Nuuskommentaar: Om trots op jou land te (kan) wees

Die ou grappie lui dat Suid-Afrika by geleentheid vir Zimbabwe aangespreek het oor dié land so baie spandeer aan ’n ministerie vir hawens en diepseevisserye, en dan by Suid-Afrika kom bakhand staan. “Julle het dan nie eens ’n kuslyn nie.”  Waarop Mugabe antwoord: “Hoor wie praat, julle het ’n minister van wet en orde…”

Op ‘n manier het dié grappie nou werklikheid geword.

Hoe ondenkbaar sou dit nie lyk as die volgende in Die Burger sou staan nie: “Adjunkminister Piet Pompies van inligting en kommunikasietegnologie  het aan Die Burger gesê as ‘n ministerie is hulle verheug oor die jongste plasing van Suid-Afrika op die persvryheidsindeks. ‘Krediet in hierdie prestasie moet nie net die ministerie toekom nie, maar ook die joernaliste, want sulke prestasies kan ons nie behaal as beide spanne nie saamwerk nie,’ het hy gesê. Hy het gesê die media moet voortgaan om kritiese en gebalanseerde nuus weer te gee.”

Maar dit het wél die voorblad van die Republikein in ’n buurland,  Namibië, gehaal:

Adjunkminister Stanley Simataa van inligting en kommunikasietegnologie, het aan Republikein gesê as ‘n ministerie is hulle verheug oor die uitslag.
“Krediet in hierdie prestasie moet nie net die ministerie toekom nie, maar ook die joernaliste, want sulke prestasies kan ons nie behaal as beide spanne nie saamwerk nie,” het hy gesê. Hy het gesê die media moet voortgaan om krities
e en gebalanseerde nuus weer te gee.

Daar is ’n belangrike rede hoekom dit in die Republikein sou verskyn, maar nie Die Burger of Beeld nie. Namibië het van die 20ste tot die 19de plek op die indeks opgeskuif, en Suid-Afrika het van die 42ste plek tot die 52ste plek afgeskuif. Namibië is nou die mees persvrye land in Afrika – ’n posisie wat Suid-Afrika nog in 2003 beklee het, maar nou is verskeie Afrikalande al jare meer persvry as ons land.

Suid-Afrika word reeds onder meer gepenaliseer weens die regering se volharding om die snoerwet in die wetboek te kry, en hef aan lê dus voor wanneer dit uiteindelik wel gebeur.

Maar is dit al hoekom die voorblaaie tussen die twee lande so verskil?

Word Suid-Afrika soveel vrotter as Namibië regeer dat ’n mens half simpel voel om te sê die land het iets positiefs vermag waarin die regering ’n aandeel het? Namibië is 58ste op die korrupsiepersepsie-indeks (Botswana 30ste), terwyl Suid-Afrika 69ste is.

Op die vredesindeks is die gaping nog groter – Namibië is in die 49ste plek, en Suid-Afrika is die 158ste mins vreedsame land op aarde.

Net op die indeks vir mislukte state klop Suid-Afrika vir Namibië en dis ook maar net-net.

Ook hier op Maroela het mense van Namibië al kapsie gemaak as daar iets krities oor hul land selfs net gesuggereer word – mense wat beslis nie Swapo-ondersteuners is nie, maar wat trots op hul land en selfs hul regering is.

Kyk maar hoeveel lesers het hulle daarin verlekker toe Suid-Afrika uiteindelik die nommer een posisie behaal – die miserabele-indeks vir lande met ‘n groot ekonomie.

Is dit so onmoontlik vir Suid-Afrika om met Namibië mee te ding? Moet Zimbabwe noodwendig die “navolgenswaardige” voorbeeld wees? Of liewers, maak die regering dit nou so onmoontlik vir doodgewone Suid-Afrikaners om trots op hul land te wees? Van trots op die regering wil ’n mens nie eens praat nie.

Pas, na nog ’n wrede moord berig Volksblad: “ ’n Nuwe webwerf word beplan om die misdaadprobleem in Suid-Afrika aan die buitewêreld uit te lig. Die webwerf gaan deur gewone Suid-Afrikaners begin word om internasionale toeriste en verbruikers bewus te maak van die misdaadsituasie in die land.”

Toe dieselfde ‘n paar jaar gelede gebeur het was dit nog erg politiek inkorrek en is uit talle oorde, nie net die regering nie, veroordeel.

Die Sentrum vir ‘n Grondwetlike Demokrasie skryf pas soos volg: “Dit is elke individu, groep en regsentiteit se reg om te enige tyd luidkeels en in die openbaar sulke kritiek te lewer – selfs al neem die regering aanstoot. Gegewe ons grondwetlike bestel, is die onlangse uitbarsting deur die regerende African National Congress (ANC) oor ‘n advertensieveldtog deur Eerste Nasionale Bank (ENB) – wat etlike kritiese opmerkings en aantygings oor die regering ingesluit het – ‘n rede tot kommer. In sy veldtog blyk ENB die regering te kritiseer vir endemiese korrupsie, ‘n mislukte onderwysstelsel, hoë misdaadvlakke en amper elke ander tekortkoming wat (die) meeste Suid-Afrikaners bekommerd laat.”

Dit is net nie meer moontlik nie om kritiek wat die regering as dislojaal, en die Jeugliga as hoogverraaad beskou, bloot af te maak as komende van “die regses,” “die blankes,” “die boere,” die Afrikaners, Afriforum of welke groep wat nie tipies die ANC steun nie. Selfs prof. Jakes Gerwel, wat na homself as moontlik ’n useful idiot verwys het vir sy steun aan die ANC, het twee jaar voor sy dood in Rapport geskryf die ANC mag ’n vrot regering wees, maar darem nie ’n landsvyand nie.

Wie is nou trots op die misdaadsituasie in die land? Wie kan trots wees op stakers en betogers wie se aksies in totale vandalisme en plundery verval? Of die minister van polisie (ja, die eertydse wet en orde) wat ontken dat plase spesiale beskerming nodig het – daar waar boere en hul gesinslede volgens Afriforum ’n drie keer groter kans as ander burgers het om vermoor te word, en dikwels in die proses gemartel te word. En dit van ’n minister wat pas in die Wes-Kaap in die hof slae gekry het, en deel van die paneel was wat pas die regering se verslag oor Nkandla bekend gestel het wat deur bitter min mense gesluk word.

Kritiek en skeptisisme op regerings is uiteraard nie eie aan Suid-Afrika nie, en soms ook skisofrenies. Pas na die Amerikaners Barack Obama vir ’n tweede termyn herkies het en 54 persent van die kiesers aandui hulle is tevrede met die president se werk, maar net 39 persent meen die VSA is op die regte koers.

Wie kan iemand verkwalik wat na ’n kort wegbreek na die Wes-Kaap terugkom en sê sy trek word gelaai? Hy is klaar met die Vrystaat en trek nou Wes-Kaap toe wat skoon is en waar munisipaliteite opsigtelik funksioneer soos hulle moet.

Dit werk ook nie om iemand te probeer slaan tot hy gelukkig is nie. Soos ’n luisteraar wie se ore oor die lug goed gewas is omdat hy ongelukkig is dat sy radiopragramme weens die sokkeruitsendings in die slag bly. Hy moet die “groter prentjie” sien. Hy moet saam trots wees en meegevoer word. His Master’s Voice in al sy glorie.

Maar hy moet betaal-TV kry wat hy nie kan bekostig nie om sy sportsoorte – rugby, krieket (behalwe soms en uiters selde in sy moedertaal) en tennis te kan kyk.

Mense wil steeds trots wees. Die regering kan hom hóé kwaad maak, maar as die Bokke speel, of die Proteas, is hy trots agter sy span. Maar sport is nie al nie – behalwe vir die talentvolles plaas dit nie kos op die tafel nie.

Dis ’n land wat kan presteer maar wat deur Botswana en Namibië op amper elke terrein uitgestof word. Die buurlande wys wat gedoen kan  word.

Niemand (behalwe die regering) sal stry dat Suid-Afrikaners rede het om te kritiseer nie.  Die probleem is dat dit naderhand ’n lewenswyse word. Oor byna elke saak word die treurmares uitgeryg. Is daar ’n program oor hoekom kerke leegloop, stroom die klagtes in, al het die regering regtig geen aandeel daarin nie.

En presies hoeveel aandeel het die regering daaraan dat mense mekaar soos barbare op die internet takel? Lafaards agter skuilname sit en veroordeel en belaster ander met verdigsels en infame leuens. Van ’n behoorlike skuldigbevinding is daar geen sprake nie, en daarom het dit in Nederland nou die bynaam “skandpaal-joernalistiek” gekry – hoewel die verbeelding dalk effe gerek moet word om hierdie kuberterroriste “joernaliste” te kan noem.

Gelukkig is daar nog mooi verhale ook – hoe derduisende mense die internet kan inspan om met groot deernis Pippie se beterskap te volg, om ’n noodfonds te skep vir die hospitaalkostes vir ’n egpaar wat wreed tydens ’n plasaanval vermink is…

Lewer geregverdigde kritiek veral in die politiek waar dit die brandstof van veelpartydemokrasie is, maar pas jou self op dat die negatiwiteit jouself nie oorweldig nie. Vir elkeen wat sy kop in die sand loop druk, sneuwel ’n kryger wat dinge deur sy stemreg, deur sy beïnvloeding, deur sy gebede kan verbeter. Maar wees op die uitkyk vir dit wat positief is, waarop jy trots kan wees, en bou daarop sonder om verwaand te word.