Pa en seun met plofstof en vuurwapens gevang

‘n Pa en seun is Vrydag in hegtenis geneem nadat ‘n verskeidenheid plofstof, vuurwapens en ammunisie by hul huis in Waterfall, Hillcrest, naby Durban, opgespoor is.

“Drie trommels vol handwapens, R5 en .303-vuurwapens, verdowingsgranate, teenoproer-traangas en beligtingsfakkels is opgespoor,” het kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die bomeenheid en speurders deursoek die toneel om enige verdere wapens en die oorsprong van die wapens te bepaal,” het hy gesê.

Die polisie was op soek na dokumentêre bewyse in ‘n bedrogondersoek toe hulle op die wapens afgekom het. Die soektog is verskerp toe hulle op drie M26-handgranate in ‘n kluis afgekom het. Twee mans, onderskeidelik 26 en 57 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Pinetown verskyn op aanklagte van die onwettige besit van plofstowwe, vuurwapens en ammunisie.

Na verwagting sal die polisie nog persone in hegtenis neem. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.