Nuuskommentaar: Het Zuma nou sy eie galgtou geknoop?

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Die gevolge van pres. Jacob Zuma se afdanking van Nhlanhla Nene, minister van finansies, is soos ʼn outydse stoompot waarin die druk binne opgebou het en waarvan die “melkkannetjie” bo-op nou oplaas afgeskiet het. Zuma gaan dit waarskynlik polities oorleef, maar die land gaan dalk nie so gelukkig wees nie.

Die wyse en tydsberekening waarmee Zuma van Nene ontslae geraak het nog voor die deursnee Suid-Afrikaner kon leer om Nene se voornaam, Nhlanhla, te spel en reg uit te spreek, toon finaal dat Zuma die handboek, “Hoe om ’n land in sy maai in te regeer”, inspan.

Die manier waarop dinge nou gedoen is, gaan dit baie moeilik maak vir die nuwe minister, David van Rooyen om, indrukwekkende kwalifikasies ten spyt, die pyp te rook.

Hoe die rand teen die vernaamste geldeenhede getuimel het, toon dat die wêreld se markleiers ook meen Zuma het op groot skaal geblaps. Boonop is daar ’n groeiende vermoede dat die skuif meer te make het met die remme wat Nene op Zuma se hegte vriendin, Dudu Miyeni by die SAL aangedraai het, as kommer oor die land se ekonomie. Trouens, Zuma en sy eie administrasie se spandabelrigheid en traagheid om korrupsie werklik hok te slaan, word ook as redes genoem. Dit het byvoorbeeld pas aan die lig gekom dat minister Edna Molewa ’n afvaardiging van meer as 130 mense saamgeneem het na die wêreldklimaatberaad wat in Parys, Frankryk, plaasvind.

Maar die omvang en wydlopendheid van die kritiek wat Zuma nou te beurt geval het, laat die vraag ontstaan of Zuma nie nou selfs vir die ANC te ver gegaan het nie? Die reaksie herinner aan ’n outydse stoompot waarin die druk binne te hoog opgebou het en die “melkkannetjie” bo-op nou uiteindelik afgeskiet het.

Is daar ’n moontlikheid dat hy nou ook ge-PW kan word? Dis onwaarskynlik dat daar weer ’n geleentheid kan opduik om Zuma die trekpas te gee, maar aan die ander kant, met Zuma weet ’n mens nooit. Hy het telkemale bewys hy kan dit wat as die laagste moontlike laagtepunt van sy regeervermoë beskou is, nog loshande oortref. Elke keer met rampspoedige gevolge vir die land.

Al hoe meer oë is gerig op 2017 wanneer die volgende ANC-kongres plaasvind en Zuma se huidige termyn as ANC-president verstryk. Gaan dié geleentheid benut word om Zuma as partyleier te vervang, en hom dan as staatspresident te herroep voor sy laaste termyn in 2019 verstryk? Cosatu het Zuma se stap erg gekritiseer, en daar was kritiek uit belangrike kringe binne die ANC. Wits se rektor, Adam Habib, het ’n beroep op die ANC gedoen om van Zuma ontslae te raak as president.

Tim du Plessis meen in sy artikel vandag in Media24 se publikasies dat Zuma nou politieke terreur gepleeg het.

Die Britse koerant The Telegraph stel dit blatant dat Zuma een van sy “min gerespekteerde ministers” afgedank het, en glo pogings om die president se spandabelrigheid in die bek te ruk is nou tot nadeel van die land se spartelende ekonomie daarmee heen.

Kommentators meen daar bestaan reeds voor die jongste debakel groot spanning tussen Zuma en van die vernaamste grootkoppe in die party, soos Gwede Mantashe en Cyril Ramaphosa. Dis agter veral leiers wat die aktiewe politiek verlaat het en dus nou onaantasbaar is, wat openlik in hul kritiek teenoor Zuma is.

Met die vorige algemene verkiesing het die ANC teen alle waarskuwingstekens in volhard om met Zuma as hul “gesig” die verkiesing te veg. En die prys betaal. Die gevolg was dat ’n hele paar politici en aspirant-politci se politieke drome verpletter is terwyl die oorsaak steeds gekussing in die presidentstoel bly sit het. Saam met hierdie klein slagting was daar die gevolglike posteverliese van ondersteuningspersoneel. Met die komende munisipale verkiesing kan die slagting onder ANC-ampsdraers, raadslede en ondersteuningspersoneel nog veel groter wees. Vir baie hiervan is die verskil tussen die paal haal of nie die verskil tussen ’n luukse lewe en werkloosheid met volslae armoede.

Gaan hierdie ondersteuners wie se posisies in gevaar verkeer so entoesiasties wees om weer die kiesers uit te daag om Zuma as die “gesig” te gebruik? Gaan dit wys wees om die verkiesing hoegenaamd tegemoet te gaan met Zuma as leier?

Gaan die ANC se groepie van oudstes dalk weer intree en die president voor stok kry? Die laaste keer so ver bekend wat hierdie skimagtige groep ringkoppe die president oor die kole gehaal het, was toe Zuma ’n vriend se dogter in die ander tyd gesit het. Dié groep kan nie en sal nie die president afdank nie, en hom hoogstens vermaan om soos ’n goeie leier na goeie raad te luister.

In ’n gevestigde demokrasie sou Zuma al self lankal sy goed gevat en geloop het. Maar Zuma is steeds besig om die “demokrasie” na sy smaak te modifiseer sodat hy al hoe meer onaantasbaar word. Die galgtou gaan weer gebêre word, maar minstens weet die ANC hy gaan die prys daarvoor by die stembus betaal. Ongelukkig het die land lankal reeds begin betaal vir die gevolge van Zuma se “presidentskap”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

otter ·

Ek bid dat God spoedig met sy hand teen die muur skryf en Zuma verwyder omdat hy die Gewer van die gesag wat aan hom gegee is openlik minag.

Pierre ·

Die feit bly staan dat die agbare President die vermoe het om binne ‘n Demokrasie soos ‘n Diktator op te tree. Dit is duidelik dat sy binnekring nou weet om liefs niks te se nie indien hulle in hul magsposisies wou aanbly nie. Gaan my teen en jy is uit, dis gewoonlik diegene wat ‘n positiewe bydrae kon maak. Ek is egter ongemaklik oor die feit dat selfs die Adjunk President, ‘n persoon wat weet van besigheid nie eers die guts het om op te staan nie. Met genoeg binnekring steun kan hy mos dinge laat gebeur. Die feit is verder dat hy wat Zuma is nie die elende voel soos die meerderheid van die bevolking nie, hy het alles wat sy hart begeer, selfs al sou hy nou die eerbare ding doen en sy pos verlaat. Hoe oortuig ons die land dat die Regering eintlik die land in die afgrond in bestuur het. Sou die kiesers weer val vir vals beloftes deur die ANC is dit verseker die einde en lyk ons binnekort soos Zimbabwe, want Zuma gaan alles in sy vermoe doen om soos Mugabe eiehandig die land te regeer. Hoe moeilik ookal vir die ANC, erken nou dit is ‘n fout en forseer hom om te gaan.

chrisp ·

Herman.
Die ANC gaan bitter min afstaan met die verkiesing en indien wel meer aan die EFF.

Dan ·

Hy het nie die mentaliteit om afstand van sy pos te doen nie, ook sal hy hom nie laat dwing nie.

Grassie ·

Ek begin wonder of Zuma werklik die nommer een knoeier in die land is. Ek is nie ‘n aanhanger van samesweringsteorië nie maar dit begin vir my al hoe meer lyk of Zuma net ‘n handpop is van ‘n sterker mag as hy. Dink terug aan die manier waarop hy aan bewind gekom het. Hy was op daardie stadium, volgens berigte, finansieel in die moeilikheid, hy het ‘n saak van verkragting teen hom hangende gehad en die tronkdeure het vir hom gewink op ‘n hele klomp ander sake. Sy een korrupsie-medepligtige was reeds in die tjoekie. Die feit is, dit het op daardie tydstip baie sleg gegaan met ou Zoempas en hy was beslis manupileerbaar. Gestel hy is toe deur ‘n sterk groepering genader met ‘n voorstel.
“Ons sal jou die president van die land maak. Ons sal jou finansiële probleme laat weggaan. Ons sal jou stat in Nkandla herbou en ontwikkel. Ons sal vir jou ‘n luukse vliegtuig gee waarmee jy die hele wêreld vol kan rodrits, selfs by die kwien gaan tee drink. Jy sal ‘n belangrike man word. Maar ons het sekere voorwaardes. Jy maak soos ons sê, ons sal al jou besluite neem, alle toesprake sal vir jou uitgeskryf word.” Dink enigiemand ‘n gewese beeswagtertjie met std twee sal dit nie aanvaar nie?
Wie so ‘n instansie mag wees is onseker, wat wel baie seker is, is dat die SAKP ‘n baie groot rol speel. Die verwoesting van die land se ekonomie waarmee Zuma besig is is ‘n direkte aanslag op ons kapitalistiese ekonomiese stelsel. Wanneer die land finaal bankrot is kan die SAKP instap en sê dat kapitalisme gefaal het en dat dit nou ‘n sosialistiese bestel se beurt is. En dan sommer vir ou Zoempas blameer vir die gemors. Hy sal net giggel, want dit is ook iets wat hulle hom aangeleer het om moeilike vra mee te ontduik.

Johannes Meintjes ·

… en verstommend betaal die land se 53 miljoen of meer burgers skynbaar gehipnotiseerd graag hierdie baie onbekostigbare prys van ‘n onbevoegde president se doen en late?

herman fourie ·

The only thing that will work right now is a tax strike . ! Lets do it !

Lothar ·

Baie goeie artikel. Ek merk veral die verwysing na die artikel in die Britse koerant. Wat moet die buiteland van Suid-Afrika dink?

Fanie ·

Dit is nie onmoontlik nie Grassie. Ek sê al lánkal Zuma word voorgeskryf!! Die wat hom voorskryf sorg dan ook dat daar ‘n uitkoms of plan B is. Mens sal nooit weet nie né. Wie het vir Zuma gestem as President? Hy is net gekies sonder enige goed deurdinkte gevolge wat dit vir ons land kan inhou!!
En dit was in die Parlement self waar hy gekies is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.