Nuuskommentaar: Baleka in, Hlaudi uit …

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Twee hofsake met skynbaar teenstrydige bevindinge het die afgelope week in wese die kwessie van die regerende party se magsmisbruik onder die loep geneem. In die een geval het die Wes-Kaapse hooggeregshof die howe beperk in hul bevoegdheid om in die werking, selfs gebrekkige werking van die wetgewende gesag, in te meng.

Die appèlhof het egter korte mette gemaak met die uitvoerende gesag se selftoegeëiende reg om die grondwet te misbruik.

Appels kan nie met pere vergelyk word nie. En of die Kaapse howe beïnvloed word deur ’n provinsie waar regeersake normaalweg veel meer volgens die letter en gees van die grondwet geskied, sal ook ’n kwessie van subjektiewe dermuitrygery wees. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het dit immers ook gestel dat daar perke is en waar die hof wel ’n plig sal hê om in te tree.

Die ANC het nietemin in die proses ’n yslike oorwinning behaal deurdat bevind is die voorsitter van die ANC, Baleka Mbete, mag ook die speaker wees, ten spyte daarvan dat min mense glo sy is onpartydig – inteendeel, sy is ’n ontplooide kader met die opdrag om te verseker dat Luthuli-huis se wense die parlement se bevele word. Dit druis teen alle konvensie van grondwetlike demokrasie in.

Die appèlhofuitspraak is egter die kernbelangrike in die huidige omstandighede. Dat die feitebasis oor die skorsing al dan nie van Hlaudi Motsoeneng handel, is kwalik ter sprake. Die hof het bevind dat die aanbevelings van die Openbare Beskermer bindend is, en nie deur ’n ander optrede as regterlike hersiening ter syde gestel kan word nie. Dit hou nou onder meer implikasies in vir die “parallelle” en verleentheidwekkende ondersoeke wat die president oor Nkandla ingestel het.

Speaker Baleka Mbete. Foto: GCIS

Speaker Baleka Mbete. Foto: GCIS

Dit is nog nie heeltemal duidelik wat die SAUK gaan doen nie. Teen gisteraand het dit gelyk of by die appèlhof se beslissing gehou sal word, en dat Motsoeneng se skuld al dan nie deur die gevolglike dissiplinêre proses bepaal sal word. Dis die logiese stap. Dit is egter ook baie waarskynlik dat so ’n inval by die regsproses te veel implikasies vir die president inhou, en dat aansienlike druk op die SAUK geplaas sal word om die saak na die grondwetlike hof te neem, in die hoop dat dié hof van die appèlhof sal verskil, en Zuma weer van die hoek af sal kry.

Aan die ander kant, vroeg volgende jaar dien die kwessie egter in elk geval voor die grondwetlike hof in ’n saak wat die EFF aanhangig gemaak het, en waartoe ook die DA en die Openbare Beskermer hulle as partye gevoeg het.

Met die uitsondering van die huidige openbare beskermer, Thuli Madonsela, het die ANC daarin geslaag om redelik seker te maak dat die bekleërs van die amp van openbare beskermer in die sakkie is, en sal die ANC nie te veel hoofbrekens besorg word nie. As parlementslid van die ANC was die ANC stellig oortuig dat dit met Thuli ook nie anders sou wees nie, en hulle het hulle vieslik misgis. Thuli se termyn begin egter einde se kant toe staan, en die ANC sal stellig met haar opvolger doodseker maak hulle ontplooi dié keer ’n klakkelose politieke kommissaris. Maar intussen brand kwessies vas, en die speelruimte vir Zuma word al hoe enger.

Al sien Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sake nou anders, is daar vir die gewone Suid-Afrikaners oplaas weer iets wat sin maak – in ’n positiewe sin. Hulle het nou iets in die hand om weg te beweeg van die piesangrepubliek met ’n selfgemaakte stamkoning (maar met ons belastinggeld) waarmee die ANC so behep is.

Maar nou gaan die fokus eers verskuif na die naweek se Toekomsberaad. Maandag gaan die land al ’n beter plek wees as wat dit aan die begin van hierdie week was, en dit het niks met die Springbokke se oorwinning oor die Amerikaanse Eagles uit te waai nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Loeis ·

Selfs al het Madonsela tot ‘n ander bevingding gekom oor Nkandla as wat sy het, sou ‘n hof steeds daardie besluit kon omgekeer het.

Die Appelhof bevinding gaan in elk geval voor die Konstitusionele Hof dien, wat dit in alle waarskynlikheid gaan handhaaf. Wat die EFF se saak net baie nader aan oorrwinning bring, want eintlik moet die hoogste hof net die OB se bevinding bevestig, en dit ‘n bevel van die hof maak.

— Die groot vraag is of die regering die hof se uitspraak gaan respekteer. —

Tydens en na 1994 het die internasionale wereld en ook die plaaslike media Mandela en die nuwe bewind wat saam met hom gekom het, opgehemel. Dit lyk of hulle illusie uiteindelik ontbloot word vir wat dit is, naamlik dat die sogenaamde “Nuwe” Suid-Afrika bloot ‘n magsoorname was, en nie ten beste nie.

Mens wonder of die mense wie voor en tydens 1992 niks van selfbeskikking wou hoor nie, nou begin wonder.

Dave ·

Dit moet seker soort van ongemaklik wees om met die wete saam te leef as jy tydens die referendum ja gestem het. Troos is jy kan jouself bluf deur àl die skuld op FW te pak.

Gerhard Bezuidenhout ·

Dave en toe ons die libtards destyds gewaarsku het is ons as die dommies afgemaak.

Loeis ·

Hulle doen vandag steeds. Daardie selfde mense staan vandag by ‘n ander party. Een wat min of meer dieselfde steun ook het as wat hul NP in 1994 gehad het. En ondersteun dieselfde beleid waarmee die ANC so teen ons diskrimineer.

Hierdie land is ‘n gekke paradys.

Johann Marx ·

NIKS gaan met Mnr Motsoeneng gebeur nie. Dit was sy beurt om sy beursie vol te stop, en hy het dit gedoen so vinnig as wat hy kon voordat iemand ‘n bohaai opskop daaroor. Hy gaan nou nog ‘n paar miljoen kry om hom te laat loop…..en dan is dit die volgende kader se beurt. Volgens koerant berigte het die Uitsaaier alreeds omtrent R34 miljoen so bestee oor die laaste vyf jaar. Kader in…..Paar miljoen om te loop….Kader uit. Volgende kader in….Paar miljoen om te loop…Kader uit. En so sal ons van hulle miljardêrs maak….een op ‘n slag.

Dave ·

Net soos jy sê, Gerhard. Daar word gesê hulle het nie geweet nie maar ons het dan geweet. Makisaki, ek was net in die bui om dit te sê. Vele van hulle stem buitendien nou DA wat die ander uiterste is.
Die kiesstelsel behoort nie toe te laat dat onkundiges stemgeregtig is nie. Ek vind dit gewoonlik baie interessant wanneer ek ‘n vrou ontmoet wat anders stem as haar man – selfs al stem ek nie met haar politieke siening saam nie. Dit beteken dat sy nie ‘n Venter-sleepwaentjie is nie maar haar eie rigting neem. Haar eie besluite maak. Dit geld natuurlik nie net vir vrouens nie maar was bloot ‘n verduideliking by wyse van beeldspraak omdat ‘n groot massa mense nie eie besluite neem nie maar bloot die stroom volg.

Johann Marx ·

En o ja…..die proses wat ek hier bo beskryf is nie net beperk tot die Uitsaaier nie. Dit gebeur ook met gereelde tussenposes by PetroSA, Spoornet, Telkom, Poskantoor, Eskom, Sasol, staatsdiens, en al die groot staats en semi-staats instansies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.