Orania en Mandela deel standpunt

Carel Boshoff, leier van die Orania Beweging

Carel Boshoff, leier van die Orania Beweging

Die Orania Beweging en voormalige president Nelson Mandela het dieselfde standpunt van wedersydse erkenning gemeen, het dié organisasie Vrydag in ʼn huldeblyk aan die staatsman gesê.

“Ons deel die standpunt saam met hom dat wedersydse erkenning eerder as die ontkenning van ons [kulturele en politieke] verskille die basis van konstruktiewe samewerking gaan wees,” het Carel Boshoff, leier van die Orania Beweging, in ʼn verklaring gesê. “Daar was ʼn spesiale waardering vir sy besoek aan en volgehoue belangstelling in Orania en die gesinne van Boshoff en Verwoerd.”

Boshoff het sy medelye betoon aan Mandela se gesin en die Suid-Afrikaners wat hom as ʼn vaderfiguur beskou het. Alhoewel hulle nie dieselfde politieke standpunt gedeel het nie, het Boshoff gesê Mandela se nalatenskap sal vir hom ʼn plek in Suid-Afrikaanse geskiedenis verseker.

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand 5 Desember aangekondig Madiba het omstreeks 20:50 by sy huis in Houghton, Johannesburg, heengegaan.

Vlae in die land sal halfstok hang tot ná die begrafnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sylvia ·

Kry vir jou carl boshoff, ek as onderdrukte blanke boere Afrikaner deel nie jou siening nie. Hy was ‘n bomplanter en terroris, ek hoop jy gaan dit as deel van jou geskiedenis ook onthou.. Tata oraniabeweging lidmaatskap.

Babs ·

Carel, jy is seker die enigste een in Orania wat nou ‘n ander deuntjie sing. Mandela was nie almal se held nie.

Jaco Kleynhans ·

Babs glad nie. Orania kyk vorentoe en nie terug nie. Ons strewe na vryheid in plaas van om die geskiedenis te probeer oorskryf. Dit is die standpunt van die Orania Beweging. Soos wat Mandela vir st mense se vryheid gestry het doen ons dit nou vir ons mense.

Jasper ·

Ek het so bietjie op ander Afrikaanse werwe gaan rond snuffel na die nuus aangekondig is. Uiters tragies hoe ons mense nou te kere gaan en mekaar slegsê. Erger as wat ek van die vyand verwag het.
As dit so gaan, het ons Volk nog n diep drif om deur te gaan.

Elize Mans ·

Ja,Babs,ek stem. Vir die baie Suid Afrikaners was Mandella n Afgod.Nou sal hulle seker terug keer na die God van ware Liefde.Hy was n Moordenaar,en het onskuldige mense dood gemaak,net soos ons onskuldige Boere,Bejaardes en kinders vandag deur hulle wreed vermoor word.

Jaco Kleynhans ·

Sylvia. Dit help nie om geskiedenis te probeer oorskryf nie. Mandela het aan Orania erkenning verleen en ons sal dit aanwend in ons strewe na selfbeskikking. Om Mandela name te noem lewer geen bydrae tot ons vryheidstrewe nie.

Carel Boshoff ·

In vertroue dat ‘n genuanseerde standpunt te midde van emosionele ophef tóg gehoor kan word, lig ek die bostaande, kort opsomming van ‘n weldeurdagte standpunt ‘n bietjie toe.

Mnr Mandela was ‘n waardige teenstander eerder as ‘n vriend – waardig omdat hy hom doelgerig op sy strewe toe gelê het en persoonlik met grasie opgetree het; teenstander eerder as vriend aangesien ons aan verskillende kante van ‘n diep verdeling gestaan het. Dat hy ‘n sleutelrol in die gewapende stryd teen die destydse Suid-Afrikaanse staatsorde gespeel het, is ‘n gegewe en dit word deur baie Afrikaners teen hom gehou. Die vraag is egter of daardie selfde Afrikaners nie juis dié is wat hulle gereedheid om dieselfde te doen hoog en laag verkondig nie.

In Orania wil ons dié negatiewe spiraal deurbreek deur selfbeskikking in werking te stel, dalk meer vir ons vryheid te doen as mede-Afrikaners wat graag stoom afblaas, maar hulle dan weer in praktyk in hulle onderhorigheid berus. Vanuit die werklikheid wat ons besig is om te skep, doen ons alles wat ons kan erkenning daarvoor te verwerf, soms van onwillige teenstanders. Geleenthede soos mnr Mandela, pres Zuma, ens. se besoeke aan Orania is voorbeelde daarvan en ons gebruik dit om ruimte vir groei sonder onnodige konflik te skep.

Ons vryheid sal nie by wyse van blinde verset sonder om die heersende magsbalans in aanmerking te neem, herstel word nie; ons vryheid kan net herstel word as ons eers die praktyke van vryheid in ‘n vrye gebied vestig. Dit is ‘n benadering wat nie op wrewel of haat gebou is nie, maar op wedersyde erkenning – en dis nou van erkenning: Jy kan nie daarop aanspraak maak as jy nie ook bereid is dit te verleen nie.

Respek aan ‘n gevalle opponent, tel ook nie teen mens nie. Inteendeel.

Dr Mushavi ·

Realiteit hang af van waar jy daarna kyk, so daar was baie tye in Mandela se lewe waar hy anders na dinge gekyk het as ander, so ek aanvaar dit so sonder om dit te kritiseer. Ek dink die ANC van vandag moet ‘n ander naam kry, iets soos New ANC of Post Mandela ANC.

Willem van As ·

Ek dink dit is baie mooi kort en kragtige verklaring deur die Orania Beweging. Fokus op ‘n positiewe raakpunt en is glad nie onnodig antagonisties nie. Ek weet ook nie hoe iemand ‘n ophemeling van Mandela hierin kan raak lees nie. Ek gaan beslis nie my Orania lidmaatskap kanselleer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.