied afgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.