Nuuskommentaar: Mosie van wantroue in Zuma

Pres. Jacob Zuma op 19 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor sy staatsrede Foto; Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma op 19 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor sy staatsrede Foto; Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

In die anale van die geskiedenis sal opgeteken staan dat Agang, wat ’n mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma in die parlement sou indien, op die laaste nippertjie koue voete gekry het.

Maar is dit so eenvoudig? Het die ANC nie tog ter wille van Zuma weer vrot eier in die gesig gekry nie?

Sonder ’n geheime stemming en onder die wakende oog van Luthuli-huis se ontplooide Zuma-lojalis, Baleka Mbete, was dit ’n uitgemaakte saak dat die mosie nie net sou sneuwel nie, maar dat die ANC ’n mosie van volle vertroue in Zuma sou voorstel en aanvaar.

Wat Agang nou gedoen het, was om bepaalde grondwetlike leemtes bloot te lê. Tot Agang se krediet, hy het die hof vooraf genader om ’n geheime stemming te probeer moontlik maak, maar die hof sal eers later uitspraak lewer. Agang wou die mosie tot ná die hofuitspraak uitstel, maar dit is geweier.

Die Agang wat in die parlement ontplooi is, is nie die geesteskind van die stigter, dr. Ramphela Mamphele, nie. Die huidige hoofkarakters het in die politiek die reputasie dat hulle soos probleemkinders is wat hul ouers vermoor het om die plaas te erf. Benewens Mamphele self, het ander gerespekteerde mense, soos adv. Mike Tshishonga, in die slag gebly. Die huidige ampsdraers het nie naastenby die aansien van diegene met wie hulle hardhandig afgereken het nie.

Die gesamentlike opposisie se nydigheid, saam met die ANC, oor Agang se “morsery” van die parlement se tyd, is dus nie onverwags nie.

Tog het Agang ontbloot dat die ANC die beergreep wat dit vanuit Luthuli-huis op die parlement uitoefen, nie gaan prysgee nie. Baleka Mbete sal eenvoudig tegelyk die ANC se nasionale voorsitter (met presidensiële aspirasies) bly én sy sal speaker bly wat ’n mate van onafhanklikheid verg. Sy het voorheen, voordat sy hierdie magsposisie binne die ANC verwerf het, ook ’n tyd lank onsuksesvol as speaker gedien. Haar aanstelling het dus niks met haar bekwaamheid om as speaker te dien, te make nie.

In ’n koukusgebonde opset soos Suid-Afrika se parlement, dien ’n mosie van wantroue op die aarde geen doel nie. Voor 1994 is dit eintlik net behou omdat dit deel van die tradisie was, soos geërf uit die Britse parlement. Keer op keer het die mosie op ‘n mosie van vertroue in die regerende party uitgeloop, terwyl die see nie die opposisie kon skoonwas nie.

’n ANC-lid wat dit sou waag om saam met die opposisie vir ’n mosie van wantroue te stem, is so goed soos ’n politieke lyk. Vir baie sal dit ’n nuwe lewe van armoede beteken. Ambassadeurskappe as troosprys is ondenkbaar.

Trouens, die ANC het selfs al heksejagte uitgevoer en opgetree teen ANC-LP’s wat tydens stemmings nie in die parlement aanwesig was nie en wat daarvan verdink is dat hul gewete hulle nie toegelaat het om ten gunste van daardie wetgewing te stem nie.

Die vorige speaker, Max Sisulu, wat werklik hard probeer het om die veronderstelde rol as speaker te vervul (nadat hy ook veroorsaak het dat ’n paar van sy besluite in die howe omgekeer moes word – onder meer juis oor die reg om ’n mosie van wantroue in te stel), is vir sy getrouheid aan sy amp in die politieke wildernis gewerp. Trouens, dit lyk of die banvloek selfs sy suster, Lindiwe Sisulu, getref het, wat sedertdien in mindere ministeries ontplooi is en byna so stil soos ‘n muis met pantoffels geword het.

Laat daar nie twyfel wees nie. Die ANC wend al sy magsmiddele aan om Zuma te beskerm. Selfs instellings wat los, of redelik los van die ANC moet staan, soos die Openbare Beskermer, die howe, die parlement, die boere, die media (soos die uitdeel van staatsadvertensies)… noem maar op, die Leviete word jou gou voorgelees as jy nie inval by die totale aanslag om Zuma te beskerm nie. Daar is selfs kommer dat die land se “intelligensie”-dienste sukkel om die lyn tussen staats- en ANC (Zuma) -belange te vind.

LP’s wat gewoon te bang sou wees om teen Zuma te stem, geheime stem of te not, sou daar ook wees.

Een van die jongste voorbeelde van ’n magsgreep is die aanwysing van Vuma Mashinini, Zuma se spesiale raadgewer, as nuwe voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Opposisiepartye staan hierdie openlike plundering van ‘n onafhanklike instelling verbete teen, maar die ANC gebruik sy meerderheid eenvoudig om dit te stoomroller. Minstens twee partye, die DA en EFF, win regsadvies in oor die moontlikheid om die howe te nader. Die Vryheidsfront Plus wys op die verkiesingsbedrog wat OVK-amptenare op Potchefstroom gepleeg het en waaroor hof toe gegaan moes word. Die onafhanklikheid en integriteit van OVK-amptenare moet bo verdenking wees.

Agang oordeel daar is genoeg ANC-LP’s wat ’n mosie van wantroue in Zuma sou steun as geheime stemme uitgebring sou word. Dit is moeilik om te sê of dit so is, want die keuringsproses om tot LP vir die ANC te vorder, behels dat enige anti-Zuma-sentimente gou uitgesnuffel sou word.

Sou die onmoontlike tog gebeur, en ’n mosie van wantroue slaag, sou Zuma volgens konvensie as president moes bedank. Dan het Agang die land ’n enorme guns bewys.

Sonder die geheime stemming sou die debat oor die wantrouemosie bloot weer ’n geval van Zuma-bashing wees.

Daar is natuurlik ’n groot gevaar verbonde daaraan as die demokrasie in ’n diktatuur van die (vermoedelike) meerderheid ontaard. Die stemgeregtigdes verloor vertroue in die proses en in die proses ook die grondwet wat dié stelsel (hoewel nie die misbruike nie) voorskryf. Die demokrasie is egter veel groter as die parlement en juis daarom moet met groot erns gewaak word teen die aanslae op persvryheid en die dreigemente teen burgerlike organisasies.

In ’n nuwe rubriek van Max du Preez op Netwerk 24 wys hy daarop dat die mate waarin Zuma beledig word, in die vorige bedeling ondenkbaar was. Hy self is “dosyne kere” voor die hof gesleep oor hy “nare goed” van die laaste twee staatshoofde (van die vorige bedeling) geskryf het. Hy is wel bekommerd oor die opkoms van Zuma se “sekurokrate.” Elkeen sal Max se siening weeg teen sy eie ervaringsveld – die mense wat ander as die “Vorster-bende” uitgeskel het, of selfs “Vorster-varke” en nie daaroor voor die hof gesleep is nie, maar juis nou ’n beklemming oor die futiliteit van demokrasie ervaar…

Juis daarom is dit belangrik dat burgerlike instellings met getalle en ledegeld versterk word, om wal te gooi teen die erosie van demokratiese vryhede, minderheidsregte, mediavryheid en burgerlike vryhede, intellektuele vryhede en ander sodat ons nie vreemdelinge in ons eie land word nie. Só sal instellings soos die Openbare Beskermer, universiteitsoutonomie, die magte van skoolbeheerliggame, taalregte en ander, die Zuma-era oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Ek stem, elke burger wat ons land op koers wil hou, sluit aan by AfriForum. Net saam kan ons die land staande hou. Dit gaan baie sleg in hierdie land, ons moet help waar ons kan om dit ‘n beter plek te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.