Nuuskommentaar: Zuma se Nkandla-eis verstom

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Hierdie nuuskommentaar is nie (heeltemal) die waarheid nie. Klik hier om meer oor die nuuskommentaar uit te vind en te sien watter ander berigte wolhaarstories was.

Die nuus vroeër vandeesweek dat Zuma nie net nié van plan is om die geld waarmee hy vir sy Nkandla-woning onregmatig verryk is terug te betaal nie, maar ’n eis van R250 miljoen weens skade aan die woning teen die staat ingestel het, het die land geskok.

Suid-Afrikaners was reeds ’n paar maande lank bewus van die verval van die veiligheidsomheining wat miljoene rande gekos het, maar die jongste verslag van die departement van openbare werke toon dat dít net die oortjies van die seekoei was en dat die Nkandla-landgoed ’n spookterrein kan word.

Onder die probleme weens konkelwerk en swak beplanning is dat Nandla se sanitasieput die ondergrondse bunkers se mure onwelriekend klam laat word. Die bunkers se vloer en mure is met ’n skelpienk wollerige mat bedek, maar die onwelriekende nat kolle slaan daarop deur. Boonop het die klammigheid die hysbakke na die bunkers beskadig en die hysbakke kan nie gebruik word nie. Omdat van Zuma se huishouding weens gewigsprobleme nie die trappe kan gebruik nie, voldoen die bunkers nie meer aan hul veiligheidoogmerke nie en moet die hoofhuis boonop nou ontruim word weens strukturele probleme.

Die kern van die probleem is dat die hoofhuis en verskeie van die buitegeboue reg bo-op die Alfred Bain-verskuiwingsvlak gebou is. Die huis en strukture is dus ook ontwerp om redelike sterk aardbewings te deurstaan.

Die probleem is dat die verskuiwingsvlak ’n verlening is van die groot Afrikaanse skeurvallei. Dit is waar Oos-Afrika baie stadig van die res van Afrika losskeur. Die verskuiwing was altyd baie stadiger as die kragte wat die groot kontinentale drywing aandryf, maar in 2014 was daar verskeie betreklik groot aardbewings in en om die skeurvallei wat van Malawi, Zambië, Tanzanië tot Uganda voorgekom het. Toetse wys dat die verskuiwing nou aansienlik vinniger plaasvind.

Die ondersoek van openbare werke toon dat die hoofhuis en verskeie buitegeboue by Nkandla reeds ernstige strukturele skade opgedoen het. Die kraak wat deur die swembad of “firepool” loop, moes al etlike kere herstel word.

Hoewel die meeste van die trillings wat met die verskuiwing gepaardgaan te gering is vir mense om te voel, is diere meer sensitief. Sedert die trillings begin het, gaan die varke en hoenders gereeld oorverdowend aan die skree. Dié hokke moet nou ten duurste verskuif word. Dit kan egter eers gebeur nadat besluit is wat met die hoofhuis en ander geboue sal gebeur wat strukturele skade opgedoen het.

Die regsbeginsel waarop Zuma nou die eis teen die staat en dus die belastingbetaler instel, staan in Latyn bekend as domicilium alteram prima Abrilius cocos. Dit kom daarop neer dat die president meen hy ly nou nie net die skade van bedrae wat hy dalk sou moes terugbetaal nie, maar hy ly ook skade ten opsigte van bouwerk wat uit sy eie sak gefinansier is.

Omdat Zuma nie die eienaar van die grond is nie, maar dit aan ’n trust behoort, is daar nie ’n faktor wat sy skade beperk nie. Sou die Nkandla-opset ontruim moet word, is Zuma se skade volkome.

Uit die verslag blyk dit ook dat die Nkandla-hoofweg vinnig verskrummel. Dit sal versnel nadat die helikoptervlugte van die president se vriende en ander gaste na Nkandla, bekend as die jollie patrollie, opgeskort is. Die pad moet dus nou meer verkeer dra.

Die chaos wat nou soveel skade aanrig, is die regstreekse gevolg van ’n gebrek aan kundigheid of ’n moedswillige kansvattery. Hoewel daar regoor die wêreld groot moeite gedoen word om nie geboue of vervoerinfrastruktuur op of oor verskuiwingsvlakke te bou nie, is dit ’n algemene verskynsel om tog sekere strukture juis daar te bou. So ‘n verskuiwingsvlak laat tipies ’n skeur in die aardoppervlak, soos die bekende San Andreas-foutlyn in Kalifornië, maar dit word dikwels deur alluviale afsettings opgevul, of gedeeltelik opgevul. Hierdie sagte bodem is baie aanloklik om swembaddens of sanitasieputte in te bou. Voorverlede jaar het ’n swembad op ’n gasteplaas buite Thabazimbi byvoorbeeld in ’n ommesientjie leeggeloop na ’n ligte aardbewing ’n kraak in die swembad se vloer veroorsaak het.

Verskuiwingsvlakke is nie altyd aan die mensdom bekend nie, veral verskuiwingsvlakke wat miljoene jare gelede reeds dormant geword het. In die VSA het die USGS egter onlangs verskeie navorsingstukke bekend gestel waar ou verskuiwingsvlakke weer aktief geraak het weens versteurings, soos skaliegas-ontginning. Die naskokke stel die wetenskaplikes nou in staat om die verskuiwingsvlakke te karteer. Seker die bekendste voorbeeld is die aardbewings wat weens ontginningspraktyke in Oklahoma voorkom. Ook in Nederland word die gereelde ligte aardbewings in die omgewing van Groningen aan aardgasontginning in die gebied toegeskryf. Projeksies dui daarop dat sulke ligte aardbewings mettertyd kan verhewig. Verlede week het verskeie die aardbewings in Oklahoma voorgekom van omtrent M 5, terwyl dit gewoonlik veel ligter is.

Volgens openbare werke se verslag is dit ook kommerwekkend die bouwerk in die eerste plek gedoen is nadat die uitgrawings verskeie mens-beendere opgelewer het. Kundiges meen die terrein is heel waarskynlik ’n antieke Khoi-San-begraafplaas. Verskeie Khoi-San-groepe het reeds aangedui dat hulle grondeise op die terrein waarop die Nkandla-kompleks geleë is, asook uitgebreide gebiede daaromheen, gaan instel. Van hierdie groepe en individue soos die oud-premier van die Wes-Kaap, Peter Marais, is juis nou op die oorlogspad teen die ANC weens die SAKP se planne om die internasionale lughawe in Kaapstad na Chris Hani te herbenoem. Hulle voel sterk dat indineen die naam verander, dit na ’n Khoi-San-naam moet verander.

Zuma is grootliks self te blameer vir sy Nkandla-teenspoed. Indien hy kundiges aangestel het om met die beplanning en uitvoering te help, kon soveel probleme voorkom word. Baantjies vir boeties wat die pryse gelaai het, het egter  voorrang bo dié kundiges geniet. En as Zuma se eis slaag, gaan ons almal betaal vir hierdie keuses deur ’n president wat nooit ’n president moes wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

anet ·

Herman, dankie dat jy altyd so noukeurig aan ons die Nkandla situasie verduidelik.
Ek stem saam met jou dat dit Zuma se eie skuld is oor die verval van die strukture.
Hy is so behep met homself en sy eie gewin, en spog voor sy vriende met status wat hy eintlik nie verdien nie. Hy ry op die rug van ons belastingbetalers. Hy homself sou nooit sulke hoogtes in sy lewe bereik sonder sy kaders nie

frikkie van eeden ·

gelukkig het ek na die datum gekyk voordat ek my mening wou uitspreek.

Gert ·

Hoop APRILZUMA val in daai riooldam onder sy paleis as dit oopskeur

Gert ·

Of die poo strooiers kan daar gaan leegskep vir hulle gebruik

Henrietta Klaasing ·

Hehehe – – gelukkig het ek die kommentare gelees VOORDAT ek ook my naam @#$ gemaak en die berig verder versprei het! Ek hou baie van die gebruik van die term “jollie patrollie” !

WILLIE DU PLESSIS ·

Dit is nogal ‘n probleem dat in SA daar nie altyd maklik tussen ‘n grap en die werklikheid onderskei kan word nie. Hierdie stuk is nogal heel oorspronklik geskryf. Die oorgewig mense wat nie meer trappe kan klim, asook kleinhuisie putte wat oorloop, klink nogal heel geloofwaardig. Ek sal nie verbaas wees as iemand vir Zuma van Herman Toerien se artikel vertel en dit idees in sy koop aan die gang sit nie. Hy moet een of ander tyd nuwe planne maak om terugbetaling van die geld te stuit.

Herman Toerien ·

Dankie Willie. Al is die storie ‘n Aprilgek-storie, bly dit steeds ‘n nuuskommentaar, waar daar na werklike problematiek verwys word. ‘n Mens kan redeneer oor hoe “diep” of “vlak” ‘n Aprilgekstorie moet wees, maar vir my eie smaak verkies ek die diepere. ‘n Mans moet darem ook leidrade verskaf dat dit nie (heeltemal) die werklike is nie. Ek het die sleutel probeer inbou in daardie “Latynse” aanhaling, en spesifiek die woorde prima Abrilius. Die Bain-verskuiwingsvlak bestaan werklik, maar op die kaart sal dit gewoonlik as in die omgewing van Marion-eiland aangetref word (sommige bronne bring dit tot by die omgewing van Oos-Londen, en maak dit ‘n deel van die Oos-Afrika-skeuring). Die meer waarskynlike is dat die Oos-Afrika verskuiwingsvlak na die Malawi-meer in die rigting van die Mosambiekkaneel uitswaai. Die argitek en ander beplanners het wel na ‘n verskuiwingsvlak in die omgewing van Nkandla verwys, wat die potensiaal het van aarbewings in die orde van 5 te veroorsaak. Ander geoloë wys egter daarop dat KZN self ‘n baie stabiele geskiedenis het, en dat waarskynlik die meeste aardbewings wat in die provinsie gevoel is, elders gegenereer is, soos in Swaziland of Mosambiek.

Jo ·

Wel Herman Toerien, alhoewel hierdie skrywe ‘n “April-gek” geskrif is (knap gedaan, hoor!), moet ek tog se dat daar wel baie waarhede hierin vervat word. Soos bv die “gewigtiges” of “baie duidelikes” wat in die Zuma-huishouding voorkom. Dit sal in elk geval ‘n goeie idee wees en ook uiteindelik in landsbelang, as diesulkes op ‘n streng dieet geplaas word. Nie net sal dit die land se ekonomie ‘n stewige hupstoot gee nie, maar dit sal ook die gevaar van vliegtuie wat kan val agv die oormaat gewig, verminder. Dan ook sal dit ons gesondheidsorg probleem aansienlik help as diesulkes meer gesond eet en leef sodat hulle nie nodig het om dokter (of is dit nou “toor”-dokter) toe te gaan nie. Die hysbakke by Nkandla sal dan ook sommer ‘n paar jaar langer hou….

zahn ·

As daar nie heel bo aan die “berig” aangedui is dat dit nie heeltmal waar is nie, het hier darem nou oorgenoeg poo rondegevlieg om daai vlak putte en goete waarna jy verwys, vir ewig te vul. Lanklaas so lekker gelees. Maak my net bekommerd, as iemand van jou stoffasie sulke strooi kan uitdink, wie skryf nou eintlik zuma se spietse, want dit klink net so ver van die waarheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.