Pa word vergoed toe polisie hom nie oor sy seun se afsterwe inlig nie

Roelof van der Merwe (52) van Faerie Glen in Pretoria sal vergoeding ontvang van die polisie nadat hulle versuim het om hom in te lig dat sy seun se liggaam opgespoor is.

Die hooggeregshof in Pretoria het ‘n bevel toegestaan aan Nathi Mthethwa, die minister van polisie, om Van der Merwe te vergoed vir die angs wat hy ervaar het. Hy is eers vyf jaar nadat sy seun as vermis aangemeld is, ingelig dat sy seun se liggaam opgespoor is. Kragtens die ooreenkoms het Mthethwa aanspreeklikheid aanvaar vir die angs wat Van der Merwe moes verduur.

‘n Siviele hof sal bepaal wat die bedrag sal wees wat Van der Merwe van die polisie sal ontvang. Van der Merwe eis R800 000 vir sy emosionele angs, trauma en die koste wat hy moes aangaan om sy seun op te spoor.

Volgens hofstukke het Van der Merwe glo sy 23-jarige seun, Andries, se verdwyning gaan aanmeld nadat hy vir die laaste keer op 27 April 2005 by sy huis in Alberton-Noord opgemerk is. Hy is aangesê dat dit te vroeg is om sy seun as vermis aan te meld, maar toe sy seun steeds nie opdaag nie, het hy hom weer as vermis gaan aanmeld en toe ‘n verwysingsnommer bekom.

Van der Merwe het die verwysingsnommer gebruik wanneer hy navraag gedoen het by die polisie, maar is elke keer gesê dat daar nog geen nuwe inligting beskikbaar is nie.

Eers in Desember 2009 het beamptes hom meegedeel dat sy seun se liggaam op 29 April 2005 in Sunnyside in Pretoria opgespoor is, en dat ‘n saak van moord geopen is. Die polisie in Sunnyside het aan hom gesê dat die verwysingsnommer vir vermiste persone, wat hy ontvang het, nie bestaan nie.

Van der Merwe sê die onsekerheid wat aan sy seun se verdwyning gekoppel is het hom noemenswaardige pyn, lyding en emosionele trauma besorg en hy moes in ‘n psigiatriese hospitaal opgeneem word vir depressie en post-traumatiese stres.

Hy beweer die polisie was nalatig deur geen poging aan te wend om uit te vind of sy seun as vermis aangemeld is nadat sy liggaam opgespoor is nie. Hy eis nou vergoeding vir sy vorige en toekomstige psigiatriese behandeling en sielkundige berading.

Hy dagvaar die staat ook vir die geld wat hy op reis, telefoonoproepe en privaatspeurders spandeer het in ‘n poging om sy seun op te spoor.

Die minister van polisie moet ook Van der Merwe se regskoste betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.