Nuuskommentaar: Rassisme en verheerliking van apartheid strafbaar?

Argieffoto

Argieffoto

Met die groot ophef oor die jongste gerapporteerde voorvalle van rassisme en beweerde rassisme, en die Menseregtekommissie se aankondiging dat dié voorvalle ondersoek gaan word, word die onus egter ook op die kommissie geplaas om te toon dat dit ewehandig en nie-rassig is in sy hantering, deur ook sake wat lank reeds aangemeld is en waar swart mense die beweerde oortreders is, te begin afhandel. Indien ewehandigheid nie intree nie gaan die onverkwiklikheid voortduur en in alle waarskynlikheid eskaleer.

Rassisme is weer vierkantig op die ontleedtafel, en het reeds ’n paar stertjies bygekry, maar politiekery dreig ook reeds om enige oplossing te laat ontspoor.

Dis nou ’n geval van katvoet loop, en om nie ’n duidelike krisis onbenut te laat om die onderliggende probleme te takel nie.

Die vinnigste manier om die kwessie te laat ontspoor is om te maak asof die euwel van rassisme slegs ’n wit teenoor swart verskynsel is, want so ’n houding is self grondig rassisties. Dit is nié net ’n wit teenoor swart verskynsel nie, en AfriForum het reeds verskeie klagtes vanoor die spektrum by die Menseregtekommissie gelê waarvan nie een afgehandel is nie. As die persepsie ontstaan dat die Menseregtekommissie deel van die probleem eerder as van die oplossing is, dan is die land diep in die sop. Die grondwet verbied immers onbillike diskriminasie, en om een rassegroep vir rassisme uit te sonder is duidelik ongrondwetlik, en diskrimineer erg teenoor die lede van daardie groep wat hulle nié hieraan skuldig maak nie.

Tog, in Adriaan Basson, hoofredakteur van Netwerk24, se bespreking van die huidige krisis, “Wit mense kan nie langer stilbly oor rassisme”, word die geleentheid verbeur om kontekstueel na die probleem te kyk, en word die “bydrae” van swart mense en selfs die regering tot die probleem, dus nie genoem nie. Kommentaarskrywers by die artikel doen dit wel. Beeld en Die Burger deel ook vandag ’n hoofartikel, “Geen plek vir rassisme in Suid-Afrika”, maar noem net die jongste voorvalle hoewel die saak wel in breër konteks bespreek word.

Hiermee word nie ontken dat rassisme nie ’n probleem by baie wit mense en ook Afrikaners is nie. Baie webwerwe en Facebook-bladsye van verantwoordelike instansies het outomatiese filters ingebou waardeur lesersbydraes met sekere kwetsende woorde in, outomaties nie geplaas word nie. Soms is dit nogal ’n groterige werk om die lys by te hou soos lesers nuwe terminologie ontwikkel om neerhalend na ander rassegroepe te verwys. Sommige bydraes moet steeds met die hand verwyder word. Soms is dit maklik om bydraes te identifiseer wat die bestaande wette soos haatspraak oortree, maar soms is dit moeilik en word die “sensors” erg verkwalik. Lesers kan ook dikwels nie verstaan hoekom een webwerf hul bydraes ongehinderd sal plaas, en ’n ander dit verwyder, of sommer uiteindelik alle bydraes van ’n bepaalde persoon blok nie.

Diegene wat so maklik rassistiese uitlatings maak verf in ’n gepolariseerde omgewing soos dié van Suid-Afrika teikens op die rug van mede- wit mense en mede-Afrikaners.

Gelykberegtiging is nie onderhandelbaar nie. In die jongste verlede het daar selfs boeke verskyn oor hoe die land daaruit sou sien as daar nie wit mense in die land was nie. Vreeslike geïdealiseerde prentjies word geskets. Dit word bespreek en geanaliseer en deel van die land se aktualiteit gemaak. Die reaksie sou egter heeltemal anders wees as iemand ’n boek sou skryf met die titel: “Wonderlike SA sonder swart mense.”

Terwyl die EFF (na wat berig word) blatant is in sy voorneme om wetgewing op die wetboek te plaas wat wit rassisme teenoor swart mense strafbaar sou maak, is dit nie so heeltemal duidelik wat die ANC met sy planne vir wetgewing wat rassisme strafbaar sou maak in die oog het nie. Deur dit te koppel aan die verheerliking van apartheid skep egter die indruk dat die ANC in sy persepsie ook dink aan wit rassisme teenoor swart. En dit is in wese ook rassisties.

Intussen het die kwessie ook in die geledere van politieke opposisie wortel geskiet, en gaan ’n taai tameletjie wees. Die DA se skerp reaksie van optrede teen ’n gewone DA-lid, Penny Sparrow, word deur die Christen-Demokratiese Party (CDP) beskryf as “me thinks thou dost protest too much”.

Die DA se posisie is onbenydenswaardig. In sy hantering van die Dianne Kohler-Barnard-geval het daar onafwendbaar soveel los drade oorgebly dat nog ’n geval nodig was om die ANC sonder skietgoed te laat. In die proses moes ’n klein mossie dien om soos grootwild gejag te word.

Met die skikking wat tussen AfriForum en die ANC oor die Julius Malema-haatspraaksaak in die appèlhof bereik is, het die ANC onderneem om sy lede nie vrye teuels oor soortgelyke kwessies te gee nie. Dit is ’n bevel van die hof gemaak. Alle swart mense, en dus ook nie alle swart mense wat hulle aan haatspraak en rassisme skuldig maak, is ANC-lede nie. Tog word die indruk gewek dat die ANC nie juis oor sy voete val om bedenklike uitlatings wat ras-kwetsend is wat deur sy lede gemaak is, waaronder pres. Jacob Zuma self, tot orde te roep nie. Dink ook maar aan Lawwe Lulu (Xingwana) se misplaaste uitlatings oor Afrikanermans wat weens hul Calvinistiese opvoeding tot geweld geneig sou wees. Voorheen, as minister van landbou, het sy op Kerkplein wit boere daarvan beskuldig dat hulle gereeld plaaswerkers aanrand en verkrag.

Die versoeking is groot om voor te stel (of die versugting uit te spreek) dat daar bloot ʼn “reset”-knoppie gedruk word en van voor af begin bou word aan rasse- en tussengroepverhoudinge. Ons gaan ons egter kort voor lank in ’n post-Waarheid-en-Versoeningskommissie-era bevind as ons nie eerlik, en van alle kante, die probleem grondig takel nie. ’n Leser, Arnold Meyer, het die volgende in sy reaksie op die gemelde stuk van Basson geplaas:

“Adriaan, ek stem saam dat rassisme verwerplik is, dat dit afstootlik is om ʼn hele groep mense of enige ras met ape of ander diere te vergelyk. Lees egter gerus die kommentare op jou artikel. Ons kry nie werk nie, want ons is wit, ons kan nie kontrakte kry nie want ons is wit, ons kinders kry nie keuring vir kursusse nie, want hulle is wit, ons mag nie ons monde oopmaak oor korrupsie of swak dienslewering nie, want ons is wit, ons is verantwoordelik vir alles wat sleg is (van Van Riebeeck se tyd af), want ons is wit, daar word gesing dat ons doodgemaak moet word, want ons is wit, ons word daagliks aan passiewe (en deesdae ook aktiewe) aggressie deur diensverskaffers blootgestel, want ons is wit, ons mense word in ons huise vermoor, maar as ons kla is ons rassiste, want ons is wit, ons leef in bewende vrees vir ons kinders se toekoms, want ons is wit, ons mag nie van Totius hou nie, want hy was wit, ons hele geskiedenis is krimineel, want ons is wit, ons moet (volgens ʼn “twiet”) uitgewis word soos die Jode in Nazi-Duitsland, want ons is wit, ons taal word uitgeroei by universiteite en in die daaglikse lewe, want ons is wit, ens. Ek was maar ʼn kind in die laaste jare van apartheid; my jong dogtertjie is maar net ses, maar sy word klaar gehaat, want sy is wit.”

’n Ellelange lys kan hierby gevoeg word.

Nou is die onus op die Menseregtekommissie om al die klagtes wat AfriForum en ander aanhangig gemaak het ongeag die ras van die verklaagde af te handel en sy nie-rassige ewehandigheid te toon. Dit sal nie die einde van die pad wees nie, en ewehandigheid kan die Menseregtekommissie maklik ’n stiefkind soos die Openbare Beskermer maak, maar dis nou die eerste stap.

En sal dit nie heerlik wees as dit nie weer nodig sal wees om oor hierdie onderwerp te skryf nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ethel ·

Ons land beleef n groot krisis md droogte, morele verval en misdaad. Hou op kibbel oor wie is belangriker as d ander. Voor God is ons almal gelyk. Ons ons land terugkeer na God se Woord en d in Woord en daad toepas dan sal die goed automaties uitgesorteer word. Binne is ons almal dieselfde….jou vel is nie wie jy is nie

Kaspaas ·

Dit is moeilik om terug te keer na God toe, as ons demokrasie on-Christelik is – kyk maar na die goed wat alles deur demokrasie op ons kerke afgeforseer word.

elize naude ·

maar wetgewing verhinder nie jou geloof te leef nie…
christene wat geen voorbeeld in hul alledaagse lewe is nie is ń groter hindernis as die regering…

mynhardt beukes ·

Ek wonder nou net of die Zoeloe koning nou in die tronk sou wees as die beoogde wetgewing oor die ” goedpraat van apartheid” reeds op die wetboek was.
Op 7 Desember 2015 het Bongani Hans soos volg in die media gerapporteer oor koning Goodwill Zwelinthini se toesraak in Nongoma.
“King Goodwill Zwelithini praised the apartheid era during an event in Nongoma at the weekend.
The National Party, he said, had built a powerful goverment with the strongest economy and army on the continent but then came the so-called democracy during which black people started destroying the
gains of the past.
The king said that history would judge black people harshly as they had failed to built on the successes of the Afrkaner regime.”

MCS ·

Regtig, ons land staar groter probleme in die gesig as die stupid onderwerp wat al drie dae bespreek word! Plaas het elkeen wat so daaroor stry en baklei eerder op sy kniee gegaan en om vergifnis gepleit by ons Almagtige Vader en gebid vir reen en om daadwerklik integyp in die land!

Loeis ·

Die ANC het 62% setels in die parlement, en sal hulle wet deurdruk want niemand kan dit uitstem nie. Na die DA se reaksie wonder mens of daardie party nie dalk die ANC se wetgewing sal steun nie (nie dat dit ‘n verskil sal maak nie). Die EFF se posisie in die verband is ook duidelik.

Die vraag is dan of sulke wetgewing die toets van die grondwet sal deurstaan. Die grondwet en hoogste gesag van die reg is al wat tussen die ANC en absolute mag staan.

Op daardie noot is opposisie partye al wat keer dat die ANC die grondwet wysig. Mense moet maar mooi dink wanneer hulle later vanjaar hul kruisies trek. Dis ‘n munispale verkissing maar dis waar die mense van grondvlak af gehoor word.

chrisp ·

Herman.

Dankie vir ‘n goeie stuk denke.
Ek is van mening dat hierdie rassistiese ding nooit ent gaan kry solank ons in ‘n reenboog land bly nie.Die probleem is dat rassisme(bee,seb ens) die meerderheid kieser bevoordeel , daarom sal dit bly.Dit is ook die groot rede hoekom die DA al meer links beweeg( hulle soek stemme).Ook hoekom hulle ‘n gewone ou lid(lede) so wil kruisig.

Kom dink nou vir een oomblik wat die grondwet se(ek neem dit uit jou stuk)”Die grondwet verbied immers onbillike diskrimenasie”. Nou is dit mos duidelik hoe belaglik dit is.Ek meen om teen iemand te diskrimeneer, is klaar onbillik of nie?Dit wys net hoe groot die denkers was by die onderhandelinge,en hoe eensydig belaglik hierdie surkis is?

Hierdie hele bestel is in sy murg siek en vrot,om dus voort te ploeter in die gemors is van nul tot genere waarde.Ons , ek in kluis het al meer male argumente gelig waar daar geen teen argument is nie(wat wel besig is om vrugte af te werp is dat”ons”mense in die DA begin wakker word en dis baie verblywend).
Dit help nie meer om met die mense(ANC,DA,EFF)te praat nie.Ons met net begin doen en dit is net hier waar plan B gaan werk.

Winston ·

Herman dankie. Kan net saamstem en ook met Crisp. Rassisme begin nou eers uitkom onder die kombers. Hoeveel keer moet die wang gedraai word? Kerk en politiek hoort nie in dieselfde sin nie. Dan is daar nog n groot verskil tussen gelowige en kerkbywoner ook. Dis nie die laaste keer dat jy hieroor gaan skryf nie. Dit is egter heerlik om n onbedekte openlike stuk te lees. Dankie.

Johann Marx ·

En julle witmense HOOR al die rassistiese opmerkings wat gemaak word as jy en jou vrou of jou blonde blou-oog meisiekind deur ‘n winkelsentrum stap? Julle HOOR al die rassisme as julle by ‘n wegneem-ete se toonbank staan? Julle witmense HOOR al die rassisme as julle by ‘n SAPD kantoor ‘n klag gaan lê? 99% van julle WEET nie wat daar oor en van julle gesê word nie, want julle ken die land se ander tien amptelike tale nie……As julle maar geweet het.

dpjk ·

Dit is opmerklik deur watter eenrigting “mense” na ‘n bepaalde gebeurtenisse kyk.

Ockert ·

Rassisme en diskriminasie teen enige lid van die samelewing is verkeerd maar dit is nog meer verkeerd om net een gedeelte van die nasie te straf en die ander nie. Kom ons hoop die kommissie doen n onpartydige ondersoek.

John ·

Hoe gaan ons howe sulke aanklagte hanteer? Geen landdros of regter sal dit moontlik durf waag om ‘n blanke wat van ‘n rassistiese aksie aangekla word, onskuldig te bevind nie, want dan word hy/sy ook van rassisme beskuldig. Hoe gaan rassisme omskryf word? En wie se taak gaan dit wees om die’ gelaaide term duidelik te omskryf? Kan rassistiese aksies en die’ met ‘n ondertoon ( en wat is dit?) ooit omskryf word sodat daar enigheid bestaan oor wat dit behels?Rassisme is nes ‘n paling in modderwater; mens sukkel lank en raak vreeslik besmeer in ‘n poging om die’ glibberige en stekelrige gevaarte te vang en dan wonder jy self hoekom jy dit gedoen het want niemand anders wil nou daaraan raak nie.

Bul van die Weskus ·

Ek is in 1961 gebore. En ek is wit. Het in ‘n sinkhuis vir ‘n groot deel van my kindweesjare gewoon. My ouers was hardwerkend en het my opgevoed om respek vir andere te hê. Na skool was ek 2 jaar in die SA Weermag en daarna het ek my as ‘n onderwyser bekwaam. Het in 1998 die onderwys (as skoolhoof) verlaat – dit weens die nuwe beleid en leerplanne vir skole. Tans is ek in besigheid wat werk verskaf vir meer as 10 mense. By my werk bruin en swart persone en ek het vir hulle baie agting en respek en ek bewys dit deur my optrede tenoor hulle. Ek het nog altyd gepoog om ‘n verskil te maak in mense se lewens. Was nooit ‘n rassis nie, maar al hierdie nuwe idees en pogings en wette, is besig om my ook rassisties te maak. Ek vrees die dag wanneer die situasie in ons land so gaan word, dat ons nie meer net kan sit en kyk hoe ons in die grond in vertrap word nie. Ek het nog altyd help bou aan die land en sy ekonomie. Ek stop selfs nog by ‘n stopstraat – ‘n rare verskynsel in SA. Ek is ook besig om gatvol te raak en ek sien hoe baie ander loop dieselfde pad as ek.

Johannes Meintjes ·

Dit voel asof al die burgers en kulture van SA nou eers sedert 1994 in ‘n mate sefstandiger begin wakkerskrik en genoop word om vir hulle self te begin dink. Natuurlik is meeste nog naief, en blameer mekaar oor kultuurgrense heen, in plaas daarvan om doelgerig en konstruktief vorentoe te fokus ter stigting en gesamentlike opbou van SA. Maar die gebrek aan leierskap (daar is baie manipulasie) maak dit ook moeilik.

John ·

Bul ek hoop nie jy het al jou tasse gepak om groener weivelde te gaan soek nie. Dit sal baie dwaas wees. Weet jy hoeveel mense begeer ‘n rustige lewe aan die Weskus? Jy voel dalk jy “mis baie uit” in die lewe, maar jy is vekeerd: jy is vreeslik geseend. Die feit is, daar is nerens heen om meer te vlug nie. Suid-Afrika is aan die verander, Europa verander vinnig, so ook Amerika en Kanada. Dan praat ek nie eers van die Midde-Ooste nie. Waar gaan dit beter wees? Selfs die Britte is al gemaan om nie hul landsvlag by hul vensters te vertoon nie, want netnou voel iemand van ‘n ander ras diep seergemaak. Ons, ek inkluis, sal ‘n ander lewenswyse moet vind. Mens word moeg om heeltyd jou hande in die lug te gooi oor wat ander doen. Diegene wat op ‘n afgrond afpyl wil meestal nie gekeer word nie. En nou preek ek vir myself: Dertig jaar na Christus gekruisig is, is Jerusalem verwoes. Hy het dit geweet, maar het nogtans nie die volk aangemoedig om opstandig te raak teen die buitelandse mag wat toe reeds in beheer van die land was nie, maar eerder op hul eie lewenswandel te let. En wie was Sy grootste vyande: Sy eie mense. Geniet jou lewe en wees dankbaar dat jy een van die bevoorregtes is wat jou eie besigheid besit en ‘n rustiger lewe kan voer as baie ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.