Moordskuldigbevinding – Amanda Knox se eks-kêrel by grens gevang

Amanda Knox

Amanda Knox

‘n Video volg onderaan die berig. Raffaele Sollecito, wat net soos sy eertydse Amerikaanse meisie, Amanda Knox, pas tydens ‘n herverhoor skuldig bevind is aan die moord op Knox se Britse kamermaat, Meredith Kercher, is op die Italiaanse grens aangekeer.

Sy paspoort was ingetrek om te voorkom dat hy uit die land vlug.

Sollecito, ‘n Italiaanse student, is na die herverhoor 25 jaar gevangenisstraf opgelê, terwyl Knox tot 28 jaar en ses maande tronkstraf gevonnis is.

Kercher is in 2007 in die Italiaanse dorp, Perugia vermoor. Sy was toe 21.

Die twee is ook aanvanklik aan die grusame moord skuldig bevind, maar is op appèl vrygespreek. Knox het hierna na die VSA teruggekeer.

Die Italiaanse Hoëraad het egter besluit dat die hof verskeie onlogiese afleidings gemaak het, en het beslis dat die verhoor van nuuts af gehou moet word. Die saak kan nou weer op appèl gaan.

Knox, wat volhou oor haar onskuld, het nie na Italië teruggekeer vir die verhoor nie, omdat sy nie verwag het om ‘n regverdige verhoor te beurt te val nie. Dit is nog onbekend of die VSA haar aan Italië sal uitlewer.

‘n Man wat in die Ivoorkus gebore is, Rudy Guede, dien reeds tronkstraf vir die moord uit.

‘n Volledige verloop van die saak kan hier gelees.

Bronne: ANP, Trouw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.