Hooggeregshofregter Jan Steyn sterf

Regter Jan Steyn Foto: Financial Mail

Regter Jan Steyn Foto: Financial Mail

Jan Hendrik Steyn, ʼn voormalige regter van die hooggeregshof, is Maandagoggend in Kaapstad oorlede.

Sy familie het in ʼn verklaring gesê hy het weens siekte in die ouderdom van 85 gesterf.

“Jan Steyn was ʼn geesdriftige voorstander vir geregtigheid en gelykheid in Suid-Afrika en het Suid-Afrika en verskeie SAOG-lande in die hoogste kapasiteit in reg en ontwikkeling gedien,” het sy familie gesê. “Hy het ere-doktersgrade van vyf Suid-Afrikaanse universiteite ontvang.”

Hy was ook 10 jaar lank kansellier van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika en het op die raad van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Suid-Afrika gedien.

Steyn het as ʼn regter in die Kaapstadse hooggeregshof gedien en was president van die appèlhof in Lesotho en het ook in die appèlhof van Botswana en Swaziland gedien.

Hy het gereeld besoek afgelê aan verskeie tronke, insluitend tronke waar politieke gevangenes, soos voormalige pres. Nelson Mandela, aangehou is. Hy het die owerhede probeer oorhaal om toestande by dié tronke te verbeter.

Hy is op 4 Maart 1928 in Kaapstad gebore. Hy word oorleef deur sy vrou Ann Steyn, vier kinders, drie stiefkinders, 15 kleinkinders en drie agterkleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.