Pa wat dogter per ongeluk skiet: strafbaremanslag-saak geopen

Edith Boshoff (8)

Edith Boshoff (8) Foto: Beeld

‘n Saak van strafbare manslag is geopen nadat ‘n pa van Centurion, Glenn Boshoff, Vrydagoggend per ongeluk sy 8-jarige dogtertjie, Edith, tydens ‘n inbraak in hul huis doodgeskiet het. Na gelang van die ondersoek sal die direkteur van openbare vervolging besluit of Boshoff vervolg sal word, het Luitenant-Kolonel Lungelo Dlamini van die polisie gesê.

Dlamini sê niemand is nog vir die inbraak in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek die voorval.

Boshoff het vroeg Vrydagoggend wakker geword van ʼn geraas in hul huis in die Winter Cherry-kompleks in Gloverlaan, Centurion. Hy het na die grondvloer van die huis gestap, waar hy sowat ses inbrekers betrap het. Een van hulle het na bewering ʼn vuurwapen op hom gerig.

Boshoff het na die boonste vloer van die huis gehardloop, die deur toegeklap en vir sy vrou, Adelé, geskree om die vuurwapen uit te haal.

Die paartjie se 8-jarige dogtertjie, Edith, wat ʼn leerling aan die Laerskool Hennopspark was, het van die geraas wakker geword en na haar ouers se slaapkamer gegaan.

Toe Boshoff ʼn geluid by die deur hoor, het hy ʼn skoot deur die deur afgevuur en Edith, of Edie, soos mense haar genoem het, in die kop getref.

Die rowers het intussen gevlug.

Die gesin het met Edith na Unitas Hospitaal gejaag, waar sy in die intensiewesorg-eenheid opgeneem is. Sy is egter later die dag oorlede.

Dit lyk asof die elektriese heining om die kompleks moontlik af was, aangesien daar tans in die kompleks gebou word. Daar word tans gesoek na die sowat ses rowers wat met net ʼn handsak gevlug het.

Edith se gr 2-klasmaats is Vrydag van haar dood in kennis gestel.

“Wat ’n pragtige kind. Hier is meer as 1 600 kinders in die skool en ek ken nie almal nie, maar vir Edi het ek gekén. Sy het Woensdag nog na my kantoor gekom om met haar mooi klaswerk te kom spog en ek het nog vir haar ’n goue plakker gegee as beloning. Dit was bitter swaar om vir haar maatjies te sê wat gebeur het. Ons gaan haar verskriklik mis,” het Jannie Raath, hoof van die Laerskool Hennopspark in Centurion, aan die dagblad Beeld gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hans van Gulik ·

Ouwens is lankal gestraf. En die rest van hulle lewe . Sterkte!

Natie Ferreira ·

Baie sterkte Glenn..Die monsters sal heelwaarskynlik nooit aangekeer word nie terwyl die mat onder jou voete uitgepluk was. Vasbyt en ek glo die Here sal jou berusting gee op Sy tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.