Nuuskommentaar: Het SA Aprilgekland geword?

Argieffoto

Argieffoto

Gister was Aprilgekkedag. Die eintlike nuus is nie dat baie mense uitgevang is nie, maar dat daar soveel vrae was of ware stories dalk Aprilgekgrappe was. Hier en daar moes redakteurs selfs inspring en verduidelik dat sekere stories inderdaad die waarheid was. ’n Goeie voorbeeld was dat Afrikaans en die ander nie-Engelse tale van die SAUK se nuuskanaal op DSTV gaan verdwyn.

Toegegee, dat dit op 1 April geskied het en dat die Afrikaanse nuus na berig word verreweg die meeste kykers trek, moes noodwendig die wenkbroue laat lig het.

Om suksesvol propaganda te bedryf, beteken nie alles wat verkondig word, moet noodwendig die waarheid wees nie, maar dit moet minstens geloofwaardig wees. Min of meer dieselfde beginsel geld vir ’n goeie Aprilgekstorie. Span genoeg bekende feite in om geloofwaardigheid te bied, en die skrywer kan baie mense met die grootste wolhaarstorie flous.

Maar in Suid-Afrika vind daar soveel gekhede plaas dat twee rubriekskrywers, Lood van Beeld en Vryburger van Die Burger, vandag daarop wys dat omtrent enigiets wat spekskieters aan die publiek opdis as heel moontlik waar ervaar kan word. Lood stel dit so: “Eintlik moet Lood homself gedurig herinner wat die datum is, want deesdae neem die politiek so dikwels sulke absurde afmetings aan dat geen mens meer weet of dit 1 April is of nie!”

Net om dié waarheid te onderstreep, het die president se woordvoerder ’n verklaring uitgereik om ’n paar verspotte “kabinetsaanstellings” bekend te maak. Min mense het so ’n poets van Mac Mahraj verwag, en dit het plek-plek ’n rukkie gevat voordat joernaliste die kloutjie by die oor gekry het. Die president is oorsee (al weer) en daar is ’n waarnemende president, en ’n kabinetskommeling deur die president sou onmoontlik wees.

Of die drie politici tevrede is dat hul name gebruik is om die media en die publiek te ontstel – dat juis hul omstredenheid gebruik is om so ’n kontroversiële “kabinetsuitbreiding” byt te gee – is nie bekend nie.

Vryburger skryf so oor dié gedoente: “Mac ‘Die Bek’ moet egter nie te selfvoldaan wees oor die ritse oproepe wat hy gekry het van mense wat wou vasstel of dit waar is nie. Met Nommer Een aan die stuur is enigiets mos moontlik. Neem byvoorbeeld Zizi Kodwa, wat volgens Mac se verklaring die portefeulje ‘so­siale binding en nasiebou’ sou hanteer. Vergeleke met die president en talle ministers is dié man mos besónder gekwalifiseerd …”

Vir bitter baie mense, veral minderheidsgemeenskappe, is die regering se geloofwaardigheid so daarmee heen dat die regering se strategie om “die goeie stories” te bemark, eenvoudig net sy eie geloofwaardigheid verder in gedrang bring. ’n Regering wat op soveel terreine bewese aanjaag en tot Jan van Riebeeck daarvoor aanspreeklik hou, kan mos nie regtig nog sukses behaal vir geloofwaardige goeie stories nie, is ’n gereelde gedagtegang. Elke party het egter ’n groep ondersteuners wat die leierskap van daardie party blindelings steun, en net niks negatiefs van die leier of leiers wil hoor nie. Dit is juis hierdie faktor wat die destydse PW-grappe so suksesvol gemaak het. Die suksesvolste was dat daar nie meer PW-grappe is nie, want alles is die waarheid.

Voorts is daar die goedgelowiges. Dit is waarskynlik hierdie groep wat die ergste deurloop onder die Aprilgekgrappe. Die harde werklikheid is dat hierdie groep dikwels die sout van die aarde verteenwoordig. Sonder hulle het ’n volk net skeptici oor, wat visie en positiewe verwagtinge inhibeer.

Maar hul goedgelowigheid word gereeld geteiken. Elke jaar sedert 2002 word (van) hulle uitgevang met ’n wolhaarstorie dat Mars op 27 Augustus so na aan die aarde gaan kom dat dit net so groot soos die volmaan sal vertoon. Elke jaar span wetenskaplikes vooraf elke moontlike mediamiddel in om die publiek te maan (of te Mars?) oor die komende wolhaarstorie, maar elke jaar word mense geflous. Verlede jaar het verskeie mense die volgende oggend in plasings op die RSG-program, Sterre en Planete, se Facebookblad geskryf hoe hulle deurnag vir die verskynsel gewag het, maar niks het dan gebeur nie. Op die einste blad is die lede vooraf gewys op die komende wolhaarstorie.

Dit is leeuwêreld daarbuite, en almal het af en toe nodig om verby daardie starheid te kan kyk en lekker te lag. Al beteken dit om vir ’n mens self te lag omdat jy (al weer) op 1 April in die “vangnet” beland het. Dit skep ook ’n klankbord om te wys hoe die werklikheid al soms in die absurde ontaard het dat ’n Aprilgekstorie nie sommer duidelik uitstaan nie.

Nou is ’n ratverwisseling egter nodig. In baie gemeentes word vanaand ’n “donker Nagmaal” gevier ter herdenking van die Christendom se belangrikste geleentheid – toe Jesus aan die Kruis gesterf het.

Baie sal op die paaie wees.

Lesers word ’n geseënde Paasherdenking toegebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

scalla ·

Die land is een groot sirkus met al die narre, kort nog net die tent.

Dries ·

Jy maak n fout Scalla, n sirkus is n goed georganiseerde onderneming waar alles op presiese maat van musiek en die sekonde wyser gebeur, dit kan nie vergelyk word met regering.

Pietie ·

Janee, die land is een groot April Fools grap. Vanaf die polisie tot die poskantoor tot Eskom tot die regering….als een groot April Fools grap!

frikkie botes ·

April grap is dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons sonde. Die waarheid is dat hy vermoor was deur die kerk omrede hy die mense se oe oopgemaak het teen die kerk wat baalaanbid.

Herman Toerien ·

Frikkie, dis net belangrik om daarop te let dat die voorlopers in die gebruik van Aprilgekdag, lank voor Christus reeds bestaan het, en heeltemal onafhanklik na die Kruisingsgebeure staan. Periodiek verkondig mense, onbewus van die geskiedenis, dat die Aprilgekstorie met die spottry met Jesus aan die kruis verband hou. Dit het nie. Sou dit so gewees het, sou die gebruike lank reeds in die Chriselike samelewings uitgesterf het, en minsens sou Maroela nie daaraan deelgeneem het nie.

RIANA BRITS ·

Wil net weet of die Nkandla storie die waarheid is? Het Zuma die staat gedagvaar?
Is daar verval aan sy huis?

Herman Toerien ·

Dagsê Riana
‘n Nuuskommentaar is veronderstel om kommentaar te lewer op nuus wat reeds in die openbare domein is, en sal nie sommer self nuus breek nie. Daar was nie sulke nuus oor Zuma wat dagvaar, en verval aan die huis nie. Maar soos dit met Aprilgek-stories gaan, is daar genoeg waarheid ingeleep om die hele storie ‘n skyn van geloofwaardigheid te gee, bv die verval van die veiligheidsmuur, en die staat se eie aansprake oor die aardbewinggevaar daar. Daar was egter ook ‘n leidraad in verskuil dat dit ‘n Aprilgek-storie was. Binne die “Latynse regsterm” het die woorde Prima (eerste) Abrilius voorgekom. Ook dit is nie self uitgedink nie – die SAUK het ‘n paar jaar gelede ‘n Aprilgekstorie gehad oor die nuwe vissoort met twee koppe (een aan elke kant van die lyf) wat ontdek is. In sy “wetenskaplike naam” was ook prima Abriilius ingebou.

Ben ·

Ja-nee! Hier is dit “Anything goes” asook “Anything is plausible” in this country! Terwyl die res van die wêreld grinnik vir ons en ons sg. “leiers.” Dit is elke dag 1-April hier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.