Nuuskommentaar: Mantashe en die landbou

Gwede Mantashe

Dit sal ‘n ruk duur voor vasgestel sal word of Gwede Mantashe se oggendpraatjie gister by Agri SA se nasionale kongres, en die ANC se aandpraatjies by die ANC se kongres aan die einde van die jaar ooreenstem.

Op die oog af was daar ‘ n hele aantal gerusstellende geluide uit die ANC se sekretaris-generaal se opmerkings tydens sy optrede as gasspreker.

Mantashe het onder meer die versekering gegee dat daar onder ‘n ANC-bewind nooit sprake sal wees van grondgryp sonder kompensasie nie.

Hy het voorts erken dat baie van die probleme met grondhervorming geleë is in die oneerlikheid van private waardeerders en amptenare. Dié probleem word al lank deur die landbou gemaak, net om te vind dat die vinger maar net weer en weer na die boere gewys word.

Voorts het Mantashe gesê grondhervorming moet nie voedselsekuriteit in gedrang bring nie.

Voorts het Mantashe die landbou aangemoedig om opkomende boere met raad en daad by te staan. Mantashe het selfs so ver gegaan om te sê dat hy self as opkomende boer nie aarsel om kommersiële boere raad te vra nie.

Die werklikheid is dat verskeie projekte reeds van stapel gestuur is, soos Vrystaat Landbou se mentorskapprojek, maar nie entoesiasties deur die regering ontvang is nie. Die omvang van raad en daad op individuele vlak oor grensdrade heen van goeie buurmanskap sal waarskynlik nooit aan bekend wees nie, omdat dit selde aan die groot klok gehang word.

Niemand sal die georganiseerde landbou kan verkwalik as eers gewag word om te kyk of die oggend- en aandpraatjies ooreenstem nie. Die rede is te vind in die oggend- en aandpraatjies van nie net die huidige minister nie, maar ook vorige landboupolitici soos wyle Dirk du Toit.

Twee jaar gelede het die minister van Landbou en Visserye, Tina Joemat-Pettersson, by Agri SA se kongres in ‘n skynbare versoeningsgebaar gesê daar het ‘n kentering by die ANC in hul gesindheid oor kommersiële landbouers ingetree. Sy het onder meer gesê kommersiële landbou is nie meer ‘n vloekwoord in dié organisasie nie.

Dit het geblyk ‘n opflikkering in die dikwels stormagtige verhouding tussen die minister en georganiseerde landbou te wees. Toe sy ‘n jaar tevore minister van landbou geword het, na ‘n tydperk as Noord-Kaapse LUR vir Landbou, het verskeie landbouleiers groot verwagtinge vir haar as goeie minister uitgespreek. Daar is onder meer na haar as ‘n absolute vars bries verwys, en oproepe is gedoen om haar as minister te laat slaag sodat die stem van redelikheid gehoor sal word.

‘n Jaar later was landbouleiers ontstoke toe Joemat-Pettersson gewaarsku het dat landbouleiers nie moet dink “hulle kan sonder politici klaarkom nie, want dit is die politici wat die wette maak en oor die wel en wee van die landbousektor besluit.” Mnr. Neels Ferreira, destydse voorsitter van Graan SA het toe gesê  dat landbou nie hierdie politieke uitsprake van gesiene mense en mense wat van beter behoort te weet nodig het nie, en gevra of die landbouleiers nou moet toyi-toyi.

Ook in 2010 het die destydse president van Vrystaat Landbou, Louw Steytler, na Joemat-Pettersson verwys as onbeskof en onprofessioneel na sy  onder meer Agri SA se afvaardiging by ‘n beraad oor kwesbare plaasbewoners verkwalik het omdat hulle uitgestap het. In die woordewisseling, wat ook op die vlak van Agri SA gedraai het, het Vrystaat Landbou ook regsadvies ingewin vir ‘n moontlike lasteraksie teen die minister. Landbouleiers was veral ontstoke oor daar hulle as “wreed” verwys is.

Vandag is die minister die gasspreker by die kongres. Dit sal verbasend wees as die landbouleiers nie dit wat sy vandag sê, met ‘n hele paar knippies sout sal neem nie.

Heel waarskynlik sal die landbouleiers dit wat Mantashe gesê het veel ernstiger opneem. Mantashe blyk meer nootvas te wees. Hy steek nie sy politieke en ideologiese agenda weg nie, maar laat blyk dat hy ook nie uitsprake wil maak oor hoeveel grondhervorming reeds plaasgevind het alvorens die grondoudit nie voltooi is nie. Hy gee toe dit is moontlik dat swart mense in privaat transaksies meer grond kon aangeskaf het as wat die regering se amptelike grondhervormingsprogram kon vermag het.

Dit is in skrille kontras met ‘n artikel in Rapport wat onder Joemat-Pettersson se naam verskyn het, en waarin steeds na die ou tuislandoppervlakte van 13 persent verwys is. Voorts is die honderde duisende hektaar bruin landelike gebiede en ander grond wat voor 1994 in swart, bruin en Indiërbesit was, ook by die 13 persent ingedeel.

  • Sake tussen georganiseerde landbou en die regering is nie maanskyn en rose nie.
  • Vroeër vanjaar het Vrystaat Landbou weer ‘n skikking buite die hof bereik na die regering onderneem het om sy verpligtinge oor onder meer grensbeveiliging te verskerp.
  • By die huidige kongres het  die president van Agri SA, mnr. Johannes Möller, onder meer gesê dat hy baie ontevrede is met die vordering van die landbouveiligheidsplan.
  • Agri SA is onderweg grondwetlike hof toe oor die verlies aan mineraleregte, of te wel boere se ondergrond.

Georganiseerde landbou word deur baie persepsies in die gesig gestaar, soos dat blanke boere hul grond bekom het deur, dit van swart mense te steel, en dat besit van grond noodwendig ook welvaart beteken.

Wetgewing, soos verblyfsekerheid, wat nie op ander werkgewers, staat inkluis, van toepassing is nie word op die landbou afgedwing.

Die landbouer is nie die vyand nie, en behoort nie soos die vyande behandel te word nie.