Nuuskommentaar: 11 jaar ná 911 – Oorlog teen terreur

Vandag is die elfde herdenking van Al Kaïda se aanvalle op die Wêreldhandelsentrum in New York. Destyds het die naam Osama Bin Laden oornag wêreldwyd ‘n huishoudelike naam geword.

Bykans drieduisend mense is in die aanvalle in New York en Washington dood, terwyl nog ‘n vliegtuig neergestort het toe die passasiers dit by die terroriste wou afneem.

Skielik is die gedagte dat die wêreld die probleem van internasionale terreur onder die knie begin kry het nie net as mite bewys nie, maar is ook getoon dat tegnologie vir terroriste ‘n ongelooflike arsenaal besorg.

Die era van Carlos die Jakkals, die Tupomaro’s, Baader Meinhofs, Japannese Rooi Leër en die ou PLO-verwante groepe is miskien iets van  die verlede. Die Ierse republikeinse Leër en die Baskiese ETA het die wit duif nader geroep. Maar in hul plek het baie ander gekom, en sommiges ook weer gegaan.

Hamas is haaks met die PLO, Hizbollah in Libanon is met naelstringe aan Assad in Sirië en die Iranse bewind verbind. Turkye loods gereeld oorgrensoperasies om die Koerdiese PPK in Irak op die nes te gaan aanval.

Maar nog nie een kon die verbeelding so aangryp soos die aanvalle in New York nie.

Skielik kon die Islam se invloed op die wêreldorde nie meer verstaan word deur bloot die invloed van Sjiïete, hul Alawietevertakking, en die Soenies te begryp nie. Dit was nou nodig om ‘n beter begrip te vorm van ander dwarsliggende strominge, soos die invloed van die nieu-Salafiste, en hul Wahabitiese vertakking. Hiermee gewapen kan die wêreld maar net begin hoop om ‘n idee te vorm van wat onderliggend is met verwante groepe wat in Somalië, Nigerië en Mali bedrywig is. Lees meer hieroor hier.

‘n Tweede, onafhanklike groep is die terreurbedywighede wat met die dwelmhandel verbind word. In Colombia is van die vernaamste rebellegroepe kwalik te onderskei van dwelmkartelle, maar in Mexiko probeer die kartelle nie eens ‘n politieke vyeblaar aantrek nie.

Maar die oorlog teen terreur word  nie net deur fisiese beveiliging gedoen nie. Deur die tegnologie word bankrekeninge opgespoor en gevries, kommunikasie word wêreldwyd gemonitor om spore te probeer identifiseer van planne om dade van terreur te pleeg.

Die veiligheidsmaatreëls wat wêreldwyd by veral lughawens geld, herinner aan ‘n beleg, eerder as ‘n poort na vryheid.

In hierdie oorlog is daar ook helde, soos die passasiers van United Air se Vlug 93 wat die terroriste probeer oorrompel het.

Terreur bly soos ‘n veelkoppige slang teenwoordig wat dikwels nie-selektief slagoffers eis as deel van hul teateropstellery om die wêreldgehoor se aandag te trek.

Terreur is ‘n euwel en het geen plek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.